Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Bobby Ewing se SL vier 50 jaar

Vanjaar is die 50ste herdenking van Mercedes se geliefde SL-sport-koepee van die 1970’s, die R107-reeks. Marnus Hattingh kyk terug oor 50 jaar van oop­dak-weelde met ’n ster op die neus.

Bobby Ewing het die 450 SL in die vroeë 1980’s kits-sterstatus gegee toe hy, wit stetson en al, in sy rooi oopdak-Mercedes tussen Texas se groen mielielanderye gery het. Dit was die openingstonele van die treffer-TV-reeks van destyds, Dallas, terwyl die gewilde temalied oor ons boks-TV’s geklingel het.

Mercedes het raakgevat toe hy in 1971 sy statige R107-reeks van die SL-gesin die lig laat sien het.

Gedagtig daaraan dat die openingstonele ’n rits ikoniese beelde van Texas en Dallas vertoon het (onthou nog die Dallas Cowboys se stadion, by wie Naas Botha­ kort daarna sou gaan grid­iron speel?), was die insluiting van Ewing se rooi 450 SL in dié “toptien”-tafereel betekenisvol.

So gewild as wat die sake- en slaapkamerstreke van JR, Bobby en Lucy Ewing oor die wêreld heen was, so gewild het die SL geword.

Van sy buiging op 14 April 1971, toe ’n oopdak-350 SL vir die eerste keer aan die media by die Hockenheim-renbaan in Duitsland vertoon is, tot wat die laaste model 19 jaar later in 1989 van die produksielyn in Sindel­fingen gerol het, het die wêreld 237 287 van dié vuurhoutjieboks-plat sportkoepees opgeraap.

Dit is nie aldag dat ’n peperduur, luukse en eksklusiewe sportmotor so gewild is nie. ’n Produksiesiklus van 19 jaar is vandag ook ongekend.

Maar selfs met ’n bedryf-verlammende oliekrisis (1973) op hande, kort ná sy geboorte, het die SL steeds op sy suksespad voortgemarsjeer. Wat was sy suksesresep?

Mercedes se voorliefde vir die weelde-koepee het kort ná die Tweede Wêreldoorlog begin toe die Stuttgartse fabriek sy pragtige en tydlose 300 SL Gullwing bekend gestel het. Nie net was die 300 SL klassiek-mooi met sy swiepende lyne en enigmatiese boontoe-wip deure wat soos sprinkaanbene na bo ge­sper het nie. Dit was ook vinnig. Renmotor-vinnig.

In die 1950’s se renne, waar jaers­ van die een kant van ’n land na die ander moes jaag sonder steun of roete of spoedgrense, het die Gullwing vinnig naam gemaak. Straks die beste seges van dié era het gekom in die Panamericana van Mexiko en die Targa Florio van Sicilië.

Met so ’n agtergrond het die 280 SL in die 1960’s gevolg – die vierkantig-mooi Pagoda, wat vandag maklik teen R1 miljoen stuk opgeveil word. As jy een kan raakloop.

Teen 1971 het Mercedes ’n nuwe­ SL gesoek en sy groot maar plat gevormde 350 SL was die perfekte antwoord daarop. Met ’n heel nuwe onderstel, en vering en enjins geleen uit die S-klas, het die nuwe SL dadelik die oog gevang.

Die eerste model was ’n klassieke oopdakker: Te kry met ’n lapdak wat netjies agter kon wegvou of ’n harde kap wat jy bo-op vasgebout het. Die S-klas se 3.5-liter-V8 is gebruik, wat hom die eerste SL gemaak het wat met ’n V8 gespog het.

Die plat profiel was in ooreenstemming met wat destyds in die 1970’s so gewild was.

Die Pagoda se vertikale hoofligte is vervang met horisontale eenhede en dié sou Merc se gesinsmotors vir die volgende twee dekades oorheers. Maar kyk ook na die SL se remligte – daardie geribde oppervlak was uniek en bedoel om die ligte skoon van stof te hou.

Nog nuutjies was die opsionele veiligheidsgordels en ook die spesiaal ontwerpte staalkokon van die kajuit, wat insittendes in ’n botsing sou beskerm.

Mercedes het ook die brandstoftenk meer vorentoe geskuif, weg van die kattebak se vloer na net bo die agteras.

In Oktober 1971 het Mercedes die 450 SLC bekend gestel, die viersitplek-koepee in die gesin.

Maar toe tref die oliekrisis van 1973 die motorbedryf en moes Merc noodgedwonge ’n kleiner enjin in die modelreeks inbring: Die suiniger 2.8-liter, wat nou naas die V8’s (3.5-liter en 4.5-liter) te kry was.

In die volgende twee dekades het die SL gewild gebly. Dermate dat Mercedes net af en toe enjins omgeruil het met nuwer weergawes (die S-klas se 5.0-liter-V8, en ’n 3,0-liter-sessilinder wat die 2.8-liter vervang het). In 1980 is die driegang- outomatiese ratkas ook met ’n moderner viergang-ratkas vervang en elektroniese brandstofinspuiting het in 1985 sy debuut op die vyfliters gemaak.

As ’n swanesang het Stuttgart ook sy nuwe 5.6-liter-V8 in die laat 1980’s as ’n 560 SL-model aangebied. Met 203 kW en 340 Nm-wringkrag was hy haastig genoeg om Bobby Ewing se wit stetson van sy kop te waai.

Uitvoermodelle het katalitiese omsetters gekry om aan die destydse streng Amerikaanse luggehalte-wetgewing te kon voldoen. Dit het die groot V8 van krag getap sodat dié weergawes 15% van hul krag ingeboet het (170 kW).

Sedertdien was daar al twee ander SL-reekse, met ’n nuwe model wat om die draai is en steelfoto’s wat reeds wys hoe Mercedes hom op die Nürburg­ring gereed maak.

Daar sal tog maar net een SL wees wat jou soos ’n dollar-miljoenêr laat voel en op dié een het Bobby reeds sy hande.

Meer oor:  Mercedes  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.