Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Die Fransman met die sjiek Italiaanse lyf
Peugeot se statige 505 was die groep se laaste groot sedan in die land voor hy hom in die laat 1980’s aan die land onttrek het.

Een van die laaste voertuie wat Peugeot destyds voor sy onttrekking aan die Suid-Afrikaanse mark in die middel 1980’s plaaslik bekend gestel het, en gewis die laaste groot sedan, was sy elegante 505.

Die 505 was ’n kind van sy tyd. Die ontwerp was klassiek dié van ’n vuurhoutjiedoos: Plat neus voor, plat bagasiebak agter, en tussenin die kajuit met sy eweredige lyne reg rondom. Dit was die voorkoms wat vervaardigers strykdeur die laat 1970’s en tot die middel 1980’s in hul strome nagevolg het.

Maar daar is ’n interessante verhaal agter die ontwerp van die groot Franse sedan. Teen die middel 1970’s was die 505 se voorganger, die 504, nog fluks aan’t verkoop in markte rondom die wêreld. Ook in Suid-Afrika het die ietwat koddig gestileerde 504 met sy sedan-tipe neus en kajuit, maar luikrug-stert, groot byval gevind.

Peugeot was dus in g’n haas om ’n opvolger vir die 504 gereed te kry nie. Boonop was die groep in die finale fase om die nuwe 305, die klein sedan in die produk-reeks, markgereed te maak.

’n Groep ontwerpers is egter in 1974 aangesê om solank met ’n ontwerp vir die nuwe 505 te begin. Die gedagte was dat die nuwe voertuig grootliks op die meganika van die ou 504 sou moes steun, maar ’n mooi, nuwe lyf sou hê.

Soos die gebruik destyds by Peugeot was, is die uitdaging verdeel tussen die vervaardiger se eie paneel ontwerpers, en die Italiaanse stileerhuis Pininfarina. Sketse is in skaal-kleimodelle gevorm, waarna elkeen ’n bewegende volskaal-voorbeeld gebou het.

Hierdie skermgreep wys die twee proefmodelle waarmee Peugeot se eie stileerders (by hul ateljee in La Garenne) en die Italiaanse groep Pininfarina vorendag gekom het. Die Pininfarina-ontwerp is eindelik gekies, soos ook in die haaineus gesien kan word.

Die twee groepe se ontwerpe was verbasend naby aan mekaar, maar die Franse span se proefmodel was merkbaar naby aan hul nuwe 305 se voorkoms. Pininfarina se voorbeeld, op sy beurt, het die eerste tekens van die eindelike 505 se treffende haaineus gewys. Die neus wat so effens afbuig by die voorpunt, en die rooster wat vorentoe oorleun – nog ’n gewilde ontwerptema van die era wat ook in die BMW 5-reeks gestalte gevind het.

Let ook op die “fronsende hoofligte”, waar die enjinkap se lyn net bo die hoofligte na die middel afduik.

Een interessante aspek van die Italianers se model, was die voertuig se vreemde, driehoekige B-pilare. Wyd onder, maar dun bo. Die gedagte was dat die breë basis van die pilare, in ’n era voor botstoetse en waar voertuie almal papierdun pilare op al die hoeke gehad het, groter veiligheid aan die struktuur sou verleen.

Die Peugeot-direksie het tot konsternasie van sy eie ontwerpspan die Pininfarina-ontwerp gekies, maar die basiese ontwerp wel tuis verder verfyn. Die eerste wat gewaai het, was daardie driehoekige B-pilare. Die remligte is ook met vertikale lyne vervang, die bagasiebak se horisontale hoek is skuinser laat sak en die C-pilaar is breër gemaak.

Teen Desember 1976 was die 505 se ontwerp eindelik gereed en kon die ingenieurs met hul lang proses begin om die meganika te bou. Dit het Peugeot nog twee en ’n half jaar geneem om dié proses af te handel, maar teen 16 Mei 1979 was die nuwe 505 produksiegereed en formeel onthul in sy elegante glorie.

Verkope was fluks in Europa, terwyl sy sagte rit op slegte paaie gemaak het dat hy gou ook gewild in Afrikamarkte geword het. Peugeot het die sedanreeks uitgebrei met ’n sewesitplek-stasiewa in 1982 asook ’n bussie later.

Teen 1987 het verkope egter begin daal toe die groep sy nuwe 405, ’n kleiner sedan, na die mark gebring het. Die mooi groot sedan het voortgebeur teen gedugte mededingers vanuit die Duitse mark, maar teen 1989 moes hy finaal die knie buig toe sy opvolger, die 605, die lig gesien het.

Ons het die ewe pragtige (maar heelwat moderner) 605 helaas misgeloop toe die Franse hul aan ons mark onttrek het. Dit sou eers weer in 2000 wees wat ons ’n groot Peugeot-sedan sou teëkom toe die groep sy 605-opvolger, die lieflike 607, na die land gebring het.

Meer oor:  Motors  |  Peugeot
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.