Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Die kewer is ’n gogga wat byt!

Op Uitenhage loop die liefde vir al wat ’n Volkswagen is sterk, maar min karre roer die hartsnare soos die drie K’s - Kewers, Kombi’s en Karmann Ghias. Vra maar vir Chris en Sanita van den Heever, skryf Mariska Spoormaker.

Vreugde is . . . ’n Volla! Hierdie 1960- pêrelwit kewer, met die lapdak (ragtop) wat jy in die ry kan oopmaak, is een van Chris en Sanita van den Heever se groot gunstelinge. Foto: Heilie Combrinck

’n Gesteelde Valiant, ’n vragmotor wat ’n splinternuwe Renault 5 platgetrap het, en die buurman se skoonma – dít is hoe Chris en Sanita van den Heever die ongeneesbare Volkswagen-versamelkoors opgedoen het.

Vandag, 38 jaar later, staan daar 45 goue Volkswagen-oues onder die perdeskoenvormige afdak in die Van den Heevers se ruim agterplaas op Uitenhage: 26 Volkswagenkewers (baie met die klein agterruitjies), 15 kombi’s (’n paar met die split-voorruit) en 5 Karmann Ghias.

Die herinneringe spoel oor ’n mens wanneer jy oor dié see van voertuie kyk. Jou kinder-, tiener-, studente-, en loopbaanjare word alles saamgebondel in ’n groot Volkswagen-sak.

Chris se glimlag loop amper reg agter sy kop verby as ’n mens praat van al die goeie herinneringe.

“Ja, dít gebeur. Gee nie om in watter van die ou Volkswagens ons ry nie, daar is altyd iemand wat ons stop om te vertel waaraan die kar hulle herinner.”

Pure rygenot

Maar terug na die oorsprong van Chris en Sanita se Volkswagen-verslawing.

Chris in die 1960-kewer met die ooprol-lapdak. Die Van den Heevers het hierdie kewer-kalant ‘Nemo’ gedoop. Foto: Heilie Combrinck

“In 1982 het my pa, Gideon – hulle het in Roodepoort gebly – ’n nuwe Renault 5 gekoop. Ses weke later, op ’n Dinsdag, het ’n vragmotor met ’n besope drywer agter die stuur voor hom ingedraai en die Renault 5 afgeskryf. Op die Vrydag in dieselfde week is my pa se Valiant by ’n winkelsentrum gesteel.

“My boetie Theo praat toe met die buurman en hy (die buurman) sê: ‘Jong, my skoonma bly naby die Gustav Preller Laerskool, sy het ’n kewertjie wat sy wil verkoop. Sy wil R50 vir hom hê.’ ”

Sy pa het dié kewertjie gekoop, en almal in die gesin het baie lekker gery, vertel Chris.

“Daar is nie ’n ander kar wat soos ’n kewer ry nie. Sy reuk binnekant, sy gevoel wat jy kry, die manier wat jy inklim, hoe die ratte wissel – hy ry net soos ’n Volla.”

In daardie tyd is Chris en Sanita, mekaar se universiteits-liefdes, ook getroud en het hulle as suiwel-tegnoloë by die 14 Strome kaasfabriek op Warrenton in die Noord-Kaap begin werk.

“Op ’n dag sien ek die dieselfde model kewertjie as my pa s’n – die 1967-model met die 1300-enjin – en ek koop dit toe vir R500. Dié kewertjie was lotuswit.

Die Wolfsburgse kasteelwapen op ’n 1957-kewer. Die Volkswagenfabriek is voor die Tweede Wêreldoorlog op dié kasteel se gronde gebou. Foto: Heilie Combrinck

“Dis waar alles toe begin het.”

Chris en Sanita het by die Kewer en Karmann Ghia-klub in Bloemfontein aangesluit en sonder om te skroom die 180 km tussen Warrenton en Bloemfontein afgelê om klub-byeenkomste by te woon. Dit was nie vir hulle ’n langpad nie, dit was pure Volla-rygenot.

“By die klub het ons gesien almal het so vyf of ses kewers gehad. Nou sien jy maar kyk hierdie kewer of kyk daardie kewer en toe het ons begin versamel.”

Die bietjie-bietjie-begin

“Aan die begin het dit maar net so bietjie-bietjie gegaan, want jy moet nou eers ’n huis koop en dan moet jy ’n erf hê en dan moet jy afknyp om nog ’n kewertjie te kan koop,” vertel Chris.

Uit die 45 motors wat in sy agterplaas staan, is daar etlikes wat nog ten volle gerestoureer moet word. Die ander, wat lankal gerestoureer is, kry so elke twee, drie jaar ’n rybeurt.

’n Ry kombi’s. Van links is ’n T3 Syncro 1989, ’n T3 Kamper 1984, ’n T2 Westfalia 1969, ’n T1 Mikrobus 1957, ’n T1 Paneelwa 1959, en ’n T2 Kombi 2000L 1979. Foto: Sanita van den Heever

“As ons hom uithaal, maak ons skoon, kyk of alles reg is en daar ry ons hom.”

Die van den Heevers se “gewone” ryding is ’n 2012- waterverkoelde Volkswagenkewer.

Die 26 kewers onderdak is almal nog van die ou lugverkoelde soort. Hulle ‘geboortedatums’ wissel tussen 1951 en 1978 toe die laaste lugverkoelde VW-kewer vervaardig is.

Chris is al gewoond daaraan dat gaste hulle aan die Volksies vergaap, en elke keer verduidelik hy dan maar net weer.

“Ons het nooit gedink dit so baie sou word nie. Omdat die kewers oor so ’n lang tydperk vervaardig is, is daar soveel verskillende modelle en dan sê jy: Kom ons kyk of ons een van daardie kan kry. Sowat 30 jaar gelede het jy die kewers vir R500 gekoop of verniet gekry waar dit onder ’n boom gestaan het.

“Die groot lekkerte is die restourasiewerk, want dan moet jy kan beplan, jy moet kreatief wees om die voertuig in sy oorspronklike vorm te kry.”

’n Mens moet egter ’n “volla-speurder” van soorte wees om oor lands- én internasionale grense outentieke onderdele, buffers, stuurwiele, kopligte, armpie-uitsteek flikkerligte en so meer te kan opspoor.

Plaaslik lei dié speurtogte die Van den Heevers na interessante plekke. Sanita hou die meeste van die klein dorpies se skrootwerwe en pandjieswinkels.

“Daar kry jy omtrent altyd die dorp en sy mense se geskiedenis! Die lekkerte van hierdie Volkswagen-stokperdjie is dat jy aanhoudend die mees interessante mense ontmoet,” vertel Sanita.

Selfs die huis is propvol van Volkswagens! Sanita van den Heever wys een van die ‘uitstallings’, dié ene in die kombuis. Foto: Heilie Combrinck

‘Festina lente’ op die langpad

Deesdae is daar ook meer tyd vir hulle om na dié soort stories te luister, want Chris en Sanita is nou afgetree.

“ ’n Vroutjie van Italië wat ’n week lank by ons gebly het, was baie verbaas toe sy die woorde ‘Festina Lente’ by die Walmer-stadsaal in Port Elizabeth raaklees. Sy verduidelik toe dit is ’n bekende Italiaanse uitdrukking wat beteken ‘haas jou langsaam’.

“Net daar het ons besluit om ’n plakker met dié uitdrukking te laat maak en ons plak dit op ons 4x4 VW Kombi Syncro, want ons ‘festina lente’ wanneer ons die lang verkenningspaaie aanvat,” sê Sanita.

“Wanneer jy in ’n Beetle ry, voel dit jy moet vinnig iewers kom, maar wanneer jy in ’n kombi ry, moet dit ’n road trip wees.”

Met ’n turkoois 1972-kombi het hulle al die pad gevat na Kaap St. Francis vir chelsea buns by Le Chameleon en met die Syncro is hulle oor die Elandsrivier-grondpad na Patensie om speldekussing en proteas naby Grootrivierpoort se afdraai te gaan kyk. Met die Syncro het hulle ook oor die Montagu-pas gery tussen George en Herold en by die spoorwegbrug gestop vir padkos en koffie. Die 1975 Autovilla het hulle oor die R102 se Vanstadenspas geneem tot by Witelsbos en die padstal by Eersterivier. Vir ’n uitstappie na die St. Albans-plaasmark, en dan Maitlandmond tot by Schoenmakerskop, en lemon merinque by die Sacramento-restaurant, het hulle die 1974 Kombi-dubbelkajuit-bakkie gekies.

Wie onthou nog die ou Safari-kombi’s met voorvensters wat kan oopslaan? Die Van den Heevers is dol op hul 1957 goue oue. Foto: Heilie Combrinck

Hulle het ’n bietjie laat kombi’s begin versamel, sê Chris.

“In die begin het niemand in hulle belanggestel nie, hulle was orals op die skrootwerwe. Maar toe eendag koop ons ’n kombi vir sy enjin om dit in ’n kewer te sit – hulle het dieselfde enjins gehad – en daar kry ons kombi-koors.”

Tussen die 15 kombi’s vind jy onder meer die Safari-kombi waarvan die voorruite boontoe kan oopmaak, die dubbelkajuit “bakkie-kombi,” die Westfalia-kampkombi en dan die gesogte “split-voorruit” kombi’s wat uit die vyftiger- en sestigerjare kom.

Wanneer hulle in een van dié ou “broodblikke” die pad vat, is daar konsternasie, vertel Chris.

“In Addo neem die toeriste die ou kombi’s meer af as wat hulle die olifante afneem! Ons het al ouens gehad wat vir ons sê hulle bly in Duitsland, net so ’n entjie van waar dié kombi’s gebou is. Dan sê ek nee, dié kombi’s is ook in Suid-Afrika gebou. Hulle weet partykeer nie dat hier op Uitenhage ook ’n groot fabriek is nie. Van 31 Augustus 1951 het hulle die eerste kewers in Suid-Afrika hier gebou.”

Die vertoonkaste in die gang en ingangsportaal van Chris en Sanita van den Heever se huis staan ook vol van kombi’s en kewers. Boonop het elke model sy eie storie! Foto: Heilie Combrinck

Die Van den Heevers se oudste kewer uit die versameling van 26 is juis ’n 1951-model, die eerstes wat met regterhandstuur en lugverkoelingstelsels in Suid-Afrika gebou is.

“Ek dink daar is 14 kewers wat voor 1960 gebou is.”

Die “jongste” kewer uit die versameling kewers is die 1978-model wat die laaste in die reeks kewers was wat met lugverkoelingstelsels gebou is.

Kombi-kultus

Eenkant staan ’n helder-oranje kewer. “Dit is nou ’n kewer wat een persoon, sover ek weet, die langste gery het. Sy is Wenda Marsh, hier van Uitenhage. Sy het hierdie kar 42 jaar lank gery. Dit is ’n 1975-model . . . ’n demo-model, sy het dit in 1976 gekoop. Sy het hom ‘Chariot of Fire’ gedoop.”

Naby die Chariot of Fire staan ’n Jeans Bug, met denimsitplekoortreksels en ‘broeksakke’ agter die voorste sitplekke, ’n entjie verder ’n Lux Bug en dan nog ’n Fun Bug. Onthou jy nog die SP-kewer met sy swart strepe op die kant? Jip, die Van den Heevers het dit ook. Dis nou benewens al die kewers met die klein agterruitjies en die panic handles wat in ’n lang lus van die dak by die voorste passasier-sitplek gehang het.

Die Rooi Ridder . . . ’n 1959-‘Splittie’ wat nog ten volle gerestoureer moet word. Foto: Heilie Combrinck

Wanneer hulle die kewers restoureer, moet dit ook in hul oorspronklike kleure wees, benadruk Chris. “Fjord blue, pearl white, prairie beige, calypso coral red, flame orange, bamboo en so aan. Dieselfde geld vir die kombi’s.”

Hoewel die Volkswagenkewer ’n nimmerdooi is, blyk dit tog asof die Kombi-koors in die algemeen ook nou baie hoër is?

Chris beaam dit. “Dit raak soos ’n kultus, maar die pryse raak nou baie hoog. Sanita sê baie mense stel deesdae net vir die prys in die kombi belang, nie vir wat die voertuig self bied nie. Hierdie ouens probeer om ’n kombi so goedkoop as moontlik in die hande te kry, dan restoureer hulle en vra dan dubbel die prys.”

Gaan hulle verkoop?

“Nee,” antwoord Chris sonder huiwering. “Ons restoureer nie om te verkoop nie. Hierdie is ons lewe. Ek en Sanita kan die kewers se enjins self uithaal en insit. Ons kan ook die remme doen. Ons laat wel die bekleedsel, bakwerk en verfwerk doen, alles moet 100% wees, maar as jy ’n hoop parte hier neersit, sal ons vir jou sê wat waar pas.”

As Sanita só met enjins en karre kan werk, is sy seker nie die soort vrou wat nou met aftrede brei en koek bak nie?

As ’n mens passievol is . . .

Chris trek sy skouers kiertsregop. “Moenie jy sê nie. Kyk my hemp, kyk my broek, Sanita het dit self gemaak. Én sy hou baie van bak ook!”

Sanita luister glimlaggend.

Min mense weet dat die Karmann Ghia eintlik die kewer-sportmodel is, sê Chris, trotse eienaar van dié 1960 Karmann Ghia. Foto: Heilie Combrinck

“Sy het ook haar eie Karmann Ghia gekoop,” sê Chris. “Kom kyk.”

Hy stap verby die Jurgens Autovilla, verby twee ander Karmann Ghias, ’n “gewone” woonwa, ’n Datsun en ’n Camry. “Dié Camry,” sê Chris, “was ook een van my maatskappymotors.”

Nog net die helfte van die kombi’s, kewers en Karmann Ghias se feite en stories is vertel toe die son rooivlammend teen die hemelruim bo Uitenhage begin ondergaan.

“Kom, ons gaan drink koffie, ek het ’n quiche gemaak,” nooi Sanita.

Mariska Spoormaker
Mariska Spoormaker

In die huis begin die hele Volkswagen-verhaal toe weer van vooraf!

Kombi- en kewer-magnete teen die yskas, honderde der honderde skaalmodelle, beeldjies, boeke, tydskrifte, foto-albums, vergrote foto’s, plakkate en skilderye waarin óf ’n kewer óf ’n kombi langs bekende landskappe of bakens bygeverf is. Én ’n skildery van al die Volkswagens onder die afdak in hul agterjaart.

Die skilder is Vincent Olivier van Port Elizabeth, verduidelik Chris.

“Sy lewe lank het hy in ’n skoenfabriek gewerk. Die dag toe hy afgetree het, het hy begin skilder. Hy sê vir ons hy wou eintlik maar sy lewe lank skilder, maar hy het gevoel dit sal nie genoeg geld inbring om sy gesin te onderhou nie. Hy is nou 83 en hy skilder nog én hy gee skilderlesse.

“Jy sien? As ’n mens passievol is oor iets, val alles weg. Selfs ouderdom – dit kom sit net in die lyf, nooit in die kop nie. Jy doen navorsing, jy steek kers op by ander, jy bly interessante mense ontmoet, jy geniet jou lewe.”

Karmann Ghia

Chris sê die storie van die Karmann Ghia begin by Ben Ponn van Nederland wat voor die Tweede Wêreldoorlog ’n kontrak met Volkswagen gehad het om kewers uit te voer. 

“Hy het toe twee kewers na Amerika gevat om daar te verkoop, en hy moes dit amper vir ’n appel en ’n ei verkoop, want die Amerikaners het gesê dit is ’n simpel ding, hulle wil dit nie hê nie. Henry Ford het gesê dit is ’n ‘joke on wheels’.

“?’n Ander plan moes toe gemaak word en toevallig wou Ghia-studio’s in Italië ’n nuwe kar ontwerp. Hulle het toe ’n ou kewer gevat en die nuwe ontwerp gemaak en die Karmann-bakbouers die opdrag gegee om die kar te bou, so die Karmann Ghia was Duitse tegnologie en Italiaanse ontwerp.

“Dit is nie ’n vinnige sportmotor nie, maar hy het looks! Toe die Karmann Ghia in 1956 bekendgestel is, was dit ’n rewolusionêre ontwerp. 

“Intussen het die kewers verkoop soos soetkoek. Toe die kewer by 19 miljoen verkope die Model T Ford verbygegaan het, het Henry Ford nie meer gesê die kewer is ’n joke nie.”

Meer oor:  Veteraanmotors  |  Motors  |  Volkswagen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.