Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
BMW ruim stal uit na e-modelle

Skaars ’n maand nadat BMW sy nuwe iX3, die elektriese weergawe van die X3-sportnuts, onthul het, het die groep nou die doek op sy nuwe iX gelig – ’n doelgeboude e-sportnuts wat hy sê die grootte van sy X5 het.

BMW is besig om sy hele i-portefeulje van elektriese voertuie te herstruktureer. Nuwe modelle gaan hul voorlopig by die kleiner i3 aansluit, terwyl die i8-sportmotor reeds padgegee het.

Die klem gaan in die volgende paar jaar veral op sportnutse val, aangesien dit die gewildste segment tans onder kopers wêreldwyd is.

Die koms van die iX3 het wel vir effense verwarring gesorg, aangesien dit nie ’n doelgeboude e-voertuig is soos die ander i-modelle nie. BMW het egter gesê dit was redelik vinnig en maklik om die X3 om te skep na die elektriese iX3, en dat die model presies in die maag van die regte segment boks.

Mooi blou aksente help aandui die nuwe iX is deel van BMW se vloot e-voertuie. Die batterygedrewe sportnuts is so groot soos ’n X5.

Intussen gaan sy ontwikkeling van sy ander i-voertuie volstoom voort. Verlede jaar het BMW die iNext-konsepmodel gewys, wat basies nou omvorm is tot hierdie iX wat ons nou as produksiemodel sien.

Soos genoem, is die iX ’n groot sportnuts met sitplek vir vyf volwassenes. BMW benut twee modelle van sy jongste, vyfdegenerasie-e-motor, gekoppel aan ’n 100 kWh-battery, vir aandrywing. Die motore sit een op elke as. Die stelsel bied 370 kW krag en sorg vir ’n versnellopie van minder as 5.0 sekondes, sê die vervaardiger.

E-voertuie gaan egter veral oor hul reikafstand, wat ’n redelik betwyfelbare aspek van hul ontwikkeling nog is. Volgens BMW kon sy iX, toe hy die voertuig nog ontwikkel het, ’n puik 600 km met een lading aflê. Maar of hierdie vermoë herhaalbaar gaan wees op die oop pad, staan nog te sien.

Minder materiale en ’n eenvoudiger uitleg word ingespan om gewig te help bespaar. BMW maak voorlopig aanspraak op ’n reikafstand van 600 km.

Wat wel herhaalbaar sal wees, is die blits-herlaaityd van die nuwe batterypak. BMW sê by ’n kragtige herlaaipunt sal jy hom vanaf 10% na 80% in skaars 40 minute kan herlaai. By ’n residensiële muurboks het jy 11 uur nodig van zero na 100%.

Nog iets wat interessant is van die nuwe iX, is dat BMW hom ook met sy jongste selfstuur-programmatuur toegerus het. Wetgewing en infrastruktuur is nog nie naastenby op peil om dit moontlik te maak nie, maar die voertuig beskik wel oor die vermoë om self in verkeer te ry, en self te kan parkeer.

Daar is voorlopig nog geen aanduidings of die iX later na Suid-Afrika sal kom nie. Ons vermoed BMW sal eers ’n toon in die water sit met sy iX3, alvorens ’n duurder iX ingebring sal word.

Meer oor:  Motors  |  Ix3  |  Bmw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.