Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Dié klein Indiër verg fyn beplan
Mahindra se klein KUV100 NXT het ’n ramkat-voorkoms en is ook lekker kompak in sy afmetings.

Die opgekikkerde Mahindra KUV100 het in Oktober op die toneel verskyn. Elke man en sy hond wil deesdae ’n sportnuts aanskaf, maar is die KUV100 NXT die moeite werd?

Wat het ons hier?

Mahindra se KUV100 NXT is ’n bekostigbare mini-sportnuts wat in Indië vervaardig word. Hy het sy buiging in 2016 gemaak as die KUV100, en spog nou met ’n meer moderne voorkoms, asook meer geriefstoerusting. Ek het die turbodiesel (met ’n naam wat net ’n komitee kon uitdink, die KUV100 NXT 1.2 D75 K6+) getoets.

Hoe ry hy?

As jy kan gewoond raak aan die ratkierie wat net onder die radio sit, ry die KUV100 NXT nie sleg nie. Hy is baie sag geveer, dus gaan die slaggate jou nie te veel pla nie, maar die 14-duim-wiele is steeds te klein. Die driesilinder, 1.2-liter-dieselenjintjie is heel gewillig en grom humeurig, maar hy is nie geskik vir jaagtogte teen ’n steil bergpas op nie.

Die rathefboom sit ongemaklik hoog en teen die stuurwiel, bo in die instrumentpaneel. Die handrem is ook ’n ouskooltipe met ’n trek-hefboom soos jy in ou bakkies sal aantref.

En moenie sy neus in skerp draaie ingooi nie; die klein wiele en sagte vering (asook 17 cm-grondvryhoogte) is eerder geskik vir ’n meer ontspanne bestuurstyl.

As jy ’n haastige bestuurder is, gaan die KUV100 jou heel moontlik frustreer, maar vir normale, dag-tog-dag-ryery in die stad is daar nie pyne nie.

Die handrem is ’n bietjie van ’n irritasie; dit sit ook hier bolangs naby die rathefboom, en dis een van daardie trek-en-draai-nommers van ou, ou bakkies en nie juis iets wat baie vertroue inboesem nie.

Hoe veilig is hy?

Alle KUV’s het sluitweerremme, en die K6+-variante en boontoe het ook elektroniese remkragverspreiding. Twee lugsakke is standaard in alle modelle. Die KUV100 NXT kry ook kinderslotte agter, maar die middelste passasier agter het slegs ’n skootgordel. Die deure sluit vanself as jy wegry.

Bied hy genoeg ruimte binne?

Die KUV100 is slim ontwerp om langer passasiers met gemak te kan huisves en het genoegsame been-, kop- en elmboogruimte. Ongelukkig beteken die groot kajuit dat die kattebak effe aan die knap kant is met 243 liter, maar dis nie doodsake nie. Die K6+- en K8+- modelle word onder meer toegerus met ’n sentrale armleuning agter, en die paneelkissie is verkoelbaar. Slegs die vlagskip-K8+-modelle kry ’n raakskerm met ’n satnav-stelsel.

Wat van waarde vir geld?

Die KUV100 is goed toegerus vir sy prys, die bougehalte is op standaard, en veral die intreevlak-1.2 G80 K2+ (petrol) is baie bekostigbaar teen R137 999 – dis net so ’n raps duurder as die Renault Kwid. Maar moenie vuurwerke uit die Mahindra se 61kW/15Nm-petrol-kragbronnetjie verwag nie.

Die KUV100-dieselmodelle se grootste aantrekkingskrag lê in hoe ekonomies hulle is; selfs in swaar verkeer is verbruik onder 5,0 liter. Jy gooi R100 in en dan wys die ritrekenaar dat jou reikafstand sommer met 200 km toegeneem het!

Daar is ook ’n Power- en ’n Eco-knoppie, maar ek sou nie aanbeveel om in eko-modus te ry nie; dan is die krag eenvoudig te min.

Een ding om te onthou van motors met dieselenjins is dat hulle gereeld gediens moet word. Saam met jou KUV100 kry jy ’n darem ’n driejaar/100 000 km-waarborg.

Daar’s net genoeg pakplek agter vir ’n sagte reissak of twee.

Wat anders val in daai prysklas?

Daar is nogal heelwat om van te kies tussen R138 000 en R224 999.

Teen minder as die prys van die goedkoper diesel-KUV sal ek veel eerder vir my ’n Renault Sandero Stepway aanskaf, tensy lang mense gereeld agterin gaan ry. Die Sandero voel net meer solied op die pad en algehele bougehalte is beter.

Die KUV100 wat ek getoets het, is wel duurder as die Sandero Stepway Expression (R193 900), maar die Mahindra bied ook heelwat meer plek op die agterbank.

Noudat die nuwe Renault Kwid ABS-remme het, is hy ook meer aanloklik, maar ek sou steeds eerder spaar vir ’n goeie tweedehandse Sandero voordat ek ’n nuwe Kwid sal aanskaf.

’n Ander lieflike motortjie is die Suzuki Swift, ’n Motor van die Jaar-finalis vir 2019. Die Swift 1.2 GA kos R160 900. Of jy kan kyk na die oulike Suzuki Ignis (R176 900).

Sou ek ’n KUV100 vir my 19-jarige dogter op universiteit koop?

Hoewel die Mahindra se veiligheidstoerusting heel gaaf lyk op papier, sou ek steeds eerder ’n Renault Sandero koop (pryse begin by R179 900) of ’n Toyota Aygo (vanaf R171 900). Dis van die min motors in hierdie prysklas wat vastrapbeheer het, wat help dat die bestuurder beheer oor die voertuig behou.

Prys: Mahindra KUV100 NXT – R208 999.

Meer oor:  Ry-Indrukke  |  Motors  |  Mahindra Kuv100
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.