Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Die Jazz word Fit

Stuart Johnston het onlangs die bekendstelling van Honda se geliefde kompakte luikrug, die Fit, in die Wes-Kaap bygewoon. In sy vorige inkarnasie was die Fit plaaslik as die Jazz bekend.

Honda het dit wys gedink om die nuwe geslag van hul geliefde kompakte luikrug, die Jazz, voortaan as die Fit in Suid-Afrika te bemark.

Al die jare lank was dit ieder geval die Jazz se naam in Japan.

Dis ’n dapper skuif, daar die Jazz sedert die vroeë 2000’s ’n goeie naam as een van Suid-Afrika se betroubaarste en mees praktiese motors opgebou het.

Tog reken ons dat die Fit ook byval onder die jonger mense sal vind. Veral die Fit Hybrid sal die belangstelling prikkel van jongetjies wat moderne tegnologie hoog ag.

Honda Motor Suider-Afrika se hoofbestuurder, Dinesh Govender, reken egter dat daar niks te vrese is nie.

“Die eienskappe wat die Jazz so geliefd gemaak het, veral onder effense ouer mense – goed soos praktiese dinge en hoe maklik alles werk – is ook deel van die Fit.

“Tog reken ons dat die Fit ook byval onder die jonger mense sal vind. Veral die Fit Hybrid sal die belangstelling prikkel van jongetjies wat moderne tegnologie hoog ag.”

Kegeltransmissie en drie dryfmodusse

Benewens die hibriedvariant spog die nuwe Fit-modelreeks met ’n petrolmodel wat in een van drie afwerkingsvlakke beskikbaar is: Comfort, Elegance of Executive.

Al drie gebruik ’n nuwe weergawe van Honda se onaangejaagde i-VTEC-1.5-liter-viersilinder (89 kW/145 Nm) gekoppel aan kegeltransmissie (CVT), maar nou met meer “ratpunte” om die gebruik van ’n konvensionele ratkas na te maak.

Die Fit Hybrid se kegeltransmissie staan as e-CVT bekend.

Dit begin met Honda se nuwe stelsel vir hibried-elektriese voertuie (HEV) wat ontwikkel is om twee elektriese motors aan die 1.5-liter-i-VTEC-enjin te koppel.

Uiteindelik is daar drie dryfmodusse.

Teen lae snelhede kan die motor, in EV-dryf, suiwer op elektriese krag beweeg. In Hybrid Drive-modus verskaf die petrolenjin krag aan die eerste elektriese motor, wat as ’n opwekker gebruik word om krag aan die tweede elektriese motor – die aandrywingsmotor – te lewer en ook die litium-ioonbattery te laai.

In die Engine Drive-modus word die petrolbron direk via ’n sluitkoppelaar en kegeltransmissie aan die dryfwiele gekoppel. In hierdie dryfmodus word die elektriese motor gebruik om die petrolbron by te staan as ’n bietjie ekstra krag vereis word.

Verbruik- en verrigtingsyfers

Die Fit Hybrid se gekombineerde kraguitsette is 80 kW en 235 Nm, genoeg vir ’n 0-100 km/h-lopie in 9,4 sekondes. Topspoed word tot 175 km/h beperk.

Honda maak aanspraak op ’n gemiddelde verbruik van 3,7 liter/100 km. In stedelike gebruik, waar die motor meer van suiwer elektriese krag gebruik kan maak, is dit dalk moontlik.

Maar op ’n vinnige lopie van Hermanus tot in Kaapstad, onder meer oor twee bergpasse, was my gemiddelde verbruik 5,0 liter/100 km, wat steeds indrukwekkend is.

Tegnologie en tower met sitplekke

Die geheel nuwe bak lewer ook interessante innoverings soos die dun nuwe A-pilaar wat minder as die helfte so dik soos die vorige Jazz s’n is. Die idee is natuurlik om beter padsig te waarborg, veral deur lang draaie in bergagtige streke of by kruisings.

Die bak se strukturele sterkte word deur ’n tweede dakpilaar, net agter die A-pilaar, verseker.

Saam met versteekte reënveërs lewer dit ’n uiters bevredigende en onbelemmerde paduitsig. Honda beskryf dit as “amper panoramies” en ek stem saam.

Die nuwe Fit is 13 mm laer as sy Jazz-voorganger en die stertgedeelte is sagter gevorm, wat beteken dat die motortjie nie meer so busagtig soos van ouds lyk nie. Die indrukwekkende aantal maniere waarop die Jazz se “Magic”-sitplekke ingerig kon word is na die Fit oorgedra en daar’s nou selfs meer ruimte as voorheen.

Kajuit en laairuim

Die jonger kopers waarop Honda mik sal waarskynlik meer beïndruk word deur die oulike kajuitafwerking, sagte materiale en ’n nuttige 9”-raakskerm vir die in­fovermaakstelsel (met Android Auto en Apple CarPlay) wat standaard op die Elegance- en Executive-variant is.

’n Trukamera is boonop standaard op alle modelle, terwyl die Hybrid ook aanpasbare kruisbeheer, outo-aanpasbare hoofstraalhulp, baanverlaatwaarskuwing en outo-remwerk in die geval van ’n naderende botsing kry.

In nabootsing van groter premiummotors is daar voorts ’n armrus tussen die voorstoele op dieselfde hoogte as die deure s’n.

Teen 298 liter vir die Hybrid en 309 liter vir die drie petrolvariante is bagasieruimte goed vir hierdie klas motor, om nie te praat van 1 200 liter as die agtersitplekke platgeslaan word nie.

’n Langer asafstand skep ook meer agterbeenruimte, terwyl dikker spons meer sitplekgemak opdis.

Bakskulp, ritgehalte en waarborge

Die gebruik van 80% meer hoësterkte-staal het boonop die bakskulp versterk.

Die rit op ’n nuwe balk-agteras met verbeterde busse is uiters goed. Insgelyks is die Fit se padhouvermoë soveel beter as die Jazz s’n.

Wat dus beïndruk is die nuweling se rigiede bakskulp, die lae windgeraas, uitstekende ritgehalte op alle soorte teer en goeie kommunikasie via die stuurwiel.

Voeg hierby die soort betroubaarheid waarvoor Honda bekend is.

Die CVT dreun steeds op hierdie soort transmissie se tipiese bekende manier, maar die Fit is nie vir motorwedrenne gebou nie. In die Hybrid werk die petrolbron ook steurend hard teen opdraandes of as jy versnel.

Weens hierdie rede, asook prys, was my gunsteling in die nuwe Fit-modelreeks die petrolvariant met Elegance-afwerking.

Alle variante bied ’n waarborg van vyf jaar/200 000 km, asook ’n versienplan van vier jaar/60 000 km.

  • Die Hybrid se waarborg op die hoë-voltbatterypak en verwante hibried-komponente word tot 8 jaar/200 000 km gerek, maar daar’s ook ’n stewige premie op hom te betaal. Pryse: Honda Fit – 1.5-i-VTEC Comfort CVT – R320 000; 1.5-i-VTEC Elegance CVT – R360 000; 1.5-i-VTEC Executive CVT – R390 000; 1.5-i-MMD e-CVT Hybrid – R470 000.
Meer oor:  Motors  |  Stuart Johnston
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.