Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Cherokee nou ’n ware bielie

Op sy dag in die vroeë 2000’s het Jeep die wêreldbekendstelling van sy nuwe Grand Cherokee hier in Suid-Afrika kom hou – wat nogal ’n pluimpie vir die land was.

Vandag is daar weer ’n nuwe Grand Cherokee in vertoonlokale, maar hierdie keer is dit te betwyfel of hy hoegenaamd sy weg na ons gaan vind.

Blameer die hopelose wisselkoers hiervoor. Teen die tyd wat Fiat Suid-Afrika sy rande vir dollars verruil het, en nog invoerbelasting ook gehoes het, gaan hy so duur wees dat sy prys bloot onrealisties vir sy marksegment gaan wees.

Maar wat bied die nuwe Grand Cherokee sy koper als?

Jeep se nuwe Grand Cherokee is voortaan ’n sewesitplekker. Gedugte veldrystelsels en lugvering sal top-modelle help om randstene met gemak te beklouter.

Eerstens, dit het Fiat amper tien jaar geneem om die opvolger afgehandel te kry. Dis duur om ’n nuwe voertuig te ontwikkel, en geld is eerder na ander projekte geskuif. Dis ook duidelik as ’n mens na die nuwe Grand Cherokee kyk, waar die enjins onveranderd gelaat is, dat die begroting grootliks op voorkoms, kajuit en veringstelsels bestee is.

Die groot nuus vir Jeep-aanhangers natuurlik is dat die Grand Cherokee nou vir die eerste keer ’n sewesitplekker is.

Hy is ’n paar sentimeter langer as sy voorganger, met ’n langer asafstand ook – om plek te maak vir die ekstra ry sitplekke héél agter.

Dis maar die tendens en behoefte by kopers vir hierdie klas van groot sportnutse, en Jeep voel hy het kopers verloor wat na daardie ekstra sitplekruimte gesoek het.

Die ontwerp self bied ’n heel nuwe voorkoms wat baie meer stasiewa-agtig is as die hardebaard-veldryer van weleer.

Die kajuit lyk modern met sy hout- en leerafwerkings. ’n Nuwe agtgang- outomatiese ratkas maak sy debuut in die Grand Cherokee.

Hierdie tipe voertuie vandag is menskarweiers in stede. Die kopers wil hoog sit, baie weelde en tegniese geriewe hê, en bloot weet hy het goeie veldryvermoëns.

Dit gesê, daar sal drie aandryfstelsels beskikbaar wees waaruit kopers kan kies: QuadraDrive I, QuadraDrive II en die QuadraTrack II.

Die eerste opsie bied jou slegs 4x4-aandrywing sonder ’n laestrekratkas (jy kan wel 4x2-modus ook benut), die tweede opsie gee jou ’n laestrek­ratkas bykomend, terwyl die derde opsie ’n elektroniese sluitewenaar op die agteras byvoeg, saam met die laestrekratkas en 4x4-vastrap.

Nuut op die modelle is egter ook lugvering en aktiewe skokbrekers.

Dit beteken jy sal jou ryhoogte kan verstel, sou jy oor randstene wou klouter, terwyl die aktiewe skokbrekers aanpasbaar is om hul fermheid in ’n oogwink te verstel wanneer jy dinamies op die pad wil ry.

Aandryfstelsels is egter, soos ons genoem het, net so oorgedra uit die ou model van ’n dekade gelede. Daar sal weer die bekende 3.6-liter-V6 (216 kW, 348 Nm) en die 5.7-liter-V8 (266 kW, 530 Nm) te kry wees, albei petrolgedrewe en natuurlik geaspireer. Jeep verkies dit nog uit die ou skool. Die ratkas is wel ’n nuwe agtgang- outomatiese een van die ZF-groep, wat ook Volkswagen, Audi en BMW van ratkaste voorsien.

In die kajuit is dinge gewis heel spoggerig, soos hierdie klas kopers van hul voertuie verwag.

’n Groot raakskerm sit in die middel van die instrumentpaneel, en voor die bestuurder is daar ruitinligting wat laag op die voorruit geprojekteer word.

Die Grand Cherokee sal ook ’n kamerabeeld in sy truspieëltjie hê, soos wat die nuwe Land Rover Defender benut.

Vir ’n paar rand ekstra kan jy die Summit Reserve-pakket kies, wat jou sagte Italiaanse leerbekleedsel bied asook Europese houtafwerkings.

Kom ons hou maar duimvas dat die fris, nuwe Grand Cherokee tog sy weg later na Suid-Afrika vind.

Meer oor:  Motors  |  Grand Cherokee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.