Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Ouwiele
Die makgemaakte ren-Alfa
Alfa se 33 Stradale was die padvriendelike weergawe van sy ­Tipo 33, wat op Europese renbane groot sukses behaal het.

Platter as ’n pannekoek en met dáárdie glasvensters in die opwipdeure wat tot bokant jou kop strek. Ja, toe Alfa besluit het hy wil ’n supersportmotor bou, was “gewoon” nie deel van sy woordeskat nie.

In die laat 1960’s het die Italiaanse vervaardiger van vurige maar bekostigbare gesinsmotors ook fluks aan motorrenne deelgeneem.

Een van sy tóé bekende vuurwaens op die renbane was die haastige Tipo 33. Vandag lui die verhaal dat Alfa dit goedgedink het om ’n straatwaardige weergawe van dié renmotor te bou en dit as ’n droommodel, ’n stukkie onbereikbare begeerlikheid, in sy portefeulje te plaas.

’n Droommotor was dit inderdaad. Franco Scaglione is aangesê om die oop Tipo 33 in ’n straatwaardige voertuig te omskep. Vandaar dan ook die Stradale se naam: Geskik vir die pad.

Die klein tweeliterenjin kon in sommige gevalle tot bo 9 000 toere gejaag word. Danksy ’n ligte aluminiumlyf was versnelling in die liga van die kragtige Lamborghini Miuras van sy era.

Scaglione het ’n gladde, sen­suele tweedeurrenperd geskep. Die aluminiumpanele vou om die basiese raamwerk (ook aluminium) soos Sophia Loren ’n syaandrok oor die skouers sal glip.

Maar die belangrikste van alles: Die renbaanvriendelike tweeliter-V8 en sesganghandratkas is basies net so behou. Net agter die kajuit het dié klein V8 gehurk, gereed om sy frenetiese gegil op jaloerse voetgangers los te laat as jy die lepel trap dat die rooi naald verby sewe-, agt-, negeduisend toere beur.

Die V8 was dalk net sku van twee liter in slagvolume. Maar danksy ’n korter slag as wat sy boor wyd was, het die enjin toergierig geraak wanneer ook al die pad oop voor jou gestrek het.

Die aluminiumbakwerk het ’n veerligte lyf van skaars 700 kg beteken. Dus het die 170 kW en 200 Nm wringkrag min moeite gehad om hom in minder as ses tellings tot by 100 km/h te laat skiet.

Vir ’n padmotor sou hy moeilik dien, al was dit sy doel. ’n Lae grondvryhoogte, beperkte sig, geen kantspieëls nie . . . Waar hou ’n mens op?

Die sprinkaandeure met hul treffende venster­ontwerp kan duidelik gesien word. Die Stradale was op sy dag die duurste sportmotor op die mark.

Vandag lyk die goue wiele van skaars 13 duim miniatuuragtig. Maar in verhouding werk dit steeds. En daardie deure, wat soos sprinkaanbene oopvou na bo, met hul glasvensters wat omkrul tot bo jou kop. Eksoties, soos dit hoort.

Die Duitsers het die Stradale in 1967 as die vinnigste motor oor ’n staande kilometer gemeet. Sy verrigting was in die klas van Lamborghinis, Ferraris en Maseratis – wat enjins dubbel sy grootte gehad het.

Sy prys ($17 000) was ook die duurste van almal. Wat verklaar waarom eindelik slegs 18 weergawes gebou is waarvan vyf boonop aan Italiaanse bakbouers gegee is, soos Italdesign, Giugiaro, Pininfarina en Bertone.

Vandag is die Alfa 33 Stradale skaarser as ’n toeoogafspraak met, wel, Sophia Loren.

So, sou jy vandag jou hande op een kon lê, hou styf vas. Want kenners reken $10 miljoen is ’n billike prysetiket wat jy op die voorruit kan plak. Sou jy kniehoogte kon buk om dit te lees.

Meer oor:  Alfa Romeo  |  Nuwe Model  |  Sportmotor  |  Toetsbestuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.