Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Baba-GS voel gedug, maar daardie prys . . .

Ons ry BMW se nuwe GS. Bun Booyens gee sy indrukke.

Die F750 GS en F850 GS is dieselfde fiets, maar die 850 is ’n volwaardige veldfiets. Die 750 is vir teer- en grondpaaie.

In 1980 het veldfietse twee groot oomblikke beleef. Die eerste was in die James Bond-fliek For Your Eyes Only waar twee boewe op Yamaha XT 500’s vir 007 (op ski’s) deur ’n pragtige sneeulandskap jaag. Bond het weggekom, maar hier kon jy sien watter verruklike plekke jy met ’n doodgewone eensilinder-thump­er (minus die ingeboude masjiengeweer op die stuur) kon bereik.

Die tweede was toe BMW besluit het om ’n paar verstellings aan sy immergroen “bokser”-padfiets te maak sodat dit aan die Parys-Dakar-tydren kon deelneem. Dit was ’n ongewone skuif – veldfietse was veronderstel om lig en rats te wees – maar in 1981 wen hierdie BMW 80 GS (vir “Gelände/Strasse” oftewel “terrein/straat”) die Dakar, en toe weer in 1983, 1984 en 1985.

Skielik was ’n veldfiets nie meer bloot ’n scrambler nie, maar ’n avontuurfiets, een waarmee jy nie net grondpaaie kon ry nie, maar wat jou ook met gemak met die grootpad daarheen kon neem. Die mark vir dubbeldoelfietse is gebore.

’n Netjiese skermpie met digitale beelde wys nou al jou ritinligting.

In die 40 jaar sedertdien het BMW hom sistematies in hierdie leefstylsegment ingegrawe, in 1993 met die heerlike klein eensilinder-Funduro, wat in 1999 ontwikkel is tot die gewilde 650 cc Dakar. Tien jaar gelede het hulle die middelste deel van die mark betree met die tweesilinder- F800 GS, en in die swaargewigafdeling het die BMW-boksers koning gekraai, veral ná Ewan McGregor en Charley Boorman se TV-reeks Long Way Round in 2004 oor hul agterpadtoer van Londen na New York op BMW 1150 GS’e.

Deesdae wemel die mark van avontuurfietse – die Suzuki V-Strom 1000, Honda se bewese Africa Twin, die hardebaard-KTM’s en die groter Yamaha Super Ténéré en BMW GS 1200 (’n 1250 GS is vroeg volgende jaar hier).

Waar pas die nuwe BMW F750 GS en F850 GS dus in? Uiteraard net onderkant die “Klub 1000”-fietse. Die eintlike vraag is of iemand bereid sal wees om amper R200 000 vir die BMW F850 te betaal as hy, sê maar, ’n Africa Twin vir R20 000 of R30 000 goedkoper kan kry. Of gaan mense dalk eerder ’n kleiner KTM kies, want BMW het nie meer ’n veldfiets in die 600 cc-segment nie?

Die tyd het geleer dat BMW-liefhebbers die BMW sal koop, veral omdat jy die gemoedsrus van ’n puik diensnetwerk daarmee saam kry. Die scenario wat dan oorbly, is dat BMW op die ou end eintlik met homself kan meeding: dat iemand hierdie 850 teen R200 000 gaan koop eerder as die nuwe 1250-bokser teen, waarskynlik, R270 000 of hoër.

Watter een jy ook al kies, jy kry gehalte en gemak op die langpad, op teer én grond. Kry jou vir koffie by die Tankwa- padstal!

Soek jy een? Lees dan hier

Wat is die verskil tussen die F750 GS en F850 GS?

Dis basies dieselfde 850 cc-fiets. Die 750 is ’n teerpadfiets waarmee jy ook grondpad kan ry; die F850 GS ’n volwaardige veldfiets met die enjin lewendiger gestel, plus knoppiesbande, ’n skermplaat en elektroniese veldryverstelling.

Hoe verskil dit van die vorige F800 GS-model?

Dit is in sy geheel ’n nuwe fiets met ’n nuwe enjin, buisraam en “slim” vering. Al die hoërgraad-tegnologie is daar (ABS, stabiliteitsbeheer, Bluetooth en dies meer). Die opvallendste verskil is waarskynlik dat die petroltenk nie meer onder die sitplek is nie.

Eerste indrukke? Jy sit regop en lekker hoog, maar korter ryers het tydens die toetssessies nie gesukkel om hul voete op die grond te plaas nie (jy kan ook die sitplekhoogte verstel). Die rit is lewendig en die ratwisseling opvallend glad. Die remme is beduidend beter as sy voorganger s’n.

In die verkeer? Tydens die toetsrit het ons lang ente in spitsverkeer gery (welkom in Kaapstad, almal). Die fiets hanteer flink, met sterk wringkrag in die hoër ratte. Die koppelaar is lig en niks is rukkerig nie. Jy kan beslis met die fiets pendel.

Oop pad? Heerlik. Jy versnel binne ’n oogwink van rondom 60 tot 120 km/h en ry moeiteloos, selfs met die wind van voor, met verbasend min windgeruis vir ’n fiets met ’n relatief klein windskerm.

Grondpad? Draai maar die hond se oor. Die F850 het knoppiesbande en ’n elektroniese verstelling (Enduro Pro). Die 21 duim-voorwiel help met stabiliteit.

Ritrekenaar: Lekker groot skerm (16 cm), maar darem nie heeltemal ’n Spur-spyskaart nie. Alle inligting duskant jou bloedgroep is beskikbaar. Belangrik: Selfs al is die skerm onder ’n stoflagie kan jy als steeds duidelik sien. Dit is ook maklik om verstellings in die ry te maak. Trek net die koppelaar in en druk ’n knoppie om oor te skakel na bv. “Road”, “Rain” of “Enduro Pro” (lg. net op 850-model).

Brandstofverbruik: Ná sowat 300 km het my ritrekenaar 5,1 liter gewys. Die tenkafstand is rondom 300 km. ’n Jammerte hulle het nie plek gemaak vir daardie ekstra liter of twee nie, want die Tankwa is wyd.

Klein goedjies? As jy jou fiets eers met die sleutel “geaktiveer” het, kan jy dit die res van die dag met net ’n knoppie aan- en afskakel, mits die sleutel binne ’n paar treë van die fiets bly. Humeure gaan opvlam as jou rymaat per ongeluk padgee met jou sleutel.

Meer oor:  Motorfiets  |  Motors  |  Toetsbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.