Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
B-klas skud veeldoeler-beeld af

Dit was ’n besonderse bekendstelling; die een vir Mercedes-Benz se nuwe B-klas . . . Geheel virtueel aangebied, het ek daarna geluister en gekyk op die inligtingskerm van ’n mededingende vervaardiger se motorproduk, met my slimfoon wat klank en beeld daarheen stroom.

Hoewel ek al oorsese virtuele bekendstellings “bygewoon” het, was dit die eerste keer in Suid-Afrika – en aanbiedingsgewys en tegnologies gesproke ’n sukses.

Dog, synde dat als kuberruim-gebonde was, kan ek wel die inligting deel, maar geen ry-indrukke nie.

Mercedes-Benz se nuwe B-klas is nou hier beskikbaar met ’n keuse van diesel- en petrolkrag. Foto: Mercedes-Benz SA

Die B-klas is egter in wese net ’n groter, ruimer weergawe van die A-klas, en daarom kan ’n mens aanneem dit sal dinamies baie dieselfde reageer. Ons sal maar wag vir ’n toetsmotor om dit te bepaal . . .

Die B-klas is in 2005 as ’n kompakte weelde-veeldoeler bekend gestel, maar met die mark wat al hoe verder van MPV’s weggedryf het, word dit deesdae as ’n sport-toermotor (Sports Tourer) bemark.

Wat ook al sy beskrywing, die eerste twee geslagte van die B-klas was só gewild (meer as 1,5 miljoen is al verkoop) dat dit aartsvyand BMW genoop het om vir die eerste keer in sy byna eeu lange bestaan ’n voorwielgedrewe model bekend te stel.

Die binneruim van die nuwe B-Klas is weelderig en smaakvol uitgevoer en het verskeie bestuurshulpstelsels. Foto: Mercedes-Benz SA

Die 2-reeks Active Tourer – gegrond op ’n Mini-onderstel – is spesifiek as teenvoeter vir die B-klas ontwikkel en is in 2014 bekend gestel.

En hoewel dié model die volgende jaar in Suid-Afrika bekend gestel is, het BMW dit in 2017 weens swak verkope aan die plaaslike mark onttrek.

Die B-klas het intussen ook verkope ingeboet, maar selfs in ’n krimpende veeldoeler-mark het Stuttgart nog goeie hoop vir sy geheel nuwe model wat verlede jaar die eerste keer vertoon is op die Parys-motorskou.

Die luginlate van die nuwe B-Klas het turbine-vorms,Foto: Mercedes-Benz SA

Meer sportief?

Volgens Mercedes-Benz vertoon die nuwe B-klas meer sportief as sy voorganger en is dit ook soepeler op die pad, en ruimer binnekant. Hoewel g’n oordeel oor die padratsheid moontlik is nie, meen ek die bussie-agtige nuweling trek steeds sterk op die vorige model.

Die enigste werklike onderskeid is die skoner “gelaatslyn” op sy flanke, wyl die opsionele LED-hoofligte en -dagryligte, tesame met die opgedateerde sierrooster, visueel meer aantreklik is. Agter word die wydte van die ryding deur verdeelde agterligte, ’n groot dakdrukvlerk en nuwe agterbuffer met chroom-insetsels versterk.

Die grootste verskille is egter binne. Wyl die uitleg wesenlik dieselfde as sy nuwe A-klas-kleinboet s’n is, vloei die B-klas se instrumentpaneel aaneenlopend met twee uitsnydings voor die bestuurder en voorste passasier. Die vrystaande wyeskerm-inligtingseenheid het twee 10.25-duim-beelde vir onder meer die instrumentasie en media­stelsel.

Spesifikasies: Mercedes-Benz B-klas B200 / B200d

Enjin: Gelid-viersilinder, turbopetrol / gelid-viersilinder, turbodiesel

Verplasing: 1 991 cc / 1 950 cc

Krag: 120 kW @ 3 400-4 000 r/min / 110 kW @ 5 500 r/min

Wringkrag: 250 Nm @ 1 620-4 000 r/min / 320 Nm @ 1 440-3 200 r/min

Ratkas: 7-gang-outomaties / 8-gang-outomaties

Verbruik: 5,7-5,2 liter/100 km / 4,5-4,2 liter/100 km

CO2-vrystellings: 131-124 g/km / 119-112 g/km

Pryse: R526 900 / R559 100

Die aanpasbare MBUX-multimediastelsel het uitstekende grafika, “Hey Mercedes”-stembeheer, ’n standaard-raakskerm en funksies soos MBUX-toegevoegde werklikheid (augmented reality).

Soos in die A-klas het die vyf ronde lugopeninge ’n turbine-afwerking wyl die middelkonsole met skakelaars ’n swart paneel soortgelyk aan dié in die C-klas het. Die stemmingsbeligting is in 64 kleure en tien kleurskemas beskikbaar en die sogenaamde Energizing-sitplekke is platter, en dus meer gemaklik, met ’n groter verstellingsafstand.

Hierdie verbeterde sitplek-geometrie gee die B-klas nou 33 mm meer ruimte tussen passasiers, en die bestuurder sit 90 mm hoër as in die A-klas. Ook kan die pak-ruimte beter benut word, danksy ergonomiese verbeteringe, en met al die agtersitplekke afgeslaan, is daar 1 540 liter se pakplek beskikbaar. ’n Elektriese Easy-Pack-agterluik is ook opsioneel beskikbaar.

Intelligente bestuurshulpstelsels

Ook soos sy A-klas-kollega is die nuwe B-klas met opsionele bestuurshulpstelsels toegerus wat van die S-klas afkomstig is, insluitende aktiewe afstandbeheer (Distronic), aktiewe noodremming en aktiewe baanwisselhulp.

En die virtuele bekendstelling plaaslik was skaars verby toe Mercedes-Benz internasionaal aankondig dat die A- en B-klas, as deel van sy EQ-strategie, van aanstaande jaar ook inprop-hibriedmodelle – die A250e en B250e – gaan kry.

In Suid-Afrika is die B-klas aanvanklik net met twee enjinkeuses – ’n diesel en petrol – beskikbaar, maar ander enjinkombinasies, asook vierwieldryf-4Matic-modelle, sal later volg.

Die nuwe, kragtiger, dwarsgemonteerde OM 654-viersilinder- turbodiesel van 2 liter in die B200d-model lewer 110 kW en 320 Nm wringkrag, wyl die M282-reeks se petrolenjin van 1.33 liter in die B200 120 kW en 250 Nm se wringkrag gee.

Die dieselenjin is gekoppel aan ’n agtgang-8G-DCT wyl die petrolmeul die voorwiele deur ’n sewegang-DCT aandryf.

Die nuwe Mercedes-Benz B-Klas is nou beskikbaar met ’n keuse van diesel- en petrolkrag. Foto: Mercedes-Benz SA
Meer oor:  Mercedes Benz  |  Nuwe Model  |  B-Klas  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.