Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Botsresultate rig vrae

’n Inisiatief wat onlangs deur die AA in samewerking met die bekende Europese botstoetsinstansie GlobalNCAP begin is, begin nou werklik momentum kry.

Vanjaar was dit die derde keer wat GlobalNCAP drie sakpas motors wat gewild in ons mark is, vir ’n sessie van botstoetse geneem het. Die voertuie wat onder die soeklig gekom het, was die Toyota Avanza (’n sakpas sewesitplekker wat veral as minibustaxi ingespan word), die Honda Amaze (Honda se goedkoop stadsmotortjie) en die Suzuki Ignis (luikrug).

Die benadering is wetenskaplik en die resultate is vergelykbaar met verskillende modelle. Soos gewoonlik word ’n punt uit vyf gegee vir die veiligheid wat die voertuig aan sy volwasse sowel as sy kinderpassasiers bied.

’n Gewilde bussie op ons paaie, die Avanza, het gemengde uitslae behaal.

Hierdie soort toetse is natuurlik peperduur (’n voertuig word afgeskryf). Om ’n motor met ’n Suid-Afrikaanse spesifikasie getoets te kry, het die AA finansiering vir dié jaarlikse projek by die FIA en Bloomberg gekry.

Veral ons intreevoertuie het dikwels ’n swakker toerustingvlak as die soortgelyke model wat in Europa verkoop word. Daarom baat dit nie om dié voertuie se oorsese graderings ter harte te neem nie, want hulle sal veel beter vaar as ons weergawes wat jy hier kan koop.

Om kostes wel in toom te hou, word die fokus in die botstoetse nie soseer op die voertuig se bou-integriteit geplaas nie, maar meer op die beskerming van die insittendes.

Metodologie

Waar die oorsese botstoetse die motors dus aan verskeie impakte uit verskillende hoeke blootstel (van voor, skuins van voor, en van die kant af), word ons voertuie net reg van voor teen ’n spoed van 64 km/h teen ’n muur te pletter gery.

Die navorsers kyk dan na die bakwerk se basiese integriteit, met veral die fokus op die voetholtes en die area by die stuurwiel (want dit kan die bestuurder se borskas platdruk).

Hierdie indrukke word dan as ’n punt uit vyf vir die beskerming van volwassenes gegee.

Om kinders se veiligheid te bepaal, word ’n kinderstoeltjie (wat deur die vervaardiger aanbeveel word) agter op die sitbank vasgemaak, met twee poppe wat afsonderlik in botstoetse gebruik word.

Die een pop verteenwoordig ’n kind van 18 maande, en die tweede pop ’n kind van 3 jaar oud.

Resultate

Die Toyota Avanza het net-net vier sterre behaal vir die beskerming van volwasse insittendes. GlobalNCAP sê die bakwerk is onstabiel (dit het erg vervorm in die botsing) terwyl die voetholte heelwat verklein het.

Vir kinderbeskerming het hy net twee sterre gekry – die agterste sitbank het skoon losgeruk uit sy hegpunte toe die swaarder “3-jarige” kind in die stoeltjie vasgemaak is.

Honda se Amaze het op sy beurt ’n sterker vier sterre behaal, sê GlobalNCAP. Die bakwerk was stabiel en daar was nie vervorming in die voetholtes nie.

Tog het die Amaze ook gesukkel met die beskerming van kinders, en het hy twee sterre ontvang. Toe die 18 maande oue baba in die botsing getoets is, het die middelste armrus oopgewip en die stoeltjie getref sodat dié harder as normaalweg teruggeskiet het en die baba sy kop teen die rugleuning gestamp het.

Later, toe daar met die 3-jarige kind getoets is, het die kind se kop met die sweepslag so erg teruggeklap dat dit die sitbank weer getref het. Ten spyte dat hy in die stoeltjie was.

Suzuki se Ignis kon net drie sterre vir die beskerming van volwassenes vermag. Die bakwerk is as onstabiel bestempel aangesien die stuurwiel die volwasse pop teen die bors getref het.

Die Ignis is ook slegs een ster vir die beskerming van kinders gegee, maar dit is grootliks op ’n tegniese punt gedoen.

Die instansie sê Suzuki skryf nie ’n soort stoeltjie voor wat gebruik moet word nie, en daarom is hy gepenaliseer.

Meer oor:  Aa  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.