Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
‘Boombox’ vir die Boxster
Rooi remknypers agter swart sierwiele en ’n toerenaald wat eers by ’n hoë C hensop roep – jip, dis die jongste GTS-model uit die Porsche-stal. Dié keer vir sy Cayman- en Boxster-modelle.

Porsche het pas die sluier gelig op die jongste weergawes van sy warm GTS-modelle vir sy Boxster en Cayman-reeks.

Die nuwe GTS-weergawes behoort teen die middel van die jaar na Suid-Afrika te kom, maar intussen kan ons meer vertel van wat jy onder die vel van dié unieke modelle kan verwag.

Ons sê uniek, want Porsche het oor die afgelope paar jare ’n heerlike en eiesoortige karakter vir sy GTS-rygoed geskep.

Hy gee die GTS-behandeling ook aan bykans enigeen van sy modelle in sy portefeulje, met altyd dieselfde karakter wat jy van die vuurwa kan verwag.

In wese is die GTS-rygoed ’n ware bestuurders-ryding – iets waarmee jy ’n klank- en emosionele ervaring kan beleef as jy hom in die rooi druk, maar sonder dat dit noodwendig die kragtigste of haastigste model in die betrokke reeks is.

Kyk maar net na die behandeling wat Porsche sy Cayman en Boxster vir die jongste uitgawe van die GTS-benaming gegee het.

Die koepee en oopdakker kry die groep se 4.0-liter-bokserses gekoppel aan ’n sesgang-handrat, maar belangrik genoeg is dat daar geen turbo aan die vierliter gekoppel is nie.

In egte GTS-tradisie is die rooilyn ook eers by 7 800 toere te vind. Jy kan die natuurlik geaspireerde enjin dus in elke rat maar druk en wurg soos jy jou laaste rande voor betaaldag in jou beursie hanteer. Hy sal nie terugpraat of kla nie.

Nie groot op bagasieruimte nie, maar Porsche se GTS-modelle gaan meer oor die ervaring en belewenis as om sewe reistasse soos ’n Tetris-spel ingepas te kry.

Soos wat Porsche die vierliter-bokser hier in die Cayman en Boxster GTS inspan, is hy ’n raps makker gemaak as wat jy hom in die GT4-modelle sal vind. Dit nou om nie die kalklig van die GT4’s te steel nie – hulle is die kragtigste modelle in die gesin.

Maar jy kry steeds genoeg warm kole onder die regtervoet om die agterwiele in gesmelte rubber te laat verander sou die blikbrein nie ingryp by jou entoesiasme nie.

In die Cayman en Boxster GTS bied die 4.0-liter nou 294 kW en 420 Nm wringkrag, wat 15 kW minder is as wat die GT4 (en Spyder, die Boxster-ekwivalent) lewer.

Versnelling geskied in 4.5 sekondes, sê die vervaardiger.

Oorsee kos hy sowat 83 000, wat amper R1,3 miljoen in ons geld is. Hoewel ons pryse nog nie vasgestel is nie, kry jy wel ’n lang lysie standaardtoerusting wat tegniese truuks aanbetref.

’n Uitlaatstel met ’n spesiale klep wat jy met die druk van ’n knoppie kan aktiveer om oop te gaan om ’n bulderende blaf te gee as jy voet neersit, is een van hulle.

Die verlaagde vering (met 2 cm) is nog iets wat Porsche aangebring het. Die vering self is ook fermer gemaak as waarmee die gewone modelle spog, terwyl ’n sluitewenaar op die agteras krag tussen die agterwiele kanaliseer.

Die blikbrein sal ’n tollende binnewiel vasknyp sou jy om ’n draai vet gee, terwyl die vering ook in drie ritmodusse verstel kan word om ’n gemakliker of fermer rit te bied.

Visueel sal jy die GTS-modelle kan uitken aan die vet 20-duimers afgewerk in hul blinkswart kleur, terwyl die lugskort voor, die kantspieëls en luginlate by die agterwiele ook als swart insetsels het.

Die glas en hulsel self by die hoofligte (en remligte) is ook als donker getint.

Binne kry jy diep sportsitplekke met Alcantara uitgevoer, en ’n klein raakskerm wat al jou nutsfunksies huisves.

Meer oor:  Porsche  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.