Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
BMW se Harley-breker brul styl

Kyk, ek sal jok as ek sê dat ek nie al maande na hierdie gebeurtenis uitgesien het nie. Onder my raas een van die fietse waaroor daar sekerlik nog die meeste in 2020 gepraat is – BMW se nuwe R18.

Dis g’n wonder almal gesels so op die forums oor dié nuweling uit Beiere nie. Die fiets verteenwoordig ’n keerpunt vir BMW – die kalant waarmee hulle die mark vir toerfietse weer herbetree het en die stoeigeveg direk na Harley-Davidson terugneem.

Met die eerste oogopslag blyk dit ’n sukses te wees. Die R18 is lank, slank en hang laag oor die pad met daardie gewilde, ontspanne Kaliforniese styl. Die spesiale First Edition-model baat boonop by ekstra details in chroom, wat heel gaaf lyk en daarby pas.

BMW se nuwe R18-toerfiets – enkele haakplekke ten spyt bied hy ’n puik hertoetrede vir BMW tot hierdie nis-segment.

Die ontwerp bring ook hulde aan die BMW R5 van 1936 met die instrumente nou bo-op die hooflig, die traandruppel-brandstoftenk met sy handgeverfde strepe op, en die ontblote dryfas. Dis als aantreklik, imposant en die afwerkings lyk dadelik topgehalte.

Tog bly die fokuspunt daardie enjin. Teen 1 802 cc is dit die grootste en kragtigste bokser-enjin ooit uit die BMW-stal. Dis ’n meganiese beeldhouwerk wat BMW met reg op die R18 laat pronk. Die Duitsers word geken aan hul voorkeur vir vorm bo funksie, maar hierdie BMW wíl gesien word.

Druk die aansitter en die fiets skud tussen jou bene voordat dit na ’n egalige gerommel bedaar. Draai jy die versneller, trek hy jou effe na links danksy die lengte-gemonteerde krukas se vliegwiel-effek. Dis nie die klik-klak en tuimeldroër-vibrasie van ’n Harley nie, maar dié Berlyner het tonne karakter.

Kraglewering is liniêr wat jou ’n keuse van omtrent drie ratte vir enige draai bied. Die enjin trek ongelooflik sterk vanuit lae toere. Die versneller en vastrapbeheer bied drie verstellings: Rain, Roll en Rock. Met so bietjie rondspeel in die Kaapse sonskyn was Rock my gunsteling met die gevoelige versneller wat gretig is om myle te verorber. Op die kuspad tussen Rooiels en Gordonsbaai was die fiets ’n droom. Maar oor ongelyke paaie was dit minder plesierig.

Die voorste teleskopiese vurk bied 120 mm se speling, maar weens die lae sitplek bied die agterste sentrale stut slegs 90 mm. As pluspunt voel die fiets grootliks lig en hanteerbaar terwyl die middel-gemonteerde voetstukke verder tot ’n sportiewe houding bydra. Tog is die rit stram en ongerieflik oor ongelykhede.

Teen 345 kg is dit g’n teddiebeer nie en die vlak leunhoek herinner jou gereeld teen laer snelhede, deur skerper draaie en oor ongelykhede dat die R18 inderdaad ’n “cruiser” is.

Die fiets het dus iets van ’n dubbele persoonlikheid: Die ritposisie, vering en gretige verrigting wink na ’n sportiewe karakter – iets soos ’n yslike R nineT, maar dis nie wat sy massa en afmetings altyd toelaat nie. As toerfiets dink ek kan die R18 baat vind by ’n titseltjie meer gerief.

Tog, met soveel ophef wat gemaak is, is dit maklik om fout te vind. BMW meen die R18 is ’n puris-fiets – dié dat items soos snelheidsbeheer en ’n brandstofmeter wat gewoonlik standaard sou wees, nou ontbreek.

Volgende jaar Augustus kom die standaard-modelle (teen R299 900), wat ons reken intussen by kopers se terugvoering sal baat. Die R18 Classic (met verstelbare vering) is op sy beurt onlangs onthul.

So, wat sê ons?

Die fiets het styl, nostalgie en ’n oormaat karakter. Dis myns insiens BMW se beste poging tot ’n toerfiets en ’n baie goeie begin vir die R18-reeks as ’n ernstige aanslag teen Harley-Davidson.

Prys: R319 900.

Meer oor:  Motors  |  Bmw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.