Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
BMW sê hy torring min aan GS se wenresep

Vir jare al, nee dekades, is die BMW GS die swaargewig-kampioen onder die avontuurfietse. Gereeld het daar nuwe uitdagers gekom, maar elke keer plant die kampioen weer die uitklophou: die beste verkoper in sy segment vir die jaar.

Die afgelope paar jaar egter was die mededinging ál strawwer vir die ou strydros, met veral KTM se 1290R wat byval vind. Geen kampioen kan dus op sy louere rus nie. Met die nuwe generasie van sy vlagskip-avontuurfietse, die R1250 GS en R1250 GS Adventure, wil BMW dié neiging nou regstel.

BMW het sy geliefde GS-familie opgeknap deur heelwat nuwe tegnotruuks, en ’n groter enjin, op die fiets aan te bring.

Wat’s nuut?

Die fietse is steeds toegerus met die tradisionele bokser-enjin wat al vir 35 jaar diens doen, maar ’n groter slagvolume (1 170 cc na 1 254 cc) en nuwe meganika (’n skuiwende nokas) help hom om nou meer krag met ’n laer verbruik te bied.

Daar is ook enkele verstellings aan die elektronika, vering en remme aangebring.

Die nuwe skuiwende nokas is ’n interessante konsep. Die nokas beweeg letterlik heen en weer, tussen twee posisies, en gee vir die fiets in sy een posisie meer wringkrag en ’n suiniger verbruik teen lae enjintoere, terwyl die verrigting in die ander posisie weer heelwat opgestoot word.

Die enjin ontwikkel nou 100 kW (dit was 92 kW) en 143 Nm wringkrag (125Nm), terwyl die wringkrag nou ook vanaf laer toere beskikbaar is.

Nog opknappings sluit in beter olievoorsiening vir die enjin, suierverkoeling, fyner ontbranding en beter enjinbestuur deur die blikbrein. Daar is ook ’n nuwe uitlaatpyp. Dit dra alles by tot ’n meer verfynde enjin wat sy krag soepeler aanbied.

Ritmodusse en slim vastrapstelsels help om die fiets perfek vir die rytoestande op te stel.

Druk die knoppie

BMW het ook heelwat moeite gedoen om die GS nou meer aanpasbaar na gelang van jou ry-smaak en die padomstandighede te maak. Daar is onder meer ritmodusse vir reën- en dinamiese toestande, asook vir as jy op ’n grondpad wil gaan speel.

Ander tegnotruuks sluit in vastrapbeheer, remhulp en ’n lekker nuutjie, ’n vashou-funksie vir as jy teen ’n bult moet wegtrek.

Die aanpasbare vering wat ons vir die eerste keer in die GS Rallye gesien het, is nou ook in die GS in sy tweede generasie teenwoordig. In Auto pas die vering self aan na gelang van die padtoestande en die gewig op die motorfiets. In Max is die vering ferm en die grondvryhoogte beter. Ons het dit veral gekies as ons haastig oor die grondpaaie wou ry. Die fiets het altyd vasvoetig gevoel, selfs op grond. Op die Min-verstelling is die vering sagter. In die stadige, tegniese dele was die verstelling my gunsteling, alhoewel jy moet weet dat jy effense grondvryhoogte prysgee. Die vering absorbeer al die stampe en stote terwyl jy oor die rowwe terrein ry.

Afsaal

So, wat is die beste keuse, die GS of die GS Adventure? As waarde vir jou belangrik is, is die duurder Adventure ’n goeie opsie. Vir sowat R25 000 ekstra kry jy ’n groter brandstoftenk, ’n groter windskerm, ’n skermraam om die enjin, breër voetstutte, hoër vering, LED-ligte, ’n verstelbare agterrem-pedaal en ’n gemakliker sitplek. Daar is ook staalrame vir jou bagasie (die GS het plastiekrame). Daar is selfs ’n oulike kassie op die brandstoftenk waarin jy jou sleutels, tolgeld en afstandbeheerder kan bêre.

Maar dan hang dit seker ook af wat jy met die fiets wil doen. Want die afwesigheid van al dié ekstras maak juis die GS ’n opwindender fiets. Hy is ligter, kleiner en makliker om rond te gooi. Op die Adven­ture wil jy toer, voëls kyk en blommetjies ruik. Met die GS ry jy baie meer entoesiasties, ál vinniger en vinniger.

Ongeag jou keuse, BMW het dit weer reggekry om die nuwe GS in ooreenstemming te bring met wat ander vervaardigers bied. BMW is ’n premium-fabrikaat en ’n vlagskipfiets is ’n luukse, so moenie verwag dat jy ’n winskoop-prys gaan betaal nie. Maar vir dié wat so ’n fiets kan ry, sal die nuwe 1250 GS en GS Adventure nie teleurstel nie.

Meer oor:  Motorfietse  |  Oos-Kaap Naweek  |  Bmw
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.