Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Datsun het plan met klein sportnuts
Datsun het verlede jaar by die Tokio-motorskou hierdie bykans produksiegereed konsepmodel gewys, die Cross. Dit is op die Go+ geskoei, maar met ’n hoër grondvryhoogte en ’n hardebaard voorkoms.

Aan die sakpaskant van die mark het Datsun se klein Go (luikrug) en Go+ (langer sewesitplekker) reeds ’n stewige voet neergesit met gesonde verkoopsyfers.

Joernaliste was nog glad nie oortuig van die Indies geboude Go se hantering op die pad of weens sy swak vertoning in bots­toetse nie. Maar dit het ’n mark wat smag na private mobiliteit nie verhinder om hom soos soetkoek op te raap nie.

Veral die Go+ met sy sewe sitplekke word gereeld as ’n taxi gesien, terwyl die luikrug-Go weer gewild by motorverhuringsgroepe is.

Hoe ook al die kenners oor die verdienste van die Datsun Go voel, die baadjiedraers aan die stuur van die groep glimlag tevrede met sy wêreldwye sukses. Om nou munt hieruit te slaan, wil Datsun ’n nuwe weergawe van hom die lig laat sien – ’n omgekrapte klein sportnuts in die luim van die Toyota Etios Cross.

Verlede week is die nuwe Datsun Cross in Indonesië bekend gestel en ons vermoed sou Datsun besluit om hom wel na Suid-Afrika te bring (daar is nog geen formele planne hiervoor nie), gaan hy net so gewild soos sy stalmaats wees.

Die Cross is op die Go+ geskoei en bied ook die langer lyf met die sewe sitplekke. Swart plastiekbeskerming is al om die voertuig se some vasgesit terwyl ’n swart dakrak lêplek vir jou bergfiets voorspel.

Agter is ’n klein drukvlerk by die luikrugdeur aangebring, terwyl die voorste buffer heel sportief lyk met sy silwer plastiekpaneel wat as ’n beskermer teen opskietklippe moet dien. Ons hoor ook die vering van die Cross is ’n sentimeter of wat gelig, terwyl die voertuig groter 15-duimers kry.

Binne sien ons ’n netjiese swart instrumentpaneel omlyn met silwer plastiekpanele en nagemaakte koolstofveselpanele. Bo die rathefboom is ’n raakskerm van waar jy die radio en lugversorger kan beheer. Ons hoor ook die Cross kry darem ’n paar ekstra veiligheidskenmerke wat sy stalmaats nie noodwendig het nie. Dit sluit in twee lugsakke voor, ABS-remme en ’n stabiliteitbeheerstelsel.

Onder die enjinkap sal twee enjins te kies wees. Een is die bestaande 1.2-liter (sonder enige turbo-aanjaging) wat 50 kW bied, terwyl ’n nuwe, kragtiger weergawe van die 1.2-liter ook te kry sal wees met 57 kW onder die regtervoet. Albei het drie silinders. Benewens die bestaande handratkas sal ’n CVT-tipe outomatiese ratkas ook sy buiging maak.

Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.