Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
BMW se frisste X5 – dis fyntrap in die gim

Twintig jaar nadat BMW in 1999 sy eerste tree in die sportnuts­wêreld gegee het, kom parkeer hy ’n renoster in die lyf van ’n X5 op sy handelaars se toon-vloer.

Die X5 M50d bied syfers wat die kop laat duisel: Om sy 2,3 ton fluks na jou volgende direksievergadering te laat draf, benut hy ’n spesiale weergawe van sy bekende 3.0-liter-turbodiesel (met ’n reguitsesuitleg).

Daar is nie twee nie, maar vier turbo’s wat ekstra krag help verskaf. ’n Eerste ter wêreld.

Daardie 294 kW en 760 Nm wringkrag wat permanent na al vier die wiele gaan, help jou om die 100 km/h-merkie in skaars 5.2 sekondes te haal.

Twee oogknippe, of een groot sluk met rustyd.

BMW se nuwe X5 M50d is die bielie in die gesin. Die X5 het ’n groot teenwoordigheid op die pad, al herinner sy voorkoms sterk aan sy voorganger s’n. Foto: Marnus Hattingh

Ekstra groot, plus ’n bietjie

Kortom, as draer van BMW se M-geskiedenis sorg sy M50d vir Jan Wilkens-spiere in ’n 21ste- eeuse baadjie.

Van sy voorkoms gepraat, Adrian van Hooydonk en die res van die span by BMW se ontwerpateljee het dit goed­gedink om ’n enorme niertjierooster op die neus te plak.

Die groot rooster beklemtoon die nuwe X5 se lyf, wat inderdaad ook groter geword het. Met 6 cm ekstra in net die breedte is die nuwe X5 gewis ’n groot motor. Soos ek trouens in ’n parkeergarage ook moes agterkom, toe ’n wielvelling teen ’n randsteen geskraap is waar jy vir jou parkering moet betaal.

Die vier turbo’s bied uiteindelik nie die nekruk-verrigting en onbewaakte gille van plesier wat ’n mens sou verwag het nie.

Die lyf is groot. Die enjin is massief. Maar selfs die wiele is lywig – 22-duimers. Toegegee, die binneruim bied gemaklike sitplek aan ’n uitgebreide gesin om in die grootste gemak die langpad see toe aan te durf.

En terwyl ons met vakansie is: Die luikdeur wip elektronies oop en toe terwyl die onderste rand ook afgeslaan kan word om toegang na die laairuim nog mak­liker te help maak.

Maar ek dink nie jy bestee R1,5 miljoen aan die topmodel­- X5 M50d net om in Desember ’n uur vinniger by die strandhuis te kom nie.

Dit gaan oor sy spesiale enjin, en wat hy vir jou kan doen op die pad – al is dit dan ook net in teorie.

Versnelling en topspoed is van die boonste rakke, natuurlik. Maar BMW se ingenieurs het ook wondere verrig om die 2,3 ton soos ’n luikrugmotor te laat voel wanneer jy hom deur die draaie gooi. Daardie sop-bordbreë 22-duimers help beslis hiermee. Weet egter ook dat dit laeprofielbande is, en hulle hou maar van ’n nuut­geteerde op- pervlak. Enige knik of knop gaan met ’n stampgeluid gepaard.

Afsaal

Dit is interessant dat BMW vasbyt met sy dieseltegnologie vir sy verrigtingsportnuts.

Porsche het reeds aangedui hy gaan die hibried-roete volg in die plek van dieselenjins, en Range Rover en Volvo doen dit ook reeds.

Maar hier is die troosprys, wat die groenes nog nie heeltemal wil erken nie. Jy kan hierdie fris diesel hard looi op die flanke, sy verbruiksyfer sal altyd laag bly. Dis iets wat ’n hibried nog nie kan bied nie – nie oor die verloop van ’n volle brandstoftenk nie.

Die vier turbo’s bied uiteindelik nie die nekruk-verrigting en onbewaakte gille van plesier wat ’n mens sou verwag het nie. Maar dis steeds ’n soliede, ernstige speler vir die sakeman wat wil wys hy het die boonste model op die lysie bestel.

  • Prys: BMW X5 M50d – R1 502 582.
Meer oor:  Bmw  |  Sportnutsvoertuig  |  Motors  |  X5
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.