Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
BMW se R-gesin nou myle-eters

BMW se gesin van langpad-toerfietse is al ou bekendes (of eerder geliefdes, so gewild is hulle onder aanhangers). Die mede- dingers hou ’n mens egter op jou tone, dus het BMW besluit om dié gesin van R-modelle ook met sy jongste, opgegradeerde bokserenjin toe te rus. En sommer ook al die draadwerk-stelsels af te stof.

In die proses is jou R-familie van padfietse – die R1250RT, die R1250RS en die R1250R – weer blink soos ’n gr. 1-skoolskoen.

’n Groter slagvolume en meer hulpmiddels soos ritmodusse en verstelbare vering maak die opgeknapte R-gesin van toerfietse reg vir die langpad.

Sit jy gemaklik daar agter?

Die R1250RT is die toerfiets. Met ’n lekker regop sitposisie, uitstekende windbeskerming en luukses soos sitplek- en handverwarmers is die RT ’n myle-eter by uitstek. Die RT baat nie net by die opgegradeerde bokserenjin nie, ook die veiligheidstelsels en vering is fyner verstel.

Die elektroniese vering wat ons vir die eerste keer in die GS Rallye gesien het, is nou in sy tweede generasie teenwoordig en bied nou drie ritmodusse: Auto, Max en Min.

Die voorste en agterste vering kan met mekaar kommunikeer, wat beteken dat sou jy in Auto-modus ry, die voor- en agterkant vanself fermer of sagter kan verstel ongeag waar die gewig op die fiets is. Sit jy die fiets in sy Max-modus, is die vering weer op sy fermste verstelling.

Dit werk veral goed as jy haastig deur die draaie wil glip. Die fiets voel te alle tye viervoet vas terwyl die vastrapbeheer-, rem-hulp- en ABS-stelsel seker maak dinge raak nie buite beheer nie.

En dan laastens is daar die derde modus, Min, wat soos sy naam sê die fiets in sy sagste verstelling sit en jou gemaklik oor knikke in die pad laat seil.

Waar’s die meter?

Die R1250RT behou die vorige model se instrumentpaneel waar die paneel voor jou ’n analoog-spoed- en -toeremeter huisves saam met ’n gewone sleutel.

Die R1250RS is die sportiewe nefie in die gesin en bied derhalwe ’n lekker vooroor sitposisie. Hy vertoon ook kleiner as die RT met sy minder sypanele, maar as jy die langpad wil aandurf hoef jy jou nie oor dié gestroopte lyf te bekommer nie. Die verstelbare windskerm sal jou steeds goed teen die wind kan beskerm.

Die R1250R is die straatfiets in die reeks, gemaak vir die stadsomgewing. Hy is klein, lig en minimalisties. Jy sit redelik regop, wat ’n goeie uitsig oor die verkeer gee, maar die fiets is rats en bring die innerlike jaagduiwel in ’n mens uit. As jy van adrenalien in ’n stadsomgewing hou, is hierdie fiets pret met hoofletters.

Groot, maar steeds gerieflik

Vandag se toerfietse is net so met toerusting gelaai soos hul vierwiel-broers. Sowel die RS as die R bied nou sleutellose toegang asook ’n vashou-funksie vir wanneer jy teen ’n bult wil wegtrek.

Dieselfde kleur-inligtingskerm as wat ons op die GS-reeks gesien het, doen nou ook diens op die RS- en R-toerfiets.

Die stelsel werk met ’n reeks “blaaie” waartussen jy wissel en bied benewens ritinligting ook al die opsies waarvolgens jy jou fiets kan instel, soos die vering en vier ritmodusse asook om jou slimfoon koordloos met die stelsel en jou valhelm te verbind.

Ander nuttighede wat die fiets bied, sluit in ABS-remme, spoedbeheer en vastrapbeheer as jy die krane te gou sou oopdraai.

Die enjin lyk fris

Afgesien daarvan dat die bokser-twee nou ’n groter verplasing bied en dus ook meer krag uitpomp, is die wringkrag nou ook van laer toere af beskikbaar. Dit is grootliks te danke aan ’n nuwe, skuiwende nokas wat BMW ontwikkel het. Die nokas beweeg letterlik heen en weer, tussen twee posisies, en gee die fiets meer wring en ’n laer verbruik, terwyl verrigting in die ander posisie sommer heelwat opgestoot word.

Ander opknappings sluit in nuwe uitlaatpype en ’n gladder skakelaksie vir die ratkas.

Afsaal

BMW het nou al sy R-reeks bokserfietse tegnologies in lyn met die R1250GS-avontuurfietse gebring. Ongeag van watter tipe rit jy hou, is daar dus nou ’n fiets wat by jou smaak sal pas.

Meer oor:  Motorfiets  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.