Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Berei só voor vir die lang rit

Vanjaar se Kersvakansie lê om die draai en dis tyd om jou vakansiereis te beplan. Egmont Sippel gee ’n paar wenke.

Foto:

Vakansietyd? Wonderlik. Want wat’s dan nou lekkerder as om die skoene uit te skop en vir ’n week of drie niks te doen nie, buiten braai en afkoel?

En daai vakansie begin as die kantoordeur vir die laaste keer in 2019 agter jou toeklap.

Of nie? Want buiten vir hulle wat met Jan Tuisbly se karretjie ry, is daar nog reise wat voltooi moet word, dikwels per pad, van een landsuithoek na ’n ander.

Teen ’n gemiddeld van 100 km/h gaan die 570 km van Johannesburg na Durban jou amper ses uur agter die stuur besig hou en vir die 1 400 km van Johannesburg na Kaapstad kan jy op ’n minimum van 14 uur reken.

Pasop ook vir daai gebruiklike spietkop in die veld ’n goeie klompie kilo’s buite Colesberg, aan die Kaapse kant, en vir die kamera net buite Richmond.

Hier’s egter die punt: Die vakansie begin eers as jy veilig by jou bestemming aangekom het. Benader dus jou reis met erns.

Voorbereiding

Sorg byvoorbeeld dat jou motor gediens is. Dat die remme en reënveërs lekker werk. Dat die voorruit kraakloos is. Dat albei kopligte op domp én hoofstraal ordentlik skyn. Dat rem- en flikkerligte spiekeries is; ditto vir wat jy ook al sleep, soos ’n waentjie of woonwa.

Gaan die bande en banddruk na, die spaar s’n ingesluit (en maak seker jy’t die nodige vir ’n wiel-omruiling, byvoorbeeld moersleutels en domkragte, plus ’n waarskuwingsdriehoek). Vervang einste bande as die groefdiepte vlakker as 1,6 mm is. Verslete bande is uiters gevaarlik in noodsituasies, as jy hard moet rem of uitswaai, om nie eens van nat paaie te praat as die bande sukkel om, via hul groewe, genoeg reënwater te verplaas sodat die rubberloopvlak in kontak met die pad bly nie.

Water waarop jou motor moontlik kan ski is boonop nie die enigste waaroor jy jou moet bekommer nie. Die enjin se olie- en watervlak is eweneens van kritieke belang en dis ’n goeie idee om – nes met brandstof – op te vul vóór jy vertrek (die hulsel vir voorruitsproeiwater ingesluit) omdat jy nie pas ná jou vertrek weer vir hierdie dinge wil stilhou nie, juis omdat almal moeër en moeër raak hoe verder jy ry.

Jou eerste skof, terwyl almal nog vars is, moet dus die langste van die dag wees. Huiswerk oor moontlike stilhou-, rus- en hervulpunte is dus nodig. Maak vooraf seker van jou roete, die paaie en hul kodes, die afstande en oornagplekke.

En as jy nog nie vir laasgenoemde bespreek het nie, doen dit nou!

Pak ook vroegtydig en onthou dat daar altyd iemand is wat nóg iets op die laaste oomblik wil inpas – “dieflipweetwaardinkjy”-tassie. Moet net nie die medisynetassie opoffer nie, en vul hom vooraf met basiese noodhulp-staatmakers soos pleisters, ’n paar verbande, ’n skêr en pille vir hoofpyn, hooikoors en ’n omgekrapte maag – om nie van ’n flits te vergeet nie.

Buiten iets wat maklik hanteer soos ’n stuk biltong of droëwors is dit nooit ’n goeie idee om agter die stuur te sit en eet nie, maar hou ieder geval ’n klam lappie byderhand, want dis rasend irriterend om ’n taai of vuil stuurwiel te hanteer.

Nog nodige items op jou nagaanlys is goete om die kinders mee besig te hou. Die laaste ding wat ’n moeë bestuurder wil hanteer, is insittendes wat baklei. Die tweede laaste ding is pesvrae soos “hoe ver nog?” of “Pappa, wanneer kom ons daar aan?”

Op die pad

As daai soort vraag al in Bloemfontein begin terwyl jy Kaap toe mik, kan die res van die reis hel raak. Juis te meer rede om dikwels te stop, sodat almal bene kan rek en die siel kan lawe.

Vir die bestuurder(s) is daar nóg ’n rede: om die slaap te breek en te begrawe. Want onthou: As Klaas Vakie eers toeslaan, gaan jy hom níé verdryf deur jou gunsteling-musiek op volle volume te speel of jou kop soos Wagter s’n by die venster uit te hang nie.

Hou dus onmiddellik stil as die eerste korreltjies slaapsand saadskiet.

En wees, wat die res betref, bedag op die pad en ander gebruikers, op verkeerstekens en veral gevaartekens, en ry met een oogmerk bo alle ander: om veilig aan te kom.

Wees dus bedagsaam, trek in die geel lyn oor as iemand wil verbysteek en doen laasgenoemde self net as dit waarlik veilig is, maak nie saak hoe jou geduld deur stadige verkeer beproef word nie.

Bestuur is maklik as jy genoegsaam konsentreer en fokus en antisipeer, wat jy net vir lang tye kan doen as jy uitgerus is en wakker bly.

Kry dus die kleingeld of kaarte vir tolhekke vooraf reg; ditto vir petrolkaarte of kontant en, bowenal, jou rybewys.

Pons ook die nommer van jou gekose padbystanddiens in jou selfoon sodat jy in kontak kan bly, sou jy moeilikheid langs die pad optel.

En rus vooraf. Want onthou: Die vakansie begin eers sodra jy die harde padwerk fyn gekou het.

Meer oor:  Motor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.