Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Die eerste kabriolet? Rêrig?

Nou goed. In sy onlangse verklaring om die nuwe T-Roc-kabriolet aan te kondig, maak Volkswagen daarop aanspraak dat dié ryding die eerste in sy soort in die kompakte sportnuts/kruisvoertuig-klas is.

Maar is dit? Klaarblyklik nie.

Die Biagini Passo-afslaankap is die VW T-Roc-kabriolet jare vooruit as ’n kompakte sportnuts-afslaankap. Maar die titel as eerste ware kruisvoertuig-kabrio behoort aan die Amerikaanse vierwielgedrewe, tweedeur-AMC Eagle Sundancer van 1981.

Dit wil voorkom die bemarkers in Wolfsburg het geriefshalwe van twee soortgelyke modelle vergeet (of hulle net nie genoem nie) wat die daklose T-Roc onderskeidelik met byna 30 jaar en vier dekades vooruitloop.

Ook is dit half ironies dat die Biagini Passo, wat vanaf 1990 tot 1993 deur die Italiaanse motorbouer ACM vervaardig is, tegnies gesproke ’n feitlik volledige Volkswagen was.

ACM het die bakwerk van ’n Golf I-afslaankap effens aangepas, dit op ’n eie-geboude subraam gemonteer en dit met die dryfstelsels van ’n Golf II Country gekombineer. Biagini het die voorste buffers en enjinkap self gebou en hoofligte van die Fiat Panda van 1980-’85, die agterligte van die 1983-Opel Kadett D en die flikkerligte van die 1983-Fiat Ritmo gebruik om sy kabriolet ’n eiesoortige gesig te gee.

Die Passo het die 1,8-liter-enjin in die Golf II gebruik, en net sowat 65 is gebou, waarvan sommige na Duitsland uitgevoer is. Tog behoort die titel vir oorspronklike kruisvoertuig-kabriolet eintlik aan ’n Amerikaanse ryding: die AMC Eagle Sundancer wat van 1981 tot 1982 gebou is.

Die Sundancer was deel van die Eagle-reeks wat uit vyf modelle bestaan het en vanaf 1979 deur die American Motors Corporation gebou is. Die afslaankap-weergawe is deur die Griffith-maatskappy ontwikkel, met ’n tipe targa-rolstaaf en ander bakwerk-versterkings. En ja, dié tweedeur-afslaankap met vierwielaandrywing het 39 jaar voor die T-Roc-kabrio die lig gesien...

  • Dalk moet die bemarkingsmense by Volkswagen ’n bietjie meer navorsing doen alvorens hulle sommerso sulke aansprake maak. Dis eerstens misleidend, en tweedens kry diegene wat dit verdien, nie die erkenning nie. 

McLaren in die ‘moewies’

En dis nie sommer enige fliek nie. O nee. Dis die jongste in die Fast & Furious-franchise genaamd Fast & Furious Presents: Hobbs & Shaw met harde manne Dwayne Johnson, Jason Statham en Idris Elba in die hoofrolle, en . . . natuurlik, die McLaren 720S.

Terloops, die “moewie” draai klaar in Amerika, en, wees verseker, dit sal ook hierheen kom.

En klaarblyklik is McLaren baie ingenome om deel te wees van die fliek, veral omdat dit groot getalle in China trek.

  • Knormoer is darem nie seker of die McLaren-wapen met hierdie Vinnige en Verskriklike-tipe rolprent vereenselwig behoort te word nie. Maar wie weet? Dalk help dit wel verkope in China.
Meer oor:  Motors  |  Rubriek  |  Kabriolet  |  Knormoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.