Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Bottas draai demone nekom

Hoewel Transsilvanië – wat oor tyd ’n vastrapplek in Westerse literatuur gekry het as die geboorteland van die vampier graaf Dracula – ’n volle 1 650 km wes van Sotsji lê, was daar Sondag net soveel demone teenwoordig in dié Russiese gasheerstad as in die kasteel van die wêreld se berugste bloedoortappingspraktisyn.

Eerstens omdat Formule Een stadig maar seker al hoe dapperder raak deur sy knoffel en kruis te begin afstof in die stryd teen die koronavirus; deur vir die eerste keer vanjaar toeskouers by ’n Grand Prix toe te laat nadat die voorafgaande agt rondes agter geslote deure gehou is.

Maar ook vir vanjaar se twee titel-aanspraakmakers, die Mercedes-duo van Lewis Hamilton en Valtteri Bottas – wat elkeen op dié Olimpiese stad se straatbaan geworstel het met die duiwels in hul binneste.

Max Verstappen (Red Bull) het ’n skoon ren gelewer in sy jaagtog na die tweede plek in Sondag se Russiese Grand Prix, wat in Sotsji, in die suide van die land, gehou is.Foto: Getty Images

Hamilton het sy paspoort (tesame met dié van ’n Netflix-entourage wat ’n dokumentêre fliek maak) in Sotsji laat stempel onder die druk dat hy Michael Schumacher se segerekord van 91 F1-oorwinnings daar sou kon ewenaar (en laat verfilm) en sodoende homself nóg dieper in die F1-legende kan verewig. Maar iewers op pad in die vlug van sy blyplek in Monaco na Sotsji het die vloek van Transsilvanië hom getref – en beslis dat die rekordhouers se geïnkte veer vir ten minste nog een ren in hul laai weggesluit bly.

’n Fout en ’n tekort aan tyd om dit reg te stel in Saterdag se kwalifiserende rondes het bepaal dat Hamilton Sondag met die ongewenste sagte Pirelli’s sou wegspring, terwyl Red Bull-Honda se Max Verstappen en Bottas die ren in onderskeidelik die tweede en derde posisies met die meer gunstige mediumband sou begin. Met effens minder byt, maar ’n langer leeftyd het dié rubber vir elkeen ’n strategiese voordeel in die ren bo Hamilton ten spyte van sy voorste wegspringposisie beloof.

Dis nou omrede sy sagter bande hom tot ’n vroeër kuipestop sou dwing.

Maar toe slaan die noodlot – en Hamilton se eie onoordeelkundigheid, gerugsteun deur die gewoonlik foutlose Mercedes-span se verbasende oningeligtheid omtrent die reëls – toe. Sy twee oefen-wegspringpogings enkele minute voor die ren se aanvang buite die aangewysde area van die kuipe-uitgang is deur die baanbeamptes as ’n oortreding (en sigbaar gevaarlik) bestempel en gevolglik met tien sekondes gestraf – wat hy gesamentlik met sy kuipestop uitgedien het.

Die aanvanklik oorblufte, effens verontwaardigde en duidelik vies Hamilton het daarna teruggesak, maar uiteindelik teruggeveg tot die derde plek agter Bottas en Verstappen.

Sy reaksie agterna?

“Hulle is daarop uit om my te probeer stuit.”

As een van die wêreld se bes betaalde sportpersoonlikhede, F1-ringkop, rekordbreker en ambassadeur wat betref sy pogings om bewussyn om rasdiversiteit te bevorder, was dié slagofferbenadering een van sy minder prysenswaardige optredes.

En dit raak al hoe duideliker dat vir elkeen van die talle rekords wat hy nog in sy loopbaan gaan oortref, Lewis Hamilton ewe veel onthou sal word vir ’n onvolwassenheid – gedefinieer deur ’n onoortuigende naïwiteit en arrogansie gemeng met ’n onderliggende selfversekerdheid – wat klokslag kop uitsteek sodra die teëspoed hom tref.

Hamilton se boetedoening het die sege oorhandig aan sy spanmaat, Bottas, wat daardeur sy agterstand op die puntelys teenoor eersgenoemde tot 44 punte verminder het, wat nogtans gelykstaande is aan amper twee volle oorwinnings.

Daarmee saam was sy tweede sege (teenoor Hamilton se ses) van 2020 kwalik een van die oortuigendstes van sy loopbaan.

Maar vir iemand wat nimmereindigend gefolter word deur die wete van skoothond-status in die Mercedes-span, sowel as in sy eie gedagtes, was hierdie oorwinning bepalend vir die tydelike herstel van sy vertrapte selfvertroue en ’n verbryselde ego in ’n jaar waarin niemand ’n antwoord vir Hamilton het nie.

Ná maande se kruisiging in die pers en op sosiale media was dié oorwinning – en sy radioboodskap in die motor aan sy haters agterna – die beste teenmiddel: “Vir wie dit mag aangaan: F** julle.”

In Valtteri se moedertaal het die Finse skelwoord “perkele” seker die interessantste herkoms.

Aldus dié land se mitologie was Perkele eens ’n paganistiese god, maar met die opkoms van die Christendom is die naam in hul Bybel toegeken aan die gevalle engel wat ’n duiwel geword het.

Sedert sy aansluiting by die Mercedes-span in 2017 is die dreigendste duiwel wat Valtteri Bottas die meeste sukkel om uit te dryf ongetwyfeld die een wat die ander kant van die Mercedes-kuip beset; en wat eersgenoemde vir wedren ná wedren en jaar ná jaar deur sy skynbaar bonatuurlike vermoëns verneder. In die konteks van ’n onmoontlike wanbalans in mag, talent en punte was Sondag se oorwinning vir Bottas betreklik betekenisloos vir sy kampioenskapskanse, maar absoluut beslissend vir die snoer van sy kritici en sy selfveragting.

Want so “onsterflik” is Hamilton in 2020 dat dit baie meer as ’n houtkruis gaan vat – wat nog te praat van ’n paar streng toegepaste reëls – om in die sewe oorblywende rondes van vanjaar se kampioenskap sy slagtande weg van sy sewende jaerskroon te hou.

  • Die Eifel Grand Prix vind volgende Sondag op die Nürburgring in Duitsland plaas.
Meer oor:  Motors  |  Wedren
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.