Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
‘Biedie-biedie, kom ek help jou ’n nuwe motor soek’

Moeg daarvoor om te moet wag dat iemand by die werkwinkel-ontvangstoonbank jou help?

Geen probleem, sê Hyundai, en stoot sy nuwe robot, wat soos ’n vyfjarige peuter lyk, na vore. Met die effens vreemde naam van DAL-e (dit staan vir “Drive you, Assist you, Link with you-expe­rience”), wat ons vermoed jy “Dallie” uitspreek, hoop Hyundai se grootbase in Seoel die dae van onvriendelike personeel by die ontvangstoonbank is iets van die verlede.

Voortaan sal Dallie die vriendelike robot jou groet, na jou vrae luister (en dit beantwoord, in volsinne) en jou selfs om ’n nuwe voertuig begelei en nuttighede oor die lugversorging meedeel.

Dallie, sê Hyundai, is die ontvangspersoon van die toekoms.

Gaan loer selfs in sou jy laataand wou gaan bande skop.

Hyundai se nuwe peuter-groot robot genaamd DAL-e is die ontvangs-dame van die toekoms. Nee, sy kou nie verveeld aan haar kougom nie.

Die heuphoogte robot met sy menslike voorkoms (daar’s ’n gesig met LED-oë, pofferarms en wiele as bene vermom) moet eers vir ’n paar maande by Hyundai se hoofkantoor sy vakleerlingskap aflê alvorens hy na ’n handelaar uitgeplaas kan word. Net om die laaste plooie in die selfpraatstelsel te monitor, vermoed ons. Of dat Dallie nie ’n stoute antwoord op ’n stoute vraag gee nie.

Persoonlike interaksie in die vertoonlokaal was nog altyd een van die motorhandel se grootste sterk punte om ’n voertuig te verkoop. Maar dit kan ook ’n tweesnydende swaard wees as die persoon aan diens – verkope of agter die ontvangstoonbank – nie in ’n goeie bui is nie. Wat ons almal al beleef het.

Om dié wisselvalligheid uit te skakel en altyd ’n eenvormige, vriendelike boodskap en ervaring aan klante te bied, het Hyundai hierdie robotmannetjie gebou. En hy is versigtig optimisties Dallie gaan ’n wenner wees. Die rede?

Daar kan 1 000 Dallies gebou en oor die wêreld heen gestuur word.

Pas net die sagteware aan en Dallie kan van Bothaville tot Brussel die lof van die Tucson besing. Of geduldig luister na jou klagte oor swak diens.

Die robot is toegerus met die jongste gesigherkenningstegnologie en kunsmatige intelligensie, wat selfleer insluit. Dit verstaan volsinne en kan in volsinne antwoord, sê die Koreane. Of jou met ’n gebaar in die regte rigting stuur.

’n Handelaar kan Dallie ook bloot net gebruik om die jongste inligting oor ’n voertuig mee te deel. Of, sou hy wou, in nouer kontak met klante, as ’n probleemoplosser. Daarvoor kan jy óf ’n vraag vra óf op die raakskerm op sy bors ’n boodskap tik.

Dit mag dalk ’n aanpassing wees om met ’n voorbarige robot wat skaars by jou bobene kom, ’n gesprek oor jou stukkende waterpomp te voer. Maar vir eers is ons die meeste verlig Hyundai het die naam na DAL-e verkort en nie by Drive you, Assist you, Link with you-ex­perience gebly nie. Om so ’n naam te moet sê, sou nou ’n buitewêreldse ervaring wees.

Meer oor:  Hyundai  |  Robot  |  Toekoms
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.