Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Deftiger i20 by Genève verwag

Hyundai gaan die Geneefse motorskou vroeg in Maart in Switserland gebruik om sy nuwe i20-luikrug aan die wêreld te wys.

Die groep doen tans die laaste toetswerk aan die model in Skandinawië, waar hy nog toegeplak met vermommings­materiaal gesien is. Met die skou om die draai, sal die laaste gehaltetoetse bra vinnig afgehandel moet word.

Hyundai se nuwe i20 is om die draai en maak reeds vroeg volgende maand sy buiging by die Geneefse motorskou. Die groep het solank dié sketse gewys, waaruit ons ’n Ford Fiesta-tipe voorkoms kan aflei.

Die Koreaanse vervaardiger wil die nuwe i20 markgereed hê vir wanneer die warmer somermaande binnekort in Europa aanbreek. Die i20 ding in ’n besige segment mee – teen gewilde luikrûe soos die Volkswagen Polo en Renault Clio in Europa (en ook by ons).

Dit is bekend dat Hyundai die i20 ’n kerf hoër in die mark wil posisioneer, net soos wat Peu­geot onlangs met sy 208 gedoen het. Om dié rede kry die nuwe i20 ’n groot, breë, digitale instrumentskerm wat die ou analooginstrumente en rye knoppies alles vervang. Daar gaan ook ’n rits elektroniese bestuurshulpmiddels wees om die lewe vir die moderne bestuurder net daardie aks makliker te maak.

Hyundai het pas die finale ontwerpsketse vir die i20 bekend gestel om solank as voorsmaak van die nuweling te dien. Die groep het goed gedoen om die toetsmuile só goed te bedek dat niemand seker was hoe sy ware voorkoms lyk nie.

Hyundai wil sy nuwe i20 as ’n duurder, deftiger ryding posisioneer en daarom is die voorkoms ook veel dramatieser as in die verlede.

Uit die sketse kan ’n mens egter sien dat hy meer na die huidige i30 se voorkoms gaan neig. Dus, ’n langer lyf, skuins voorruit en skerp knak by die C-pilaar. Skerp aksentlyne by die skouers is ook opmerklik.

Binne kry die i20 nou ’n groot digitale instrumentpaneel. Dié glaspaneel sal bykans so breed soos die hele voertuig wees, met twee inligtingskerms daarin vervat.

Die een skerm sit reg voor die bestuurder en huisves die spoed- en toerenaald asook jou ritrekenaar. Die beelde en voorkoms sal gewissel kan word na gelang van jou smaak.

Die ander skerm sal in die middel van die paneel sit, net bokant die rathefboom. Hier word die trukamera, satnavskerm en nutsfunksies gehuisves (soos die radio en lugversorging).

Omdat die i20 op die jongklomp gemik is, sal Hyundai hom ook met koordlose koppeling vir jou slimfoon toerus sodat jy ál jou apps ook in die ry op die motor se skerm kan benut.

Onder die enjinkap verwag ons dat die groep se nuwe 1.0­liter-turbo met drie silinders in die topmodelle diens sal doen. Intreemodelle sal natuurlik geaspireerde weergawes van die enjin kry.

Ons hou duim vas dat die nuwe i20 nog voor die einde van die jaar in die land sal wees.

Meer oor:  Hyundai  |  Geneefse Motorskou  |  Hyundai I20  |  Bekendstelling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.