Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Deftiger Ballade pas nog die sak

Saam met sy nuwe WR-V het Honda ook die jongste, agtste generasie van sy Ballade na die land gebring.

Deesdae se Ballade is egter nie meer dieselfde tipe kompakte Japanse sedan as wat jy in 1982 gekry het nie.

Ons huidige Ballade kom, net soos die vorige model, uit Indië, en met ’n rede: Koste-effektief was die wagwoord toe die Ballade gebou is.

Die voorkoms is weliswaar al strate beter as die ou model s’n. Die Ballade is nou ’n aks laer en langer, maar het met ’n goeie 5 cm breër geword. Daar is dus iets van ’n groter Civic in sy ontwerp te bespeur.

Hooffoto: LED-hoofligte met ’n mooi plankdun ontwerp laat die sakpas Ballade sommer heelwat meer deftig lyk.

Maar selfs met Indië as die bronland, kon Honda nie die val van die rand heeltemal tem nie.

Die Ballade se prys moes noodwendig klim, en daarom word hy nou in ’n ietwat meer premium segment bemark as die intreevlak-segment van voorheen.

Dit laat ’n mens met ’n frons, want die Ballade opsigself het nie te veel luukses bygekry om daardie sprong te regverdig nie.

Ons het steeds dieselfde 1.5-liter van voorheen, maar nou lewer dit 89 kW (+1 kW) met wringkrag wat onveranderd op 145 Nm bly.

Die outomatiese CVT-tipe ratkas is opgeknap, sê die Japanse groep, om nou duideliker trappe na te boots soos wat ’n handrat in elke rat sou versnel.

Die reeks bestaan uit drie afwerkingsvlakke: Die Comfort, die Elegance en die RS – wat terloops vir Road Sailing staan.

Die RS gaan nou nie juis oor die pad seil nie, want hy bied slegs ’n kosmetiese opknapping aan teenoor die goedkoper modelle. En ons wil nie die Ballade-eienaar wees wat langs ’n Audi RS4 of iets dergeliks te staan kom by die verkeerslig nie.

Die uitleg is skoon en sonder fieterjasies. Sleutellose toegang en ’n aansitknop vir die topmodel sou ons wenkeuse vir die reeks wees.

Die topmodelle kry heelwat luukses, soos onder meer ses lugsakke, ’n stabiliteitstelsel, ’n aansitknop en trukamera, ’n vashoufunksie as jy teen ’n bult moet wegtrek en ’n klein drukvlerkie agter vir die RS-model.

Al die Ballades het nou ook ’n nuwe instrumentpaneel met ’n digitale raakskerm wat jou nutsfunksies huisves. Afwerkings is wel baie basies met harde plastiek wat mildelik ingespan is.

Op die pad ry die nuwe Ballade heel sekuur en met ’n lekker ligte stuuraksie sonder om in die Suidoos rondgestoot te word. Honda sê die nuwe CVT-ratkas bied ’n gladder aksie, maar ’n mens hoor steeds ’n enjingedruis as jy die regtervoet plant.

Skouer- en beenruimte agter was wel heeltemal genoeg vir ’n paar tieners om daar in te val.

Honda is redelik dapper met die Ballade, want die sakpas sedan is ’n krimpende segment. Daarby bied die Toyota Corolla Quest baie goeie waarde vir geld, en het hy ’n groter lyf. Ballade-ondersteuners sal egter glad nie teleurgesteld wees met hul jongste telg nie.

Pryse:

Ballade 1.5 Comfort – R336 500;

Ballade 1.5 Elegance – R366 900;

Ballade 1.5 RS – R396 900.

Meer oor:  Honda  |  Ballade  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.