Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Coupé GTS bied eie karakter

Die GTS-naam het al ’n klein ereplek in Porsche se onlangse geskiedenis uitgekerf.

Dis vir daardie eiesoortige, maltrap-modelle waar die beste verrigtingsyfers nie die doelwit is nie, maar eerder ’n ouskoolse ry-ervaring waar jy die enjin kan hoor grom, en daar is ’n donkie­skop in jou rug by ’n rooi lyn wat eers eindig as die silinders aan die enjinkap klop.

In elke modelreeks het Porsche nou al ’n GTS-weergawe, maar die jongste wat sy plaaslike buiging gemaak het, is die Cayenne Coupé GTS. Dis nou die mededinger vir BMW se X6 en Mercedes se GLE-koepee, daardie sportnutse met die baksteen-kuif voor en die poniestert-skuinsrug agter.

In die Cayenne-gesin het die GTS-modelle wel al ’n redelike paadjie gestap. In die eerste generasie was die bedoelings uit Stuttgart eenvoudig en duidelik: ’n natuurlik geaspireerde V8 in die eerste geslag, toe ’n biturbo-V6, en nou is ons terug by die V8 met turboaanjaging.

Porsche se nuwe Cayenne Coupé GTS – ’n haastige knaap as die gesin ongeduldig is om in Hermanus te kom.

Porsche, raai ’n mens, sou graag wou hou by die natuurlik geaspireerde roete. Maar die nodige verrigtingsyfers sou jy nooit met so ’n enjin kon haal nie.

Onder die enjinkap sal jy die Cayenne Turbo se 4,0-liter-biturbo-V8 vind, maar nou net met ’n makker gestelde kraguitset. Wel, makker in relatiewe terme, want sy 338 kW en 620 Nm wringkrag is steeds nie te versmaai nie.

Selfs al is dit ’n handvol laer as die Turbo se 404 kW en 770 Newtons, en die Turbo S se onbetaamlike 500 kW en 900 Nm wringkrag.

Maar, jy kry ’n voertuig met ’n ander karakter. En steeds heelwat skop in sy kuite.

Eerstens is daar die enjinklank, wat danksy spesiale kleppe in die uitlaatstelsel vir ’n diep geroggel sorg, veral in Sport-modus. Lig jy ook die voet nadat jy hom hoog in die toere gejaag het, sal die enjin so ’n heerlike borrel-geluid laat opklink soos ’n DKW wat afrat met Jan Wilkens agter die stuur.

Maar daar is ook die voorkoms. Die GTS kry heelwat swart aksente – die spruitstukke, die kantspieëls, die sierwiele, die rooster, die donker getinte flikkers. Dit als laat die GTS soos iets lyk wat die ombou-kêrels moes gemaak het, maar toe met te veel inspirasie weggehardloop het.

Standaard kom jou Coupé GTS met staalvere, maar lugvering is opsioneel te kry. Die skokbrekers is wel aanpasbaar en kan fermer verstel word in Sport sou jy ’n sportiewer gedrag om die draaie wou hê.

Vir ’n groot sportnuts voel die Coupe GTS egter heel rats.

Die versnelling danksy die twee turbo’s is blitsig, en momentum in skerp draaie word goed in toom gehou danksy sopbordgrootte remskywe.

Sou jy gewonder het, ja, die skuinser daklyn agter bied ’n effe kleiner sitruimte, maar die slim ouens by Weissach het ook hieraan gedink, en toe die sitplek met 2 cm laat sak sodat jy eintlik net 1 cm vir jou kuif verloor.

Maar dis mos nie eintlik jy wat ooit daar gaan sit nie, of hoe?

Vir die langpad maak die Cayenne altyd sin, in standaard- of koepee-gewaad. Die instrumente is effe ryk aan knoppies, maar jy het deesdae ’n klein raakskerm wat al jou nutsfunksies huisves.

Weerskante van die rathefboom sit daar nog ’n falanks skakelaars, wat kitstoegang bied tot dinge soos vering of ritmodus.

Jy sal verbaas wees hoe baie kopers is daar wat belangstel in hierdie tipe rygoed. Teen net onder R2 miljoen klop die Cayenne Coupé GTS sy mededingers op prysvlak soos die BMX X6 M50i en die Mercedes GLE53 Coupe.

Maar jy kry daardie gesogte sleutel in jou hand, en dis waarna die kopers eintlik op soek is.

Prys:

Porsche Cayenne Coupé GTS – R1 839 000.

Meer oor:  Karakter  |  Sportnuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.