Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Die lang nadraai van ster se dood
Dit is Audi se opgeknapte A3-sedan wat so netjies oor die pad gly. As die agtergrond bekend lyk – dis die Kaap, ja. Audi het die hele A3-reeks (sedan, luikrug en cabriolet) se wêreldmediafoto’s in Februarie hier kom neem.

Knormoer sien die gesukkel met foutiewe lugsakke van die Takata-groep duur steeds voort.

Pas in Amerika het ’n 17-jarige meisie haar lewe verloor toe haar lugsak foutiewelik ontplooi en sy weens gepaardgaande beserings gesterf het.

Die voorval het op 31 Maart gebeur. Volgens mediaverslae het die meisie ’n Honda Civic bestuur (2002-model), wat een van die modelle was wat al in 2010 vir dié foutiewe lugsakke deur die maatskappy herroep is.

Honda sê egter in ’n verklaring die voertuig is nooit na ’n handelaar geneem om herstel te word nie.

Die probleme met Takata-lugsakke kom al ’n hele rukkie. Hoewel verskeie vervaardigers van dié Japanse groep se lugsakke gebruik gemaak het, soos Toyota onder meer, was Honda sy grootste kliënt.

Tot op hede, sê Amerikaanse nuusdienste, is daar dan alreeds elf sterftes wat direk aan dié foutiewe lugsakke gekoppel kan word. Van dié elf was tien mense in ’n Honda of Acura gewees (die weelde-arm van Honda).

In die jongste geval het die meisie by ’n rooi verkeerslig gewag toe ’n voertuig van agter in haar vasgery het. Haar lugsak het ontplooi, maar die sak het geskeur.

Skrapnel het toe deur die sak gevlieg en haar in die nek getref. Sy is op die toneel dood.

Die probleem lê by die ontploffingsmeganisme: dit ontplof te sterk, wat maak dat die sak skeur. Stukkies metaal van die bêremeganisme vlieg dan deur die lap en tref die passasier.

Knormoer het meegevoel met beide partye. Die slagoffer is onskuldig, al was daar nalatigheid om nie op ’n herroeping ag te slaan nie. Maar sulke meganismes moet ook deeglik getoets word vooraf.

DINSDAG

Pienk? Goeie keuse, Meneer

Jy, as ’n goeie middelklas-Suid-Afrikaner wat jou salaris verdien as ’n onderwyser, DStv-installeerder of nutsman, weet dit seker alreeds.

Maar ja, volgens Rolls-Royce se jongste verklaring is dit duidelik dat sakke vol geld steeds nie klas kan koop nie.

Seg Rolls die koper van ’n nuwe ryding kom toe by hul Londen-vertoonkamer ingestap met ’n T-hemp onder die blad.

Hy wil graag hê sy nuwe Rolls se leersitplekke moet in dié pienk kleur afgewerk word. Ag, en sommer ook die deurpanele, vloermatjies en instrumentpaneel. En die dak.

Natuurlik het Rolls ja gesê. Die rekening is ’n raps hoër gemaak as wat ’n gewone model jou sou kos. Maar die koper was glo inskiklik.

En net as jy sou getwyfel het: die bakwerk moes rooi wees.

Kormoer gaan nou nie sy mond te veel rek nie. Hy dra immers groen rugbykouse by sy blou kortbroek kantoor toe. Maar kwit, by Crocs en pienk sitplekke trek hy die streep.

DONDERDAG

Die spoed en die woede

Vroeër het Knormoer vertel van die hofsake wat voortgevloei het uit die tragiese dood van die Fast & Furious-filmster Paul Walker, in November 2013.

Walker het saam met sy vriend Roger Rodas in dié se Porsche Carrera GT gery met Rodas agter die stuur. Die bestuurder het “beheer oor die voertuig verloor” waarna dit ’n lamppaal getref, getol en in ’n boom vasgejaag het. Ná die tyd is bevind die Porsche-supermotor moes vinniger as 150 km/h gery het (in ’n 70-sone).

Rodas se vrou, Kristina, het Porsche hierna hof toe gesleep en gesê dit was Porsche se skuld dat die ongeluk én sterftes plaasgevind het. ’n Hof in Los Angeles het egter verlede week bevind Porsche kan nie verantwoordelik gehou word nie.

In nog ’n saak het Walker se dogter, Meadow (17), Rodas se familietrust gedagvaar vir verlies aan potensiële inkomste.

Die hof het die Rodas-trust beveel om R150 miljoen te betaal.

Knormoer sien die einde van dié hartseer verhaal is nog nie in sig nie. Meadow en Walker se pa dagvaar Porsche steeds vir die ongeluk en sterfgevalle.

Meer oor:  Toyota  |  Audi  |  Rolls Royce  |  Japan  |  Suid-Afrika  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.