Dit was ’n dapper skuif van Isuzu om reeds in sy eerste jaar as onafhanklike vervaardiger in die land die gedugte sportnuts-segment met sy nuwe MU-X aan te vat.

Ons het Isuzu se fris MU-X heel geniet, al het hy hier en daar ’n lastigheid. Foto: Marnus Hattingh
Daar is oral sportnutse, maar hierdie sandput vir hardebaard-veldryvoertuie waarin die MU-X hom begeef het, word heeltemal deur die gewilde Toyota Fortuner oorheers.
Goeie mededingers soos die Ford Everest en Mitsubishi Pajero Sport boks selwers al ’n rukkie teen die Fortuner, maar kom nie naastenby naby sy verkoopsyfers nie. En dis glad nie omdat hulle soveel swakker voertuie is nie. Inteendeel.
Wat het ons hier?
Daarom moet ’n mens die hoed vir die nuwe MU-X lig. Maar, bygesê, die MU-X is darem ook nie so nuut nie. Dis eintlik dieselfde voertuig as die destydse Chev Trailblazer, nou net met ’n nuwe binneruim, enjin en ratkas.
Die MU-X is nes die ander voertuie ook ’n groot sewesitplekker en op ’n bakkie se onderstel, in hierdie geval die KB-reeks, geskoei. Die MU-X het egter die KB se bladvere agter vir ’n meer gesinsvriendelike veelskakel-opset verruil.
Lig op die enjinkap
Waar die Trailblazer ’n moderne 2.8-liter-turbodiesel gehad het, ry die MU-X vandag met die Isuzu-groep se 3.0-liter-turbodiesel. Kleiner, maar nie so lewendig en fluks in sy verrigting nie.
Dit is straks die achilleshiel van die MU-X – as Isuzu ’n moderner enjin kan vind, sal dit wondere vir die voertuig verrig. Soos dit nou staan, moet hy egter kompeteer teen sowel die Fortuner as Pajero Sport, wat hom klop (sien kassie).
Plaaslik kan ons uit ’n 4x2- en ’n 4x4-model kies, maar albei is met dieselfde enjin toegerus, asook ’n sesgang- outomatiese ratkas. My toetsmotor was die agterwielgedrewe 4x2-model.
Luuks uitgerus
Ondanks die feit dat die 4x2-model die goedkoop knaap in die gesin is, spog hy steeds met ’n hele paar luukses. Almal kry byvoorbeeld die groot raakskerm (kleur) wat al jou nutsfunksies beheer, en dit bied onder meer ook ’n satnav-funksie. Die stelsel kan ook koordloos met jou slimfoon (Apple of Android) verbind word.
Ek het ook gehou daarvan dat ’n tru-kamera standaard ingesluit is, want hierdie waens is groot en agteruitry in nou spasies is uitdagend.
Swart leerbekleedsel is standaard, en op die stuurwiel is skakelaars om die radio en spoedbeheer te reguleer. Die toegang is ook sleutelloos – jy kan jou sleutel in jou broeksak hou vandat jy naderstap tot jy hom aansit. Dis baie gerieflik.
Ander praktiese nuttighede sluit in die afsonderlike lugopeninge agter met eie skakelaars vir verhitting, en die donker getinte vensters vir ekstra privaatheid. ’n USB-sok vir jou slimfoon of musiekspeler is ook voor en agter aangebring.
Die heel agterste twee rugleunings vou maklik plat, maar ek meen dat die laaivloer ietwat hoog is. Dit is dalk ’n meer praktiese opsie om die sitplekke uit te haal.
Trap die lepel
Jy sit lekker hoog in die MU-X en danksy die groot raakskerm op die paneel is die instrumente voor jou relatief modern.
Met die aansit hoor jy egter die dieselenjin, wat jou aan sy wortels herinner.
Op die oop pad draf die MU-X gemaklik, en die wind- en padgeraas is taamlik gedemp.
Op ’n sinkplaatpad absorbeer die 16-duimers als wat na hul kant gegooi word, en die kajuit voel teen enige spoed stewig en solied.
Die ouer enjin hou egter nie van die kombinasie van die twee ton gewig en lae wringkrag-lesing nie. Verbysteek op vaart verg beplanning. Op ’n grondpaadjie het hy viervoet gevoel en die grondvryhoogte (23 cm) is ook meer as voldoende.
Stof tot stof
Die nuwe MU-X is ’n stewige veldryer met min fieterjasies. Sy afwerkings binne is netjies en prakties en die rit heel aangenaam. Sy meganiese tegnologie is weliswaar nie so modern soos dié van sy mededingers nie, maar vir Isuzu-ondersteuners sal hy soos stroop op witbrood smaak.
Prys: Isuzu MU-X 4x2 (out.) – R568 000.