Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Charles Leclerc, Monza se liefling

As jy ’n Formule Een-renjaer is, is die twee renne wat jy móét wen, jou tuisren en Monaco.

Ry jy ’n Ferrari, dan troef één ren egter albei bogenoemde: Monza. Vir sy mite. Vir sy legende. Vir sy spoed. Maar bowenal, vir die messiaanse ontvangs waarmee jy geseën word as gesalfde van die Italiaanse volk. Want in Italië is Ferrari nie net die nasionale renspan nie; dis ’n geloof.

Ferrari se Charles Leclerc het Sondag ’n verbete poging van Mercedes se twee Silwer Pyle, met Lewis Hamilton en Valtteri Bottas agter die stuur, afgeweer om sy rooi hings voor ’n fanatiese tuisskare op Monza eerste oor die wenstreep te stuur. Foto: Getty Images

Daarom het Maandag se opskrif in La Gazzetta dello Sport, die land se toonaangewende sportdagblad – gedrup van die vreugde en passie en dieselfde gees vasgevang waarmee derduisende van hulle as aanbiddende toeskouers “Il Canto degli Italiani” die vorige dag uit volle bors gesing het toe hul jongste volksheld, die 21-jarige Charles Leclerc van Monaco, die boonste trap op die Monza-podium bestyg het ná die ren van sy lewe.

Dit is ’n vurige, aansteeklike volksliefde wat ontroerend is om te aanskou, die irrasionele kan rasionaliseer en perspektief bied op die legende van F1 se langsdienende dinastie.

Leclerc se sjampanjespuitery oor die see van betraande volgelinge was daarom meer as net ’n suksesviering; dit was die spreekwoordelike reën waarvoor daar gebid is ná ’n nege jaar lange segedroogte deur dié span in sy tuisren – en ’n streep in die sand ná jare van vernedering en ontheiliging deur Mercedes by die Tempel van Spoed, waar die gemiddelde rondtesnelheid meer as 260 km/h is. Die heilige grond waar Leclerc Sondag sy wonderwerk gelewer het.

Hy het eerste weggespring, gejaag deur die Mercedesse van Lewis Hamilton en Valtteri Bottas, en die ander Ferrari van Sebastian Vettel. Húlle van swak hart of konstitusie moes liefs nie gekyk het nie, want vir die volgende 41 van die wedren se 53 aangrypende rondtes was die gaping tussen Leclerc en die genadelose Hamilton ’n gemiddelde van net 0.951 sekondes.

Om niks te sê van die verwagting van die hele Italië nie, het die leeumelker Leclerc die haas onweerstaanbare druk van die bloedhonger Hamilton in hul epiese tweestryd weerstaan, en rondte vir rondte sy motor millimeter-perfek geplaas sodat die Mercedes-jaer net-net nie kon verby nie – by tye ’n hardhandige benadering wat vir Leclerc ’n formele waarskuwing in die sak gebring het.

Maar Leclerc was onwrikbaar: op die pylvakke was dit asof sy pronkende perd sy snoet in ’n saalsak vol steroïede kon sink, want keer op keer kon die Silwer Pyl met moeite net-net langsaan, maar nooit voor die Ferrari intrek nie.

Leclerc het verras toe hy met sy enkele kuipestop die hardste moontlike band aangevra het, wat gewaarborg was om die volle renafstand te hou, maar ten koste van stadiger rondtetye.

Daarteenoor het albei Mercedes-jaers die vinniger, maar minder duursame mediumdigteband laat monteer.

Slim – of slim vang sy baas?

Ferrari se deurslag het gekom deurdat Sebastian Vettel ná ’n tolslag in die sesde rondte dieselfde bandtipe gekies en later oor hul geskiktheid terugrapporteer het, terwyl Mercedes nooit dié ongeliefde harde bandsoort oor die naweek se oefensessies getoets het nie en daarom onwillig was om daarmee te dobbel.

Vir ’n verandering was Ferrari in die kol; boonop het sowel Hamilton as Bottas se bande later die gees gegee voor die val van die geruite vlag. Hamilton het in die 42ste rondte sy remme tydelik gesluit, waarna Bottas op varser Pirelli’s verby is om self vir Leclerc te probeer inhaal, maar vergeefs.

Leclerc het agterna gesê hy het sy les by vanjaar se Oostenrykse resies geleer, waar hy enkele rondtes voor die geruite vlag deur ’n meer aggressiewe Max Verstappen in sy Red Bull van sy voortou beroof is omdat hy te maklik sy posisie prysgegee het uit vrees vir oorywerige reëltoepassing. Nie Sondag nie. Nooit weer nie.

Leclerc se oorwinning het hom verewig in die hart van die Italiaanse volk en F1-geesdriftiges oor die wêreld heen. Dit was ’n beslissende oomblik waar hy fakkeldraerskap van die Ferrari-span oorgeneem het in die afwesigheid van sy kwynende spanmaat, wat omrede sy soveelste fout Leclerc vir die silwer wolwe gegooi het, maar daarmee saam onbedoeld Leclerc se uithouvermoë teen die aanslae van Hamilton as gedugte vyfmalige wêreldkampioen (én sy spanmaat) soveel meer indrukwekkend laat vertoon het.

Dit help natuurlik dat hy vlot Italiaans kan praat, maar Charles Leclerc hoef en gegewe die SF90 se fatale, fundamentele ontwerpfoute – behoort – nooit weer ’n Grand Prix in 2019 te wen nie.

Want sy plig is Sondag volbring. Die onus is nou op Ferrari om hom ’n motor te gee wat waardig is om die wêreldkampioenskap mee te wen.

  • Die Singapoerse ren vind volgende Sondag plaas.
Meer oor:  Charles Leclerc  |  Motors  |  Formule 1  |  Motorsport  |  Renjaag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.