Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Deftige Caravelle nou vierkant in die 21ste eeu

Jou Kombi is lankal nie meer die rooi-velskoen-bus van David Kramer se melktert-dae nie. Soos Kramer het die alleman se Kombi ook aanbeweeg na ’n nuwe gehoor.

In die Volksie se geval, iets meer deftigs.

Deesdae kos die Kombi enigiets rondom R1 miljoen. Dis nie enige gesin wat dit kan bekostig nie. Maar, bygesê, dis wat die pap rand aan jou bied. Ook, sy mededingers soos die Mercedes V-klas kos ook maar ’n miljoen rand.

Volkswagen het sy groot T6-bus onlangs opgeknap en noem hom nou die T6.1 – toegerus met sy jongste weergawe van sy 2.0 liter-biturbodiesel (146 kW, 450 Nm) en ’n sewegang- outomatiese ratkas (DSG-tipe).

In sy deftige Caravelle-gedaante, soos wat ons getoets het, het hy ook permanente 4x4-vastrap.

Dit nou onder die enjinkap. In die kajuit kry die T6.1-bus ook die VW-groep se nuwe digitale inligtingspanele. Voor die bestuurder is ’n groot digitale skerm waarvan jy die beeld met die druk van ’n knoppie op die stuurwiel kan verander om óf ’n groot padkaart te wys, óf ’n klomp rit-inligting, óf die tradisionele spoed- en toerenaald met beperkte rit-inligting klein tussendeur verpak.

Ons hou van die opgeknapte Kombi se tweekleur-afwerkings. Die kajuit is modern en prakties, en die fris turbodiesel vlieg weg soos jou bonustjek in Desember. Foto: Marnus Hattingh
Saal op, Sarel

Kom ons begin met die rit.

Vir ’n dieselenjin beteken meer kilowatts ekstra vonk in die kuite. As jy met die Caravelle aan die gang is, kan ’n mens dié verskil inderdaad voel.

Roer met die voet, en die Kombi maak soos Cheslin Kolbe en skiet dié kant toe. Met die wegtrek is daar wel ’n lastige turbotraagheid. Hy talm voordat jy begin beweeg – wat gevaarlik kan wees by ’n regsdraai-verkeerslig.

Op die oop pad is die dieselenjin wel heerlik stil. Die kajuit demp ook alle pad-, band- en windgeraas uit. Die 4x4-aandrywing is egter ietwat van ’n vreemdigheid, want ons het nie sneeutoestande nie. En jy gaan nie met jou Caravelle modderpaaie wil aandurf nie.

My verbruik van 8,4 liter was wel matig hoër as waarop VW aanspraak maak (7,4 liter).

Daar’s plek vir nog

Die Caravelle se sterkpunt (en straks die rede waarom jy een sal wil koop) is sy mooi, funk­sionele binneruim.

Daar’s drie rye sitplekke en die agterste twee kan op spore vorentoe gly om alles makliker te laat inpas.

Beter nog, die agterste ry se rugleunings kan in ’n kits platgeslaan word om ’n lang, plat laaibed te skep (vir ’n kinderbed, byvoorbeeld).

Die middelste ry bestaan op sy beurt uit twee individuele sitplekke, maar dié kan jy 180° omswaai vir ’n sitkamer-effek. In die middel van die vloer is daar dan ook ’n klein, ronde tafeltjie wat opwip en oopvou vir ’n rekenaar of middagete. Lekker prakties.

Nog iets waarvan ek gehou het, is die skuifdeure weerskante wat met die druk van ’n knoppie kan ooprol of halfpad gestop word.

Die luikdeur agter is ook elektronies, maar dis ’n groot deur en jy het heelwat plek daarvoor nodig om hom te laat oopswaai na bo.

Afsaal

Met die kragtiger enjin en sy moderne, digitale instrumente is die mooi Caravelle vierkant in die 21ste eeu. Dit gesê, ek hou ook van die retro-tweekleur-afwerking met die wit dak en roosgoud onderlyf (die rooi-en-wit lyk egter beter).

Die moderne Kombi is nie meer die gemiddelde gesin se bus nie.

Maar vir deftige wegbrekers is hy ’n praktiese vakansie-wa wat lag-lag die langpadmyle sal kafdraf.

Prys: VW Caravelle – R1 166 600.

Meer oor:  Opgeknap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.