Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Datsun-Nissan se hemel is in Bothaville

“Dis amper soos ’n vrou – elkeen wat jy sien, is mooier as die vorige een,” sê Freek de Kock met ’n verleë laggie.

Maar dis die beste antwoord wat dié ywerige motorversamelaar en -restoureerder het as jy vra na sy gunsteling onder die sowat 200 Datsuns en Nissans wat in sy museum op Bothaville in die Vrystaat ingeryg staan.

De Kock by die windmaker-240Z’s, wat ’n baie gewilde motor onder internasionale rolprentsterre en bekendes was.Foto’s: DEON RAATH

Freek en sy seun, Frekie, het die museum sowat tien jaar gelede gevestig.

Dit huisves sover bekend die tweede grootste versameling Datsun- en Nissan-motors en -bakkies ter wêreld, naas Nissan se eie museum in Japan genaamd die Zama Heritage Car Garage.

Freek sê hy was as skoolseun in Barberton, Mpumalanga, reeds versot op wiele.

Eers lank nadat hy 28 jaar gelede Bothaville toe getrek het om sy houtonderneming hiervandaan te bedryf, het hy ’n Nissan 300ZX Twin Turbo wat in ’n ongeluk was, gekoop en reggemaak.

Die nostalgie pak jou beet in Freek de Kock se Datsun- en-Nissan-museum in Bothaville in die Vrystaat. Dit huisves die tweede grootste versameling Datsuns en Nissans ter wêreld. Net Nissan se eie museum in Japan is groter.

Die pêrelwit motor is tot sy eertydse glorie herstel en pronk vandag saam met ’n weergawe van elke Datsun- en Nissan-bakkie, elke Nissan Skyline GT-R model (insluitend die eerste GT-R Hakosuka-model) en die jongste R35 Nissan GT-R op Bothaville.

Jy kan ook moeilik die windmaker-240Z’s miskyk wat eens gewild onder rolprentsterre was.

De Kock reken die Datsun 1600 SSS is van die beste motors wat Datsun ooit gebou het en hy het ’n spesiale plekkie vir die skaars Nissan Skyline 2000GT-R “Kenmeri”. Dié naam kom van ’n advertensieveldtog in Amerika waarin gesê is die motor sal ideaal wees vir enige “Ken of Mary”.

Freek de Kock by ’n Nissan Skyline Hakosuka wat deel is van sy versameling van sowat 200 Nissan- en Datsun-voertuie. Hoewel hy nie ’n gunsteling kan uitwys nie, hou hy baie van die motor, sê Freek. Foto: DEON RAATH

Dié versamelstuk kan jou maklik R1 miljoen uit die sak jaag, maar Freek was gelukkig om sowat R100 000 daarvoor te betaal.

Met die koop van die “Kenmeri” het hy al die onderdele by ’n vorige eienaar gaan haal – ’n “ou oom” met ’n stoor vol onderdele.

Freek de Kock in sy werkswinkel waar hy en sy span al menige Datsun en Nissan tot hul eertydse glorie gerestoureer het.

Iewers tussen alles was die Kenmeri-onderdele.

Binne ’n dag of twee het die oom alles uitgegrawe, waarvoor De Kock met ’n glimlag R22 000 betaal het.

Die ratkas en enjin (wat meer as R700 000 gekos het) moes hy invoer.

Sy span van vier werk maklik vier maande aan ’n restourasieprojek, wat verfwerk, stoffeerwerk en nuwe paneelbord insluit.

“Daar is so ’n paar motors wat ek nog soek, maar nie baie nie. Wat ek hier het, cover dit goed. Dalk nog ’n Nissan Primera . . .”

Meer oor:  Datsun  |  Nissan  |  Vrystaat  |  Bothaville  |  Museum
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.