Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
‘Die 7 was my moeilikste nóg’, sê BMW-ontwerper

Dis vandag die opwindendste van tyd om ’n motorontwerper te wees, sê BMW se hoofontwerper, Adrian van Hooydonk, aan Marnus Hattingh by die Frankfurtse Motorskou.

Skoner lyne en meer eenvoud, dit is Adrian van Hooydonk se missie by BMW.

Skoner lyne, binne en buite, is voorop Adrian van Hooydonk se moet-doen-lysie vir die volgende geslag BMW’s wat hy en sy span wil ontwerp.

Van Hooydonk het in ’n eksklusiewe onderhoud met Motors by die Frankfurtse Motorskou gesê sy voorgangers (hy wou nie Chris Bangle by name noem nie) het gefokus op skerp, kontrasterende lyne en oppervlakke wat met lig en skadu’s gespeel het.

In sy toekomsplanne moet die fokus nou eerder op skoner oppervlakke wees. “Dan kan ons op daardie een of twee spesiale elemente fokus wat rêrig op die bakwerk uitstaan.

“Soos die groot, vertikale niertjierooster (op die nuwe X7). Of die BMW-kenteken op die X2 se C-pilaar,” verduidelik hy.

Die groot rooster is tans ’n warm gesprekspunt onder BMW-aanhangers. Word dit nie straks oordoen nie?

“Ons hoef nie nét ’n vertikale rooster te doen nie,” sê hy. “Dit kan ook horisontaal wees.

“Onthou ook, ons ontwerp voertuie vir verskillende markte. Smaak verskil oor die wêreld, hoewel ek voel kulture se smake kom al hoe nader aan mekaar.”

Die groot 7-Reeks is sy moeilikste voertuig om te ontwerp, sê hy. “Dit is soveel dinge vir soveel markte. In Asië is dit ’n statussimbool, iets waarin jy agterin sit en ’n chauffeur jou kantoor toe neem. Dis ’n manier om te wys jy het status in die lewe bereik.

“Maar in Amerika is dit ’n groot, sportiewe BMW. Dis al. Daar wil hulle die sportiwiteit beklemtoon hê. En in Europa moet die Sewe ’n subtiele statusvoertuig wees.

“Soveel smake, en dit als beïnvloed die ontwerp.”

Tog voel hy dit is vandag die opwindendste van tye om ’n motorontwerper te wees. “Oor die volgende vyf, tien jaar gaan ons ’n nuwe era betree. Nuwe mobiliteit, wat die voertuig ’n nuwe tipe vervoermiddel maak.

“Die motor is nie net meer ’n sportiewe ryding of ’n pendelvoertuig nie. Dit word ’n uitbeelding van jou persoonlikheid.”

Die nuwe era van elektrifisering beteken ook nuwe geleenthede vir ontwerp. “Jy het minder skakelaars nodig, vandag. Tien, vyftien jaar gelede is die instrumentpaneel rondom die bestuurder ontwerp. Rye en rye skakelaars rondom hom wat hom in beheer laat voel het.

“Vandag het ons minder skakelaars nodig. Danksy nuwe materiale kan ons raakoppervlakke met ’n hout-tekstuur laat kombineer. Dit lyk goed, en is steeds prakties.

“Ons noem dit skugter tegnologie. Die tegnologie is daar, maar dit is nie meer so opsigtelik en opdringerig nie. As jy dit nodig het en daarna soek, is dit wel daar.”

Die wêreld is egter nog nie reg vir zero skakelaars nie. “Die tasbare aspek, veral vir sekere toepassings soos om ’n mossienes oop te maak, is steeds nodig.”

Die vervreemding van die mens met tegnologie is nie ’n nuwe onderwerp nie. Maar vir BMW sal die bestuurder en sy energieke meelewing met sy voertuig altyd voorop bly, as dit van Van Hooydonk afhang. En ons dink dis ’n goeie ding.

Meer oor:  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.