Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
BMW-bulbakkie enig maar nie eerste

Gemeen Mercedes-Benz se X-Klas is reeds te weelderig en duur vir die dubbelkajuit-bakkiesegment?

Wel, moet dan eerder nie na BMW se idee vir so ’n bakkie kyk nie, want dis sekerlik die luuksste, weelderigste konsep vir sodanige model (in Europese konteks gesien) sedert die Lamborghini LM002 van die jare tagtig.

Die enig in sy soort konsepbakkie, gegrond op die jongste BMW X7, is in net tien maande deur ’n span van 12 leerlingtegnici van BMW geprakseer, en is verlede week op BMW se jaarlikse Motorrad-fees vir die eerste keer vertoon.

Breed en fors. BMW se konsepbakkie, gebou deur leerlingtegnici op ’n X7-platform. Foto: BMW AG
’n Netjiese agterkant, maar BMW het g’ planne om hierdie bakkie te bou nie. Foto: BMW AG

Die span, in samewerking met die konsepvoertuig- en modeltegnologie-afdeling van die Münchense vervaardiger, het ’n X7 xDrive40i-toetsvoertuig wat geskrap sou word as basis vir hul konsep gebruik, en die finale produk – ’n volledig padwaardige bakkie – is iets waarop hulle baie trots kan wees.

Met hoëgehalte-materiale en gevorderde produksiemetodes het die span ’n weelderige passasierskajuit met plek vir vyf volwassenes en ’n stewige laaibak vir die X7 geskep met ruimte wat wissel van 140 cm (toe) tot 200 cm (oop).

Danksy die intelligente gebruik van CFRP-materiaal vir die dakpanele, die agterdeure en agterklap is die bakkie 200 kg ligter as die produksie-X7, selfs al is dit 10 cm langer.

Die handbewerkte hoëgehalte- houtbedekking vir die laaibak vertoon aantreklik, maar of dit prakties is, is ’n ander vraag . . .

Tog, die kombinasie van die heuningkleurige hout en die X-bakkie se tanzaniet-metaalblou kleurbaadjie, vertoon aantreklik en gesofistikeerd en die klompie leerling-vakmanne kan trots wees op wat hulle geskep het as deel van hul praktiese opleidingfase.

Die houtafwerking vir die laaibak is aantreklik, maar beslis nie prakties nie. Foto: BMW AG
Het BMW-motorfiets, het BMW-bakkie... Wat meer kan mens begeer? Foto: BMW AG

Hul droom? Om ’n lekker Kaapse draai met hul skepping, met 250 kW se krag agter sy groot niertjierooster, te gaan gooi, of om die Alpe te besoek.

Hoewel hierdie X7-bakkie geheel padwaardig is, het BMW g’n planne om dit vir produksie te oorweeg nie. Die koste van verder ontwikkeling om so ’n ryding produksiegereed te kry, maak dit net nie die moeite werd nie.

BMW is nou nie juis bekend vir bakkies nie, maar hierdie konsep-X7 is nie die eerste in sy stal nie. Daar was reeds twee – albei ook eenmalige projekte, en albei geskoei op blitsige M3-modelle(!)

Sien, die M-divisie manne verantwoordelik vir die eerste M3 van 1986 het dadelik die poten­siaal van so ’n bakkie as blits-vervoer vir onderdele binne die M-aanleg in Garching raakgesien.

Die bakwerk van ’n M3-afslaankap is bekom en gou omskep in ’n M3-bakkie. Aanvanklik is hierdie bakkie deur ’n tweeliter-enjin vanuit die sogenaamde “Italiaanse M3” (enjingrootte is destyds in Italië belas, en dus had hul M3’s kleiner enjins) aangedryf.

Dit lyk egter of aflewerings nie spoedig genoeg was nie, want later is die blitsbakkie met die oorspronklike 2,3-liter M3-enjin toegerus. Hierdie bakkie het meer as 26 jaar betroubaar sy rondes binne die aanleg gedoen voordat dit in 2011 met ’n nuwe E92-model, ook gegrond op die afdak-M3 model, vervang is.

Die inwyding van dié bakkie is deur BMW as Aprilgek-bemarkingstruuk gebruik, en dit was só suksesvol dat selfs gerespekteerde publikasies, en menige bloggers, vas geglo het BMW gaan hierdie bakkie as “vierde bakvorm” in die 3-Reeks bou. Hoewel die bakkie wel vir padgebruik geregistreer is, was ’n produksiemodel nooit op die kaarte nie.

BMW se heel eerste bakkie, ‘n omgeskepte M3-kabriolet. Hierdie bakkie het vir meer as 26 jaar lank diens gedoen in die M-afdeling se Garching-aanleg. Foto: BMW AG
M3-bakkie nommer twee, gegrond op ‘n E92-model, het in 2011 die lig gesien, en was die onderwerp van ‘n Aprilgek-grap. Foto: BMW AG
Meer oor:  Mercedes-Benz  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.