Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
C-klas kry ekstra slaankrag

Terwyl talle vervaardigers sukkel om hul middelgrootte sedans lewensvatbaar te hou te midde van ’n versotheid op sportnutse, bly die Duitse vervaardigers se sedans steeds gewild, in besonder Mercedes se C-klas.

Die C-klas is Mercedes se suksesvolste model wêreldwyd met 415 000 wat verlede jaar verkoop is. Boonop word hy plaaslik in Oos-Londen gebou, so ’n mens kan byna sê hy is “Trots Suid-Afrikaans” ook.

Tegnologie verander egter nou vinniger as ooit tevore, in voertuie ook. Om suksesvol te bly moet jy voortdurend verbeter. Dit is Mercedes se hele filosofie met sy opgeknapte C-klas. Dit is egter wat jy nié kan sien nie, wat eintlik saak maak.

Mooi bly maar mooi! Mercedes het sagkens te werk gegaan met die C-klas se visuele veranderinge. Hier is hy in koepee-gewaad. Foto’s: MotorPress

C-klas (Weergawe 2.0)

Dit voel byna verkeerd om na die nuwe model as net ’n opknapping te verwys. Daar is meer as 6 500 nuwe onderdele, byna die helfte van die algehele onderdele-mandjie, asook nuwe enjins en ’n nuwe negegang- outomatiese ratkas.

Verskeie bestuurshulpmiddels is ook nou vir die eerste keer in die C-klas te kry wat ’n heel nuwe ontwerp en uitleg van al die elektronika genoodsaak het. In dié opsig is hy op dieselfde vlak as die weelderige S-klas.

Voorkoms: Wat is nuut?

Al is hy al ’n paar jaar met ons, lyk die C-klas nog heel netjies en vars, so Mercedes het nie nodig gehad om enige drastiese veranderinge aan te bring nie. Die voorste en agterste buffer het ’n paar nuwe ontwerpelemente, met die agterste buffer se ontwerp wat wissel afhangende van die model-en-enjin-kombinasie.

Die hoofligte het ’n nuwe, treffende voorkoms en bestaan nou ten volle uit LED’s, terwyl die opsionele Multibeam LED-ligte veel helderder skyn en outomaties die beste beligting vir verskillende toestande kan verskaf, sonder om aankomende verkeer te verblind. Die agterligte het ’n nuwe, aantreklike ligsamestelling wat ook uit rye LED’s bestaan.

As jy die AMG-stileringspakket met jou bestelling gekies het, kry jy ’n nuwe rooster met ’n diamant-patroon en nuwe lugskort by die buffer. Die ware jakob, die C43 AMG, het sy eie unieke roosterontwerp. Die lugsnoer agter het ’n blinkswart afwerking en die ronde uitlaatpype staan nou meer prominent uit. Daar is ook nuwe allooiwielontwerpe om uit te kies.

Die agterligte het ’n nuwe LED-ligsamestelling.

Kies gerus

Die reeks het ook ’n paar veranderinge ondergaan met enkele modelle wat in die slag gebly het.

Die reeks bestaan nou uit die C180 met sy 1.6-liter-turbopetrolenjin, wat onveranderd gebly het, die C200, wat ’n nuwe 1.5-liter-turbopetrol het, gekombineer met ’n 48 V-kragbron wat ’n bykomende 10 kW en 160 Nm lewer onder vinnige versnelling, terwyl die C300 ook ’n nuwe 2-liter-turbo-kragbron het.

Die dieselgleuf word gevul deur die C220d, wat ’n nuwe 2.0-liter-turbodiesel het. En allermins ten laaste, is daar die C43 AMG, die C63 se “bababoetie”. Die C63 S AMG kry ook ’n opknapping, maar word eers later vanjaar verwag.

Al die modelle het nou ’n negegang- outomatiese ratkas in plaas van die sewegang-outomaties van voorheen.

’n Digitale oormaaksessie

Soos buite, tref die veranderinge binne nie onmiddellik die oog nie. Verskuif jou aandag egter na die digitale stelsels, en die veranderinge is meer opvallend. Die instrumente voor die bestuurder kan nou opsioneel met ’n groot digitale skerm vervang word met verskillende funksies.

Die middelste stelsel huisves jou nutsfunksies terwyl jou foon ook met die stelsel geïntegreer kan word. Die kontroles op die stuurwiel is dieselfde as wat jy in die S-klas kry. Daar is ’n klein raakoppervlak op die stuur waaroor jy jou vinger kan gly om verskillende verstellings te kies.

Die analooginstrumente kan nou opsioneel met ’n digitale skerm vervang word.

Agter die stuur

Van al die modelle wat ons bestuur het, het die C200 met sy 48 V-stelsel die meeste beïndruk. Die ekstra skop wat die elektriese stelsel vir ’n wyle onder vinnige versnelling bied, verseker dat die 1.5-turbo verras met sy soomlose ratsheid, terwyl dit ook die enjin se verbruik suiniger maak.

Die C300 lewer sy krag moeiteloos en teen ’n vinnige pas, meer as genoeg om ’n glimlag te verseker, wat ál breër word met die sportverstelling gekies.

As jy egter daarvan hou om die horison vinniger nader te trek, is die teervreter C43 AMG met sy vierwieldryfstelsel die keuse vir jou. Mercedes het ’n verdere 17 kW uit sy 3-liter-V6 getoor wat nou 287 kW uitskop, terwyl die wringkrag onveranderd is teen 520 Nm. Boonop word sy witwarm verrigting deur ’n pragtige klankbaan gekomplementeer.

Die negegang- outomatiese ratkas stel ook nie teleur nie.

Laaste gedagte

C-klas nommer vier was van die begin af ’n formidabele ryding, nog voordat hy onder die mes was. Met sy nuwegenerasie-enjins, tegnologiese verbeterings en talle bestuurshulpmiddels, het hy nou selfs meer slaankrag. Net jammer dat jy ekstra moet betaal om baie van die nuwighede te kan geniet.

Met Mercedes se belegging van R10 miljard in die Oos-Londen-aanleg om die huidige model se opvolger ook daar te bou, lyk die toekoms heel rooskleurig.

Meer oor:  Mercedes Benz  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.