Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Cruiser in Namib-weergawe vir laatslapers

Daar is min dinge wat die begrip “hardebaard” uitspel soos ’n fris Land Cruiser. Toyota se enigmatiese veldryer is nie net legendaries in 4x4-kringe nie, die kanniedood oorheers ook die wenslyste van menige Afrika-avonturier­forums.

Reg vir die langpad deur die duine – Toyota se gewilde Land Cruiser 79-bakkie is nou weer in ’n spesiale Namib-weergawe te kry, in ’n enkel- en dubbelkajuitmodel.

Laat verlede jaar het Toyota Suid-Afrika ’n spesiale model die lig laat sien, die Namib. Slegs 60 modelle is na handelaars oor die land heen versprei. Maar so gewild was die veldryer dat hy reeds in Januarie uitverkoop was.

Dit het Toyota genoop om weer ’n paar Namib-modelle na die mark te bring, en hierdie keer is hy nou ook in die enkelkajuit-Cruiser beskikbaar. Dit nou nadat kopers daarom gevra het.

Wat behels die pakket als?

Die Namib-Cruiser is op die gewone Land Cruiser 79 geskoei, maar kry enkele veldry-items bygevoeg wat die lewe agter die stuur anderkant Maun net daardie raps geriefliker – en praktieser – maak.

Wat die uiterlike betref, sal jy die Namib herken aan sy nuwe sierrooster met ’n dig geweefde, swart roosterpatroon, ’n dik bosbreker, ’n dikker buffer voor en agter en twee groot misligte op die voorste buffer gemonteer.

Agterlangs kry jy ’n ekstra dwarsstaaf bo die buffer terwyl die laaibak met ’n dik beskermlaag uitgevoer is.

En binne?

Aangesien jy lang ure deur die Kalahari agter die stuur gaan deurbring, het Toyota ’n praktiese seilbedekking vir die sitplekke aangebring. Die mossienes word in die ry verkoel deurdat die lugversorging ’n ekstra pyp na die bêrekissie verbind; en bo teen die dak is ’n ekstra bêrekonsole met liggies waarin jy padkaarte van Etosha en ’n paspoort kan sit.

Die Namib-model is nou in beige asook wit beskikbaar. Toyota se kanniedood-V8 van 4,5-liter doen steeds diens onder die enjinkap. ’n Laestrek­ratkas en 4x4-vastrap is standaard.

Iets aan die meganika?

Die vering is intussen ook opgeknap met sterker skokbrekers sodat jou volgelaaide Cruiser makliker deur slaggate kan ploeg as jy haastig op pad na die grenspos is. Cooper Discoverer 16-duimers doen die drafwerk oor die sinkplaatpaaie. Die enjin is steeds die fieterjasielose 4.5-liter-V8 petrolenjin wat 151 kW en 430 Nm wringkrag lewer.

O ja!

Die Namib is nou in enkel- en dubbelkajuit te kry, en slegs in ’n wit en beige kleur. Die kajuit is darem al heelwat gemoderniseer vandat jy jou oom se Cruiser op skool bestuur het.

Daar is nou ’n raakskerm binne met ’n satnav-funksie, elektriese vensters, USB-sok en Bluetooth-funksionaliteit.

Pryse:

Land Cruiser Namib (enkelkajuit) – R842 200;

Land Cruiser Namib (dubbelkajuit) – R911 500.

Meer oor:  Toyota  |  Land Cruiser  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.