Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Die blits raak nog blitsiger

As jy twee miljoen randjies het wat iewers los lê, hier is dalk iets waaraan jy dit kan bestee . . . Jaguar Suid-Afrika sê jy kan nou ’n tjek uitskryf vir die nuwe F-Type SVR wat teen Augustus hier sal wees. R2 134 100 om presies te wees.

Die luginlate van die SVR voor is selfs groter as dié van die R AWD om die enjin van genoeg lug te voorsien.

Die SVR is die vinnigste F-Type en maak eers oor ’n paar weke sy amptelike verskyning by die Geneefse motorskou in Switserland.

Met 423 kW en 700 Nm wat uit die vervaardiger se bekende 5 liter, drukaangejaagde V8 getoor word, kan die naelloper 100 km/h in net 3,7 sekondes haal en sy asem raak eers teen 322 km/h op.

Hy klop die F-Type R AWD met dieselfde enjin, met 18 kW en 20 Nm, terwyl die R sukkel om die lopie in minder as 4 sekondes af te lê.

Die drukvlerk agter is ook van koolstofvesel en kan verstel word.

So, hoe het Jaguar dit reggekry om ’n blits nog blitsiger te maak?

Eerstens het hulle weer gekyk na spoed se twee grootste vyande . . . windweerstand en gewig.

Voor is ’n nuwe buffer en voorste luginlaat, die onderkant is gelyk gemaak vir optimale windvloei onderdeur die Jaguar en agter is ’n verstelbare drukvin en lugvloeier. Dit alles sorg dat minder lug vinniger oor en om die Type-F beweeg.

Hoe het die Jaguar kilo's afgeskud?

Die SVR weeg 25 kg minder as die R AWD of kan selfs met die opsionele koolstofveseldak en keramiekremme nog 25 kg van die skaal afhaal.

Die wiele is van ’n ligter metaal gemaak en die nuwe titanium-uitlaatstelsel het ook gehelp om ’n paar kilo’s af te skud.

Om nog beter op die pad te klou, is die bande sowat 10 mm breër as die R AWD s’n (265 mm voor en 305 mm agter). Die vering is nog ’n raps fermer, die teenrolstaaf agter is frisser en voor weer effe dunner. Al die elektroniese stelsels is weer bekyk en nog fyner ingestel vir beter hantering.

Vir die dapperes wat dalk om ’n renbaan wil gaan speel, kan die elektroniese hulpmiddels gedeeltelik of heeltemal afgeskakel word.

Die binneruim van die SVR met sy unieke stikwerk op die sitplekke.

Binne word die SVR van die ander F-Type’s onderskei deur unieke sitplekke met ’n eie kleurskema en stikwerk, asook SVR-kentekens in die kajuit.

Nou ja, as jy daardie R2 miljoen het, sal dit nie ’n vrugtelose uitgawe wees nie. Dit is sowat R250 000 meer as wat die F-Type R AWD kos, maar Jaguar sê dit is absoluut die moeite werd.

Meer oor:  Switserland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.