Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Citroën gee baba-nuts omgekrapte voorkoms

Citroën het sy klein sportnuts, die C3 Aircross, pas in Europa van ’n verjongingskuur voorsien. Die opgeknapte model behoort teen die einde van die jaar sy opwagting in Suid-Afrika te maak.

Soos dit met opknappings gaan, is dit grootliks die neus en stert wat ’n nuwe voorkoms het, terwyl Citroën ook enkele verbeterings aan die kajuit aangebring het.

Vir ’n klein sportnuts lyk Citroën se opgeknapte C3 Aircross sommer baie omgekrap. Die diep rooster is dalk ’n bietjie oordoen, maar ons hou van die skrefiesoog-hoofligte.
Die Galliese neus

Gelukkig niks wat Gerard Depardieu verleë sou maak nie, maar die sierrooster is wel nou ’n groter eenheid aan die onderkant van die neus, wat die sportnuts nou ’n meer aggressiewe voorkoms bied.

Aan die bokant van die neus weer is die hoofligte nou in twee skrefiesoog-eenhede gesplit. Dis nou danksy moderne LED-hoofligtegnologie wat maak dat die vervaardigers hierdie kleiner lighulse kan inspan, en nie meer die groot eenhede wat nog onlangs gebruik moes word nie.

Die bakwerk het nou ook enkele kleure ryker geword op die keuse-palet, hoewel ons nog nie seker is hoe baie hiervan ook vir Suid-Afrikaners beskikbaar gaan wees nie. Die Europeërs het egter toegang tot 70 kleurkombinasies, wat die bakwerk en opsionele tweede kleur vir die dak insluit.

Hy sit so lekker

Dalk onthou jy nog so ’n dekade gelede se C4 Cactus, die luikrug van Citroën met die skermstroke teen die deure wat lugballone bevat het. Ieder geval, een van die minder bekende kenmerke van die Cactus was sy gevorderde sitplekke, wat nou ’n terugkeer in die C3 Aircross maak.

Die raakskerm het nou meer ingeboude nutsfunksies en ’n skerper beeld, sê die Franse.

Citroën sê die sitplekke is gemakliker op die langpad en bied beter en sagter steun. Die sponse se patrone het ook nou ’n nuwe voorkoms.

Op die instrumentpaneel is daar nou ’n groter kleur-raakskerm wat die vervaardiger se jongste blikbrein-verwerker bevat. Die skerm se beelde is skerper en helderder, en kan koordloos met jou slimfoon gekoppel word.

Jy kan ook verskeie apps van Citroën daarmee benut, soos om na ’n restaurant te soek of om ’n diensafspraak vir jou voertuig te maak.

Tussen die voorste sitplekke het die slim witjasse ook ’n nuwe bêrekissie ingebou. Die kissie het ’n glydeksel bo-op, sodat die voorste én agterste insittendes die kissie kan benut. Of die voorste passasiers egter kort-kort hul elmboë sal wil oplig, is ’n ander vraag.

Meganies is daar niks aan die C3 verander nie. Hy benut steeds die PSA-groep se 1.2-liter-petrolturbo wat 81 kW lewer, gekoppel aan ’n sesgang- outomatiese ratkas wat krag na die voorwiele stuur.

Verwag die opgeknapte C3 Aircross in die vierde kwartaal in Suid-Afrika.

Meer oor:  Voorkoms  |  Sportnuts  |  Model
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.