Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Civic blaas lewe in sedanmark
In sy topmodel­gewaad lyk die Honda Civic Sport heel spoggerig met swart aksente by die wiele, neus en spieëls. Daar’s ook ’n wintie drukvlerk agter. Benewens die gawe voorkoms ry die Civic ook heerlik, het ons gevind.

Klein sedans is lank nie meer die voorkeurryding vir jong gesinne nie. Tog het ons vandag steeds ’n hele paar opsies om van te kies.

Dink maar aan Mazda se nuwe Mazda3, die Hyundai Elantra, Audi se A3-sedan, Mercedes se A-klas-sedan en Toyota se Corolla en die sakpas weergawe, die Corolla Quest. Iewers moet dus nog ’n vraag hierna wees.

Prys eenkant gelaat, is Honda se Civic gewis my voorkeurkeuse uit dié troppie. Jy kan sommer met sy gawe voorkoms begin: ’n elegante traandruppel-profiel wat net deur die Elantra geëggo word. Voeg hierby ’n praktiese, stylvolle binneruim en ’n heerlike rit en die Civic maak hope sin.

Die Civic is al sedert 2016 met ons, maar het laat verlede jaar ’n opknapping ondergaan. Die verskille is maar klein, en boonop net voorkomsgewys en ergonomies.

Die twee enjins (’n natuurlik geaspireerde 1.8-liter en ’n 1.5-liter-turbo) is onveranderd gelaat.

Vir my toetsmotor het ek op die mooi Civic Sport besluit – toegerus met die flinker turbo-enjin (127 kW, 220 Nm) en afgewerk met ’n klein drukvlerkie agter en swartgeverfde sierrooster en sierwiele.

Die binneruim se opknappings is in reaksie op klagtes van verbruikers. In die verlede het die raakskerm al die nutsfunksies gehuisves, wat normaal is, maar soms moes jy deur heelwat tuimelkassies swoeg om sommige funksies te aktiveer of van iets te verwissel. Dit was omslagtig.

Nou het Honda weerskante van die skerm aparte skakelaars gesit vir die radio, om jou foon te koppel en ’n “terug”-knoppie wat jou flink terug na die begin neem. Daar is nou ook ’n volumeknop, waar daar voorheen net ’n raakoppervlak was vir dié funksie (wat moeilik in die ry beheer is).

Ek hou van die Civic se rit. In die dorp sit jy weliswaar nogal laag agter die stuur, maar die stuuraksie is lekker lig en parkeerwerk geskied in ’n kits danksy ’n trukamera, gonsers en die flinke tol van die voorwiele as jy net raak aan die stuur.

Op die oop pad het ek gou ’n lae verbruiksyfer (sowat 7 liter) gekry en danksy die turboaangejaagde enjintjie kan jy in ’n kits verbysteek. Klankdigting was ook goed, iets wat Honda ook opgeknap het vir die verfriste model.

Die Civic Sport is slegs met ’n CVT-tipe outomatiese ratkas te kry, in egte Japanse tradisie, maar toegegee dié ratkas is nou in sy jongste ontwikkeling en voel al heelwat beter as in die verlede. As jy hard versnel, klink hy nie meer na ’n kwaadgemaakte haardroër soos hy dreun nie.

So, wat rit en afwerkings en voorkoms betref, is die Civic my gunsteling- klein sedan. Sy prys is wel redelik styf in vergelyking met sy mededingers – ons top­model raak-raak al aan ’n halfmiljoen rand. Ons reken dis egter die premie werd.

Honda Civic Sport – R474 700.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.