Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
BMW se bielie vir die langpad

‘Maar met ’n sestienhonderd-enjin, is dit nog ’n motorfiets?”

Dit word natuurlik tong in die kies gevra deur die publiek, maar tog is dit ’n vraag met meriete. Die nuwe BMW K1600 GTL is groot en bied inderdaad amper al die luukses wat ’n motor bied, plus ’n heelwat groter “sondak”! Met twee ekstra wiele kon die motorfiets dalk selfs deurgaan as ’n oopdak 3-Reeks.

BMW se fris toerfiets, die K1600-reeks, laat die myle moeiteloos onder jou bande deurgly. Daar’s selfs ’n trurat om dinge makliker te maak as jy sleg geparkeer het.

Die K1600 GTL is BMW se vlagskip-toerfiets. Nadat jy ’n vinnige 500 km met die fiets kafgedraf het, is dit duidelik BMW het hierdie toerwa om die persoon agter die stuur se gemak gebou.

Ten eerste, jy sit heerlik regop op ’n gemaklike, sagte sitplek, sonder windgeraas of ongemak, en kyk hoe die wêreld moeiteloos verby gly.

Die groot Beemer word aangedryf deur ’n massiewe inlyn-ses-enjin. Let op, dis ses silinders en 1 649 cc wat ’n tamaai 118 kW en 175 Nm uitstoot. Dit is dus nie moeilik om jou in die verkeer te bevind omring deur motors met kleiner enjins wat minder krag lewer nie. Hul rygoed is waarskynlik minder luuks ook, want die BMW bied als van handvatsel- en sitplekverwarmers, tot ’n satnav-stelsel, ’n radio met vet luidsprekers (hard genoeg om in jou valhelm te kan hoor) en Bluetooth-konnektiwiteit sou jy (en jou passasier) sommer so in jou valhelm se luidsprekers eerder na die musiek wou luister. Of moeiteloos met mekaar wou gesels.

Dan is daar ook ’n rits ritmodusse waarmee jy die karakter van die fiets kan verstel, van Rossi-sportief tot leunstoel-gemaklik.

Terloops, selfs die vering kan gestel word, sommer so in die ry. Voeg daarby ’n ritrekenaar wat als en nog wat vir jou uitwerk (jou verbruik, jou gemiddelde spoed en jou reikafstand) en al wat oorbly, is om die regteroor te draai. Om al hierdie tegnotruuks te benut, is ook heel maklik. Daar is ’n gebruikervriendelike skakelaar en rol-muis by jou linkerhand, sodat jy nooit jou hande van die handvatsel hoef te verwyder nie.

“Sit hom in top.” Dis ’n groot fiets, maar hy voel lig en gemaklik deur die draaie as jy op dreef is.

En les bes, vir die swak beplanners wanneer dit by stilhou kom, is daar ook ’n trurat. ’n Heerlike oplossing as jy ingedagte met die stilhouslag was.

Die groot Beemer se beste eienskap? Dat hy inderdaad nie ’n motor is nie. Al bied die K1600 GTL jou al die luukses van ’n motor, bly dit ’n motorfiets en ’n ratse een daarby. Die fiets lyk groot en is swaar, maar as die wiele eers begin rol, verdwyn die gewig en voel die fiets so vlugvoetig soos ’n ballerina.

Daar is hope krag en op die lang pad kan jy deurklik tot in sesde, die spoedbeheer aansit en kyk hoe die dorpe verby gly.

Ry jy deur ’n pas, kan jy die fiets bietjie rondgooi in laer ratte, maar wees versigtig, want 118 kW op ’n motorfiets beteken dat die krag tot gewig verhouding massief is. Jy kan al in vierde rat anderkant 200 km/h gaan kuier. Dit is dan ook waarom BMW sy vyfde en veral sesde rat lekker lang ratte gemaak het, perfek om die lang pad teen lae toere aan te vat.

In ons rytyd met die fiets het ons verbruiksyfers van so 5,0 tot 6,0 liter gehandhaaf.

So, laai daai tasse (117 liter bêreplek) en gaan verken ons pragtige land. In ’n motor kyk jy deur ’n raam na die buitewêreld wat soos ’n fliek verbygaan. Op ’n motorfiets voel jy soos die ster in daai fliek.

Prys: BMW K1600 GTL – R261 300.

Meer oor:  Motors  |  Bmw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.