Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Caddy spel kampeer

Maskas, kyk net so! Volkswagen se nuwe Caddy California is pas oorsee bekend gestel en ons het dadelik die staptekkies en slaapsak in die hangkas gaan opdiep, gereed vir as hy bes moontlik volgende jaar na Suid-Afrika kom.

Soos ons onlangs berig het, het die landskap vir mini-avonture in Europa merkbaar toegeneem, en straks noudat die Covid-19-pandemie sy pylvak bereik, gaan klein en kort wegbreke ál meer van ’n ding vir jong mense wees.

Dit is hierdie mark wat Volkswagen graag wil tap met sy nuwe Caddy California, ’n reiswa-weergawe van sy bekende Caddy-bussie. Die nuwe Caddy California is op die nuwegeslag-Caddy geskoei, die vyfde model in die Caddy se leeftyd.

Dit beteken hy ry op die VW-groep se nuwe MQB-platform, wat toegang bied tot die vervaardiger se jongste elektronika, tegno-hulpmiddels en enjins. VW het die nuwe Caddy California pas aanlyn in Europa bekend gestel, en dit behoort teen vroeg volgende jaar in Europa op die mark te wees.

Met hierdie doelgemaakte uitvoutent met sy drie modulêre eenhede word die nuwe Caddy California ’n kitsvakansiewa vir ’n gesin van vier.

Sou daar genoeg belangstelling vanuit Suid-Afrika wees, kan VWSA hom ook hiernatoe bring, met die verwagte datum so middel 2021.

Teen daardie tyd wil VW ook al ’n lang­as-weergawe van die California markgereed hê.

Die nuwe Caddy California se koms beteken die VW-groep brei sy California-naam nou na ’n derde bussie uit. Vantevore was dit slegs vir die Kombi California gereserveer, maar sedert verlede jaar kon jy dit ook as ’n lekker groot woonwa-bussie aanskaf, geskoei op die Crafter-paneelwa se lyf. Die Caddy California beteken VW bedien nou die volle spektrum van die reiswa-mark, van die mini-kampeerwa (die Caddy) tot die Crafter-reiswa.

Die Caddy California is weliswaar klein (4,5 m lank), maar in sy ruim het die groep ’n rits slimmighede ingepas wat jou kampeerlewe geriefliker as rondrol in ’n nat slaapsak in jou tent vol gate sal maak.

Die bussie is toegerus met sy eie uitvoubed, ’n uittrek-kombuis, sagte LED-beligting, gordyne by die vensters, pakplek bo en onder vir enigiets van jou gasbottel tot jou tandeborsel, en die VW-groep se jongste digitale raakskerm op die instrumentpaneel.

O ja, daar’s ook ’n doelgeboude app wat jou help soek na kampeerplekke, winkels, en ’n plek waar jy jou vullis kan weggooi.

Twee mense kan met ’n knipoog en ’n lepellê agter op die uitvoubedjie pas.
Heel agter is die ingeboude kombuis, kompleet met ’n gasstoof (die gasbottel sit agter teen die laaibak se wand) ingebou. Die deksel vorm ook ’n nuttige windskerm.

Die bed vou in drie dele op en kan netjies weggepak word of uitgevou word om ’n lêplek van 1,9 m lank by 1,0 m breed te bied. Onder die bed is stoorplek.

Teen die een wand van die Caddy se ruim is daar ’n kombuis wat jy soos ’n laai uittrek. VW sê die gedagte is dat jy onder die opwip-luikdeur staan en kosmaak. Dit is dus gemakliker as om in die kajuit te moet sit en werk, terwyl jy steeds teen die elemente beskerm is.

Vir die dak kan jy kies tussen ’n panoramiese sondak om met die sterre in jou oë te gaan slaap, of om ’n tent op die dak te monteer (vir twee mense).

Die tent is wel modulêr en kan afgehaal en op sy eie benut word. Dit is ook vrystaande, sodat dit nie tentpenne nodig het om orent te bly nie.

In die Caddy se kajuit kan jy ook besluit of jy die agterste sitplekke wil behou of eerder uithaal, voordat jy op jou vakansie vertrek.

Onder die enjinkap sit die VW-groep se jongste weergawe van sy 2.0-liter-turbodieselenjins. Dit sal met twee kragvlakke beskikbaar wees, 55 kW en 90 kW. Gaaf om te weet is dat daar voortaan ook ’n 4x4-weergawe sal wees, vir wanneer jy die stofpaaie wil gaan aandurf.

Tegniese hulpmiddels sluit in ’n selfstuurfunksie waar die Caddy homself in sy baan kan hou in spitsverkeer, en ook self kan rem en versnel saam met die verkeer. ’n Ander nuttigheid is die sleepwa-stuurstelsel – dit keer dat die sleepwa knipmes as jy tru stoot.

Kom ons hoop VWSA bring die klein kampeerwa na ons waters ook, want dit beloof heerlike pret vir die nuwe geslag.

Meer oor:  Motors  |  Volkswagen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.