Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Brezza draf flink in SA se sakpas mark

Met ’n bemarkingsreël wat lui “It can just get Brezza!” het Suzuki die tydsgees netjies vasgevang met die bekendstelling van sy jongste sakpas knaap, die Vitara Brezza.

Ja, die Brezza-naam is so vreemd as wat sierswem ’n sport is (hoewel die Vitara darem al ’n dekade of drie met ons is). Maar met sy nuwe baba-nuts wat presies tussen die klein Ignis en die groter Vitara inpas, het Suzuki nou ’n sportnuts vir elke smaak en beursie in die mark vir bekostigbare voertuie.

Die Brezza is ’n Indiese voertuig wat in dié land ook ’n weghol-sukses is.

Sedert sy bekendstelling in 2016 is meer as 500 000 modelle al verkoop. Ons weergawe is die opgeknapte model wat verlede jaar in Indië sy buiging gemaak het.

Met afmetings van sowat 4 m lank en 1,8 m breed is die Brezza ’n lekker kompakte nuts wat met die Renault Duster en selfs die Ford EcoSport sal meeding. Hy bied sitplek vir vier volwassenes en die pakplek agter is ook heel waffers.

Die naam is dalk laf, maar die nuwe Suzuki Brezza gaan nog baie harte steel met sy billike prys en lekker ruim kajuit.

Die Brezza is slegs voorwielgedrewe, met die groep se 1.5-liter petrolenjin (natuurlik geaspireerd), maar jy kan uit ’n vyfgang-handrat- of ’n viergang- outomatiese ratkas kies.

Grondvryhoogte is ’n gawe 20 cm.

Sy sterkpunt egter is sekerlik sy lekker lang lysie toerusting. Die twee modelle wat jy plaaslik kan kies, die basiese GL en die deftiger GLX, het albei byvoorbeeld ’n trukamera.

Topmodelle het sleutellose toegang en ’n aansitknop, outomatiese hoofligte met LED-lampe, spoedbeheer en parkeergonsers agter. Daar is ook ’n verkoelde bêrekissie om ’n drankie vir jou piekniek koel te hou.

Ek kon die Brezza vir ’n paar dae voor sy bekendstelling bestuur.

Die handrat verg ’n bietjie mooi mik met die regtervoet en koppelaar om hom nie te laat stol met die wegtrek nie. Maar van daar af draf die Brezza lekker flink voort. Die ratte is nogals kort, en op die snelweg draai die toerenaald al amper by 4 000 r/min.

Dis nou te danke aan sy Indiese fokus wat beteken hy is maar vir stadstoestande ont-wikkel, vandaar die baie kort ratte.

Die Brezza bestuur lig en parkeer werklik maklik in smal ruimtes.

Vier volwassenes sal hulself gemaklik kan maak in die Brezza. Topmodelle kry ’n klein raakskerm.

Op die oop pad het hy egter wel die Ignis se nuk gehad om in die Suidoos te voel of hy maklik heen en weer gewaai word.

Die sitplekke agter sal twee tieners maklik huisves, terwyl die kort laairuim agter ’n paar naweeksakke sal sluk.

Twee praktiese goed wat opgeval het: Die deurkosyne is net te hoog om as elmboogstut te dien, en die deurhandvatsels binne makeer ’n horisontale grypplek benewens die vertikale handvatsel wat verder vorentoe in die deur geplaas is.

Suzuki Suid-Afrika het goed gedoen om die nuwe Brezza so gou moontlik in die land en op die toonvloere te kry.

Oor ’n week of drie bring Toyota sy identiese Urban Cruiser hiernatoe, en dan gaan daardie Toyota-kenteken duisende kopers na die Toyota-handelaars lok.

Meer oor:  Suzuki  |  Sakpas  |  Sportnuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.