Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Defender meer nuts as ysterbaard

’n Vroeë Kersgeskenk aan die bemarkingspan by Land Rover, want die nuwe Defender kry nie net behoorlike aandag op sosiale media nie, die land se motorjoernaliste strooi ook blommetjies en confetti oor die nuwe Landie se enjinkap.

Hier’s die huis-toe-neem-boodskap, egter: Die nuwe Defender is gaaf, maar dis nie die hardebaard-vervanging van die ou weergawe soos wat al die uitasem joernaliste jou wil wysmaak nie.

Hy’s basies ’n Discovery met laestrek.

Wat het ons hier?

Land Rover het in 2017 sy ou, ikoniese Defender onder groot protes van ondersteuners eenkant toe gestoot, en vir ’n kort wyle niks in sy plek gebied nie. Tot einde verlede jaar, toe die “nuwe Defender” by die Frankfurtse motorskou onthul is.

Maar ’n mens wonder waarom Land Rover ooit vasgebyt het met die Defender-naam.

Want anders as die nuwe Ineos Grenadier, wat beslis soos ’n moderner Defender lyk, lyk die nuwe Land Rover-geboude Defender allermins na die regop 4x4 van weleer.

Die moderne Defender eggo hier en daar iets van die oorspronklike, maar hy’s meer van ’n moderne sportnuts as die hardekwas van ouds.

Hier en daar is elemente van die ou stilering. Maar tot ’n groot mate is dit ’n moderne sportnuts se stilering wat ons nou hier het. Sagter lyne. ’n Deftige kajuit. Talle elektroniese speelgoed.

En dis ook g’n wonder waarom nie. Die mark vir hardebaard-4x4’s het grootliks verdwyn. Land Rover het geweet as hy groot volumes wil verkoop, moet hy die naam met sy herkoms en gravitas behou, maar iets bied waarna die moderne (stedelike) koper soek. En dis ’n sportnuts.

Deftige safari

Danksy ’n hopelose rand betaal jy so R1,2 miljoen vir die nuwe Defender. Dis baie geld, maar jy kry ’n deeglike stukkie meganika in ruil hiervoor. En uitgerus in die beste weelde.

Die kajuit is oral met leer uitgevoer. Die stuurwiel kan verhit word, op en af gly met die druk van ’n knoppie, en ’n blikbrein-oog hou jou dop of jy aan die slaap raak agter die stuur. Dis als 21ste-eeuse sportnuts-kenmerke.

Anders as met Defenders van vervloë tye kan jy darem nou jouself gemaklik agter die stuur inrig, en daar is inderdaad ook ruimte vir jou knieë.

’n Groot digitale skerm sit agter die stuurwiel, en dié se beeld kan jy met die druk van ’n knoppie verwissel.

In die middel van die instrumentpaneel sit nog ’n groot skerm, wat enigiets van jou satnav-stelsel tot die radio en nutsfunksies huisves. Die skerm verdeel in drie panele, en jy kan dit ook heen en weer vee tussen “bladsye” soos jy met jou slimfoon maak.

Drie mense sal hulself agter gemaklik kan tuismaak, en tussen die voorste sitplekke is ook ’n breë sitplek (sonder rugleuning) waar ’n kleuter tussen pa en ma kan sit. Onder die sitplek is daar ’n verkoelde yskassie.

Ietwat irriterend is die talle silwer skroewe in die pikswart panele regdeur die kajuit wat ’n kamma kopknik na die ou Defender se sigbare skarniere en skroewe moet wees. Maar dis ’n foefie.

’n Item wat wel nuttig kan wees, is die truspieëltjie waarvan die beeld met die druk van ’n skakelaar ’n miniatuur-TV-beeld wys van wat agter jou aangaan. Dis nou pleks van die gewone spieël se beeld.

Die beeld is gekoppel aan ’n kamera agter in die boonste rand van die Defender se luikdeur, met die gedagte dat as jou laairuimte tot teen die dak gepak is, jy steeds agter jou kan sien.

Twee ergonomiese flaters het wel opgeval: Jou elmboog het nie ’n plat rand bo by die venster om op te rus nie; en die deurhandvatsel sit onder, by jou knie weggesteek.

Maak spore

Op meganiese vlak het ons ’n 2.0-liter-turbodiesel (177 kW, 430 Nm) onder die enjinkap met ’n agtgang- outomatiese ratkas wat krag permanent na al vier die wiele stuur. Daar is ook ’n elektroniese sluitewenaar op die agteras.

Die enjin is op papier heel billik en sekerlik op die pad het hy ook nie te pap gevoel vir die Defender se fris 2,3 ton nie. Sou jy ’n sleepwa wou haak, sou ek wel vir die komende 3.0-liter-diesel wag.

Die Defender ry presies soos ’n moderne sportnuts: Sag, jy hoor skaars die enjin, en windstil, danksy klankdigting in die deure.

’n Goeie grondvryhoogte van 22 cm, daardie laestrekratkas en ’n waaddiepte van 90 cm beteken jy kan met hom in die veld gaan speel, sou jy wou. Vooraf geprogrammeerde ritmodusse maak veldry ook makliker, net soos afdraandbeheer waar jy voetjie-voetjie teen ’n steilte kan af.

Afsaal

’n Mens het gemengde gevoelens oor die nuwe Defender. ’n Hardebaard se naam met ’n herkoms is geneem en op ’n moderne sportnuts geplak. Dit sal die massa tevrede stel, en die bemarking het ook gehelp. Ons dink ’n nuwe naam vir hierdie sportnuts sou egter meer gepas wees.

Prys: Land Rover Defender D240 HSE – R1 260 600.

Meer oor:  Defender  |  Sportnuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.