Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Voet in die hoek:
Breëbek-bielie(tjie)

Die Kia Picanto, Suzuki Swift, Renault Kwid en Datsun Go het pas ’n sterk teenstander in die stadsrakkersegment bygekry. Egmont Sippel het die bekendstelling van Hyundai se nuwe Atos in Kaapstad bygewoon.

Hyundai Atos 1.1 Motion (5-g-hand)
Hyundai Atos 1.1 Motion (5-g-hand) :

Onthou nog die Atos? Die karretjie waaroor mense grappe gemaak het soos: “I couldn’t give A-Toss”?

Wel, in sekere markte is die lewe as die Atoz begin omdat die waentjie, volgens Hyundai, die nodige van “A to Z” gedek het – en hulle was reg: Die gemiddelde motoris benodig eintlik niks meer nie.

Dis hoekom die kleintjie nou ná ’n afwesigheid van ses jaar terug is, want in grootte en prys migreer die motormark, onder druk van die ekonomie, uiteraard na kleiner en goedkoper.

Grappe soos die een hier bo het voorts gespruit uit tye toe die Koreaanse motorbedryf nog in sy sukkelskoene was, soos in 1997 tydens die Atos se internasionale debuut. As Atos Prime is hy in Europa verkoop, as Santro in Asië en in 2005 land hy ter plaatse. Uit Indië.

Mmmm, het entoesiaste gebrom. Dis ’n Hyundai. Hy’s klein. En hy kom uit ’n Derdewêreldse aanleg.

Hoe goed kon hy nou eintlik wees?

Die bekommernis het gou oorgewaai. Net bó die Atos het ’n ander kleintjie uit die Hyundai-stal ’n boodskap gestuur: I’m gonna Getz you.

En hy het. Die Getz het harte verower.

Hyundai Atos 1.1 Motion (5-g-hand)
Hyundai Atos 1.1 Motion (5-g-hand)

Nuwe platform, groter motor

Op die rug van die Getz se uitstekende reputasie is die Atos in ’n nuwe sfeer van aanvaarding ingeabba; goeie toerusting en ’n 3 jaar/100 000 km-waarborg (onthou die syfer) het gehelp en nou’s hierdie stadsknapie vir jonk en oud terug as plaasvervanger vir die i10, menende in die portefeulje-gleuf net onder die Grand i10.

Baie het tydens sy afwesigheid verander (soos stilering wat nou fors, skoon en kordaat is; tjek net daai Nike-vou in die metaal agter die voorwiele) en ook min.

Die nuwe buksie word op Hyundai se nuwe K1-platform gebou en teen net-net meer as 3,6 m is hy ’n volle handlengte langer as voorheen, maar ook ’n pinkie­nael laer en – baie belangrik – ’n handpalm wyer, wat hom sy segment se breedste maak.

Gegee dat die brandstoftenk steeds net 35 liter hou, het ekstra dimensies uiteraard meer kajuitruimte geskep. ’n Persoon van gemiddelde lengte pas nou redelik gemaklik in die agterkajuit sonder om knieë en skouers teen motordele te skuur; kopruimte was nog altyd goed.

Danksy die wyer bak lewer die voorkajuit – met pragtige, sobere ontwerp en uitvoering – oorgenoeg skouerruim vir twee volwassenes om gemaklik langs mekaar te lewe. Daarby is sig in alle rigtings goed, terwyl in- en uitklim deur ’n penshoogte van 165 mm vergemaklik word.

Hyundai het hul Grappler-konsep op laas week se Sema-spesialiteitskou in Las Vegas vertoon. In gees herinner die Grappler aan Audi se Steppenwolf-konsep van byna 20 jaar gelede wat op die TT gegrond was. Die Grappler gebruik die Veloster as basis, maar spog met tydrenagtige Method Race Wheels-wiele, Borla-uitlate, ’n Thule-dakmandjie met hoë-volt-Baja Design-kolligte asook ’n verwyderbare Goal Zero-sonpaneel om onder meer ’n draagbare Goal Zero-kragstasietjie te vuur. Klink goed. Die enigste vraag: Wanneer bou Hyundai hom?

Enjin, remme, vering en stuur

Nes voorheen verplaas die aluminium-kop-en-blok-enjin 1 086 cc, terwyl asemhaling steeds via drie kleppe per silinder (en ’n enkelkopnokas) geskied.

Kraglewering na die voorwiele is egter van 43 kW/89 Nm na 50 kW/99 Nm verhoog. Topspoed is 155 km/h en selfs op kusvlak duur die 0-100 km/h-lopie amper 14,5 s, stadiger as die Kwid en die Go.

Tog handhaaf die outjie homself goed in verkeer, veral omdat die kombinasie van ’n ligte lyf (866 kg) en sterk einddryf (4,438:1) die Atos ordentlik en sonder drama van die lyn af loods, voordat die oondjie hoog in die toerestrek luidrugtig raak. Die lae motorgewig help voorts om gemiddelde brandstofverbruik in ’n volsiklus (stad en oop pad) gemaklik tot minder as 6 liter/100 km te beperk, wat meer as 600 km uit die tenk tap.

Voorlangs ry die Atos steeds op McPherson-stutte en agterlangs op ’n wringas. Die veerstelsel is ’n aks stewig en onverdraagsaam op rowwe teer, maar in’t algemeen vertoon dit nie die lastige springerigheid van motortjies met so ’n kort asafstand nie (2,4 m vir die Atos).

Stewige bougehalte, per eerste oordeel gemaklik op Europese standaard, help ook die 14”-wiele se hoë 70-bandprofiele om ritgehalte heel aangenaam te hou, terwyl die Atos nuwe segmentstandaarde vir GVR (geraas, vibrasie en ruheid) stel.

ABS-ankers met EBD (elektroniese remdrukverspreiding) voel wakker, veral met die eerste vat, en die stuur is lig genoeg vir maklike stadsbestuur, alhoewel die roer soms ook vaagweg lui is om self te sentreer; tipies van Indies verskafde stuurstelsels, soos die Suzuki Ignis s’n.

Die Atos se vyfgang-handratkas skakel egter skoon en positief; ’n outo sal nie plaaslik beskikbaar wees nie.

Toerusting en prys

Standaardtoerusting sluit kragstuur, voorste kragvensters, lugversorging, halogeenkopligte, twee voorste lugsakke, ABS-remme met EBD en sentrale sluit in, asook ’n aanboordrekenaar, ’n aanraak-infovermaakstelsel met Apple CarPlay- en USB-gerief, oopdeur- en oopluik-verklikkers plus klank- en Bluetooth-beheer vanaf die stuurwiel.

Syspieëls stel egter met die hand, sitplekke bied kleedmateriaal, die stuurkolom is onverstelbaar en die laairuim is kleinerig.

’n Diensplan dek een jaar of 15 000 km (Suzuki Swift 2 jaar/30 000 km; op meeste ander teenstanders net as opsie). Die waarborg is egter na ’n bedryfsbeste van 7 jaar/200 000 km gerek, terwyl padbystand 7 jaar/150 000 km dek.

Dís nou vertroue in jou produk!

  • Prys: Hyundai Atos 1.1 Motion (5-g-hand) – R159 900
Hyundai het hul Grappler-konsep op laas week se Sema-spesialiteitskou in Las Vegas vertoon. In gees herinner die Grappler aan Audi se Steppenwolf-konsep van byna 20?jaar?gelede?wat op?die?TT?gegrond was. Die Grappler gebruik die Veloster as basis, maar spog met tydrenagtige Method Race Wheels-wiele, Borla-uitlate, ’n Thule-dakmandjie met hoë-volt-Baja Design-kolligte asook ’n verwyderbare Goal Zero-sonpaneel om onder meer ’n draagbare Goal Zero-kragstasietjie te vuur. Klink goed. Die enigste vraag: Wanneer bou Hyundai hom?
As Hyundai van Donderdag af ’n goeie Rally Australia beleef het, word die vervaardiger straks vroeg vandag as die FIA se wêreldkampioen in die vervaardigers-WRC (World Rally Championship) gekroon. Toyota se Ott Tänak het die tydren as gunsteling vir die jaerstitel betree, maar die Hyundai Shell Mobis WRT-span het met ’n voorsprong vir die vervaardigerstitel weggevlie. Maak intussen gereed om die warm Hyundai i30 N (2.0-liter-turbo; 202 kW/353 Nm na voorwiele; beperkte piekwring van 378 Nm; 0-100 in 6.1 sek.) in Januarie 2020 in Suid-Afrika te verwelkom.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.