Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
China se hik laat res skrik

Dalende verkope van e-voertuie in China het die mark laat regop sit. Is dit ’n nuwe tendens? Marnus Hattingh neem bestek op.

Vir die ingeligtes was verlede week se swak verkoopsyfers van elektriese voertuie in China glad nie ’n verrassing nie. Maar vir die res van die wêreld was dié onverwagse daling genoeg om vervaardigers, ontleders en beleggers regop te laat sit.

China is sedert 2015 die wêreld se grootste mark vir e-voertuie. Dit het onder meer daartoe gelei dat van die grootste Amerikaanse en Europese vervaardigers besluit het om ’n voet in die deur te kry deur fabrieke in China te open wat e-voertuie vir dié groot mark kan bou. Nou begin sommige beleggers wonder of hierdie kaartehuis nie straks inmekaar kan tuimel nie. Die rede? China se besluit om sedert 26 Junie sy grootskaalse subsidies van e-voertuie te halveer.

Die impak van hierdie besluit was dadelik in Julie se verkoopsyfers te sien. Verkope het in Julie gedaal – die eerste keer nog vir e-voertuie in hierdie mark. Wat dadelik die fokus plaas op die rol en invloed van subsidies op kopers se gedrag.

Slim plan boemerang

Europa opsigself is nie onbekend aan die impak wat subsidies op verkope het nie.

In die draai van die eeu het Duitse vervaardigers die Europese Unie oortuig dat turbodieselvoertuie beter vir die klimaat is as petrolgedrewe voertuie.

Dit is nou danksy hul lae CO2-uitlaatsyfers.

Die resultaat was dat sedert die vroeë 2000’s die EU en sy lidlande die verkoop van dieselvoertuie sterk met subsidies gesteun het. Vandag nog is dieselvoertuie in Europa werklik opvallend, en in Frankryk was die verhouding in ’n stadium selfs so hoog as dat twee uit elke drie nuwe voertuie ’n dieselmodel was.

In China wou die owerhede sy groot kopsorg met lugbesoedeling takel deur verkope van e-voertuie te stimuleer. Afslag van 50 000 yuan is aan e-voertuie toegestaan wat ’n reikafstand van 400 km of meer gehad het.

Hoewel die gedagte edel was, het China se talle klein, nuwe vervaardigers van e-voertuie ’n skuiwergat gesien deur hul bestaande (petrolenjingedrewe) stadsmotortjies na batteryvoertuie om te bou, en dan as sulks onder die steunplan te verkoop.

Omdat die voertuie klein was en ook baie lig, danksy ’n bakwerk van swak gehalte, kon hulle maklik die reikafstand-teiken haal, en dus kwalifiseer vir die afslag.

Dit was dus nie verkope van tradisionele e-voertuie soos die Toyota Prius of Honda Insight wat so sterk was nie; eerder verkope van kleiner, goedkoper en plaaslik omgeboude voertuie.

Handelsoorlog

Die afgelope jaar is die Chinese regering in ’n handelsoorlog met Amerika gewikkel, en het sy ekonomie begin taan.

Die owerhede het vroeër die jaar al aangekondig dat hy sy groot subsidies sal moet sny, maar die impak was steeds ietwat van ’n verrassing.

Dit wys veral hoedat Chinese kopers eerder op prys koop as op die gedagte om ’n “groen” koopbesluit te neem. Dit is nou aangesien die omgeboude e-voertuie – met die subsidie – goedkoper was as hul petrolgedrewe ekwivalente.

Noudat die prys nie meer so gunstig is nie, heroorweeg kopers hul koopbesluit.

Die einde van die e-golf?

Doemprofete kan egter eers weer terug gaan sit op hul plek. Hoewel verkope in China en Amerika in Julie gedaal het, het dit steeds in Europa gestyg.

Die groot Europese vervaardigers het vanjaar werklik momentum begin kry met die uitbreiding van hul portefeuljes nuwegenerasie-e-voertuie. Dit is hoofstroom­-modelle wat op gesinne gemik is en wat prakties, aantreklik en doelgebou is.

Die voertuie gaan in die nuwe jaar nog meer en meer raak soos die vervaardigers hul modelreekse uitbrei. Die pryse is steeds buitensporig hoog, wat hul volume sal beperk tot slegs ryk kopers. Maar die verwagting is dat die groei sal volhou, en dat dit tot skaalvoordeel en dus ’n verlaging in koste (en dus ook pryse) sal lei.

Regerings en plaaslike owerhede het egter wêreldwyd ’n groot impak op die rigting wat die bedryf kan inslaan. Dit is natuurlik die bekende stok-en-wortel-model, waar subsidies die wortel is wat kopers moet lok, terwyl groot stede die rol van die stok vertolk wat strawwe op die gebruik van petrol- en dieselvoertuie plaas.

En tussen dit is die onbekende faktor van binnekamer-politiek, tussen die motorbedryf en die politici. Vir die motorbedryf is e-voertuie nog peperduur om te bou en die sakeplan nog ver van winsgewend. Hulle voldoen dus aan die behoefte, in ’n mate, maar langtand. En vir die politici gaan dit oor eiebelang, dus die volgende verkiesing en hoe om bestaande sentiment tot sy guns te benut.

Of e-voertuie dus werklik die binnebrandenjin uit die pad gaan skuif, is nog ’n onseker gebied.

Grafika24
Meer oor:  E-Voertuie  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.