Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
BMW se baba-GS storm mark binne

Daar’s ’n nuwe baba-GS (wel, eintlik twee) in die mark wat vroeg volgende jaar in Suid-Afrika beskikbaar sal wees. BMW het pas by die EICMA-motorfietsskou in Milaan sy jongste F750 GS en F850 GS aan die wêreld vertoon.

Die twee sportfietse volg die bestaande F800’s op wat al sedert 2007 met ons is.

BMW se nuwe weltergewig-veldryer, die F850 GS. ’n Skermplaat en groot voorwiel met knoppiesbande alom is van die standaardtoerusting op die F800-reeks se opvolger.

Destyds was die F800-gesin se Rotax-enjin met sy twee silinders langs mekaar geposisioneer – ’n tree voor die res danksy goeie krag en lewendige verrigting.

Sedert 2007 het die mededingers hom ingehaal. Wat beteken het dat BMW na die tekenbord moes terugkeer om sy middelslagfiets weer op die voorvoet te kry.

Eerstens is die slagvolume groter gemaak deur die twee silinders na 853 cc uit te boor. Daarna is die derde verbindingstaaf, wat ’n slim manier was om enjin­vibrasies teen te werk, ten koste van twee nuwe balanseerstawe weggeneem.

Dit is ’n meer konvensionele oplossing vir die bekende uitdaging van parallelenjins om vibrasie te neutraliseer, maar dalk nie so innoverend as die destydse verbindingstaaf nie. Tog het BMW gevoel dié derde staaf het te veel plek opgeneem.

Die resultaat, sê BMW, is steeds ’n kompakte enjin sonder oormatige vibrasies wat nou ’n goeie 70 kW en 92 Nm wringkrag lewer, ideaal vir ’n middelslagfiets wat soms hard op moeilike terrein moet kan werk.

Vir die F750 is die kragvlakke matiger gemaak – 57 kW en 83 Nm. Dieselfde enjin dus in albei modelle, maar die F750 kry net ’n makker weergawe danksy slim manipulasie van die elektronika. Albei het ’n sesgang-ratkas as standaard ingesluit.

Dieselfde 853 cc-parallel-twee tussen die knieë, maar dis met ’n makker kraglewering as sy stalmaat opgesaal. Jip, BMW se F750 GS is op straatpret gerig.

Wat is nog verander?

Die enjin en die res van die meganika sit nou als knus in ’n nuwe enjinraamwerk. Die brandstoftenk is onder die saal uitgehaal en weer na die konvensionele posisie voor die bestuurder geskuif, en die ketting sit nou aan die linkerkant van die fiets.

Visueel en fisiek verskil die twee F-modelle wesenlik, synde BMW die F750 as ’n meer padgerigte fiets en die F850 as ’n veldryvriendelike fiets wil bemark.

Die F750 het ’n laer saalhoogte, ’n kleiner 17-duim-voorwiel met padvriendelike bande en konvensionele vurke.

Die F850 kry ’n hoër sitposisie, ’n 19-duim-voorwiel en knoppiesbande. Die voorvurk is omgekeer en daar is ’n skuurplaat onder die enjin se pens om dit op rowwe paaie te beskerm.

Sowel die F750- as F850-fietse kry ABS-remme en twee ritmodusse (vir pad en reën) as standaard ingesluit. Daar is ook ’n stabiliteitstelsel. Opsionele elektroniese toerusting sluit in drie ekstra ritmodusse (Dynamic, Enduro en Enduro Pro) asook ’n gevorderde vastrapbeheerstelsel.

Nog opsies sluit in jou eie saalhoogte, ’n hoër windskerm, aanpasbare vering en ’n LED-lig.

Die F750 GS en F850 GS is in April hier, waarna pryse bekend gemaak sal word.

Meer oor:  Bmw  |  Motorfiets  |  Nuwe Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.