Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Egmont Sippel: Die goue kol in jou siel

Hyundai het pas hul eerste rissie in die blitsbuks-pot gegooi. Die i30 N ignoreer die klassieke resep van oorkookkrag en die resultate is verrassend. Egmont Sippel het die N se plaaslike bekendstelling op Wes-Kaapse bergroetes bygewoon.

Hyundai i30 N
Hyundai i30 N.

Daar’s die Golf. Dan die Golf GTI. Dan die Golf R.

Eersgenoemde is, as alle bestanddele in die kookpot gegooi word, die beste bredie in die motorwêreld. Hy’s deeglik gebak, lyk goed, smaak ordentlik en lewer prysgewys die beste balans tussen koolhidrate, proteïne en vitamiene.

Dan volg die GTI met ’n goeie dosis kruie ingemeng, juis om krag van onder 100 kW in die standaard-Golf (soos in Suid-Afrika beskikbaar) tot 169 kW op te jaag.

En as dit nog te veel stysel vir jou is, en te min speserye, kan jy die resep met kerrie bestook om die Golf R se 228 kW onder jou regtervoet te laat brand.

Die ironie van die saak is egter dat die gesondste bord kos waarmee Volkswagen die Golf-reeks in ’n lang tyd sou uitdos, iewers tussen die GTI en die R inpas.

Sy naam is – of ter plaatse was – GTI Clubsport en sy oktaanresep van hoëvesel en edelminerale het 195 kW/350 Nm via die voorwiele uitgeklits of, in kort 10-sekonde-strekke van ooraanjaging, ’n volle 213 kW/380 Nm.

Ongelukkig is die Clubsport intussen van die inkopielys verwyder.

Maar sy plek is allermins vakant. Daar’s nou ’n nuwe Clubsport op die rak.

Sy naam is Hyundai i30 N.

Toerusting

Goed. Ons weet almal wat ’n i30 is. Dis Hyundai se luikrug in die Golf-klas.

Maar die “N”?

Wel, met 202 kW/353 Nm wat deur die i30 N uitgeskop word, asook kort-fase-ooraanjaging wat die wringpiek tot 378 Nm opjêm, beliggaam die nuweling ’n Suid-Koreaanse antwoord op die Golf GTI Clubsport; “N” is Hyundai se hoëverrigtingsmerk.

Waar baie fênsierige Duitse waens in standaardvorm egter ’n basiese pizza lewer wat baie kopers se smaakknoppies na ’n spyskaart vir ekstras laat smag, bied die i30 N uit die staanspoor feitlik ’n quattro stagioni.

Hierby bedoel ons nie dryf deur al vier wiele nie – die i30 N trek uit sy voorwiele. Wat wel tref as mens (agter die stuur) aansit, is garnering vir al vier seisoene – met ander woorde ’n volhuis.

Daar’s die gewone soort lekkernye en noodsaaklikhede, soos leerbekleding, parkeerhulp, outoligte en -reënveërs, koordlose selfoonherlaaiing, Bluetooth met stemherkenning, ’n panoramiese sondak, kruisbeheer, banddrukmonitors, verwarmbare voorstoele, staan-gaan-tegnologie, ’n kniesak vir die drywer, LED-kop- en dagryligte en bestuursmodusse waarvan die funksies individueel ingestel kan word – plus natuurlik ’n N-knoppie om die hele kar in ’n enkele oomblik tot by kookpunt te voer: stywer dempers, skerper enjininstellings, meer vesel in die stuur . . .

Maar die N-modus lewer ook ’n klomp soet versiersuiker om aan te smul, soos ’n stophorlosie vir rondtetye, ’n g-kragmeter, wegtrekbeheer, en grafika vir turbo-, krag- en wringlesings plus N-uitlaatklankbeheer om by omstandighede aan te pas: stil in die dorp, sportief op die oop pad en luid op die renbaan, met ’n wakker, sportiewe knetter-en-klap op die enjin-oorloop.

Beskou al die voorafgaande as kersies op die koek. Hier’s die koek: Briljante remme. ’n Skerp, welbelaaide, akkurate stuur. Heelwat strukturele versterkings om die i30 N se bak stewig en stabiel te hou. Wonderlike elektronies beheerde dempers (met ’n duidelike verskil tussen gemaklike en sportiewe stellings). ’n Elektronies beperkte glip-ewenaar. Outo-toerbeheer as jy laer ratte haak om gladde skuiwe aan te help deur enjintoere en padsnelhede te sinkroniseer. Plus hoëverrigting-Pirelli P-Zero-HN-bande wat eksklusief vir die i30 N ontwikkel is. Dis waarvoor die “HN” staan, dis vir Hyundai N.

Hyundai i30 N
Hyundai i30 N.
Hemels op die pad

Einste N-kenteken is deur drie bronne geïnspireer:

1. Namjang, naby Seoul (in Korea), waar Hyundai se navorsing-en-ontwikkeling-sentrum gesetel is;

2. Nürburgring (in Duitsland) waar Hyundai hul N-motors op die beroemde baan slyp; en

3. die vorm van ’n kinkel in die pad, waar N-motors, volgens Hyundai, in hul N-oppies is.

Die i30 N? Voel hy tuis in kinkels en swiepe en draaie?

Allamagtig, ja. Dis waar die waentjie sy N-imlike N-atuurlike N-ering met onberispelike balans en bakstewigheid uitstal, om nie van die roer se direkte, akkurate invalshoeke te praat nie.

Die indraai is dan een heerlike soet hoogtepunt in die N-resep.

Ditto vir die uitval, want dis juis uit die apeks uit waar nog twee vonkel-eienskappe na vore tree: ’n afwesigheid van wringstuur; en fantastiese traksie.

Op ’n renbaan gaan jy stuurtraagheid losjaag as jy die i30 N tot teen, of net ’n bietjie oor, sy grense looi. Maar in ’n bergpas gaan jy waaragtig reken dat jy vierwielgreep en warm Tabasco het om mee te speel.

Inderdaad is dit die strek vandat jy op die remme klim, deur die indraaifase en apeks tot by die uitskepslag, met voeding nou alles onder jou regtervoet, waar die i30 N aan kreef en kaviaar herinner.

Of, as dit nie gunstelingkosse is nie, dan enigiets anders wat die heelal se verhemelte in balans laat voel. Die stuur, bakstewigheid, ’n afwesigheid van bakrol, al hierdie dinge dra by.

Maar maak ook ’n aantekening in jou Groot Dinamiese Resepteboek oor aanpasbare dempers wat die pad se suur knolle soos soetkoek opslurp, al ry die Hyundai op lemoenskil-dun rubberprofiele: 235/35-R19’s, voor en agter.

Die rit in N-modus kan wel hard en hobbelrig wees, maar kies “comfort” en agterste veelskakelvering plus ’n sterk stut tussen die agterste demptorings dra alles tot keurige bakgedrag by.

Hyundai i30 N
Hyundai i30 N se binneruim.
Gevolgtrekking

Dit laat die kajuit, bougehalte, ontwerp, stilering en voorkoms – wat alles goed is – asook die hoofbestanddeel: die i30 N se dryfsamestel.

Die 2.0-liter-viersilinder-turbopetrolbron met direkte inspuiting kry punte, indien nie toppunte soos die Honda Civic Type-R se hoog-oond nie. Bygesê, dat niks die Honda se potjie omkrap nie. Die Japannees is doodeenvoudig die warmste rissie in die blitsbukstuin.

Die Hyundai se sesgang-handratkas?

’n Dubbelkoppelaar-wisselaar groei op die horison, maar hy moet nog in die N oorgeplant word. Enigiemand wat al dié soort ding gedoen het, weet hoe belangrik dit is om vir die regte seisoen te wag.

Die dag sal kom.

Intussen roer die N via ’n handrat met kort stewige gange. Verhoudinge is effe langer as die Golf GTI s’n, einddryfverhoudings effe korter. Die N kom ieder geval maklik van die lyn af as jy kennis neem van die koppelaar se kort vlug en sportiewe fermheid, soos ’n jong perske s’n.

Derde is boonop besonders goed gerat vir jou gemiddelde bergpas, met ’n enorme soet kol tussen 3 000 en 5 000 r.p.m.

Dis éinste, volgens Hyundai, wanneer toere per minuut onbelangrik raak en b.p.m. – vir (heart) beats per minute – oorneem; in derde, op die pitte. Tot teen die rooi. Rem. Haak tweede. Draai in. Voel die balans. Proe-proe aan die apeks. Gee sous. Gooi vlamme. Weer derde. Vierde. Op die remme. Terug na derde. Draai in. Sloeg uit.

En voel die traksie en versnelling. Dan weer die spoedslagting, balans, stuurgewig en -terugvoer en die goue kol in jou siel. Dís waaroor die i30 N gaan. Dís hoe hy in die Golf GTI, Renault Mégane RS, Audi S3, BMW M135i en (oorsee) die Ford Focus ST se groentetuine kom skoffel het.

Nie in die Type-R s’n nie. Niemand skoffel in die Honda se jalapeño-tuin nie, alhoewel die Audi S3 – nes die Japannees – 228 kW uitskop.

Maar krag, let wel, is nie die i30 N se ding nie, alhoewel hy vir alle praktiese doeleindes genoeg daarvan het.

Hantering, stuur, remme, balans, traksie, b.p.m.

Dis sy ding. Dís sy ding. Daai gevoel.

  • Prys: Hyundai i30 N – R680 000 (insluitend ’n 7 jaar/200 000 km-waarborg en ’n 5 jaar/75 000 km-diensplan, teenoor Honda en Renault se 5-jaar-waarborg, Golf se 3-jaar, BMW en Mercedes se 2-jaar en Audi se 1-jaar).
Meer oor:  Hyundai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.