Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Die Mission-missiel!

Hoewel Porsche se eerste e-voertuig, voorlopig met die oorspronklike konsepmodel se naam die Mission E, nog ’n goeie twee jaar het voordat hy einde 2019 markgereed hoef te wees, begin al meer kenmerke van die voertuig in die media uit te lek.

Voorlopige berigte dui op drie modelweergawes wat Porsche vir sy klein elektriese sedan beplan. Die drie modelle sal almal dieselfde elektriese motore hê, maar kragvlakke sal wissel van 300 kW in ’n basiese model, tot 400 kW vir ’n middelmodel en 500 kW vir ’n topmodel.

Dit stem ooreen met Porsche se huidige struktuur om in menige van sy reekse ’n basiese model, ’n warmer S en ’n topmodel-Turbo aan te bied.

Tans nog net ’n konsepmodel, maar Porsche is volstoom op pad om sy nuwe suiwer elektriese sportsedan, die Mission E, produksiegereed te kry.

Bespiegelings is dat die Mission E twee elektriese motors sal hê, een voor en een agter. Elke weergawe sal dus vierwielgedrewe wees. ’n Nuwe tweegang- outomatiese ratkas, spesiaal vir die motor ontwerp, sal ook van meet af in die Mission E diens doen.

Die battery sal plat in die vloer van die onderstel lê wat binneruimte ondanks sy klein afmetings steeds heel billik behoort te maak.

Met die aanvanklike drie weergawes agter die rug kan Porsche later in die Mission E se modelsiklus dit oorweeg om ’n rou, sportiewe agterwielgedrewe model na die mark te bring, asook die keuse van ’n sluitewenaar op die agteras vir sportiewe hantering.

Voorlopig behoort topmodelle egter reeds fluks genoeg vir die meeste verbruikers se smaak te wees. Porsche praat in die rigting van ’n 3.0-sekondes-versnellopie en ’n topspoed van 250 km/h. Vroeë aanduidings is dat die Mission E ’n reikafstand van 450 km kan hê, terwyl herlaaityd by ’n spesiale, hoëkragherlaaipunt slegs ’n kwartier hoef te duur om die pap battery tot 80% te herlaai.

Daar is steeds uitdagings. Dit is tans die ingenieurs se grootste probleem wat om met die opbou van hitte te maak. Hitte is nadelig vir die langdurigheid van die battery en die krag wat hy beskikbaar kan stel. Veral onder harde werking, soos wanneer jy die lepel plat trap op die snelweg, begin hitte ’n probleem word. Soos selfs met gewone verrigtingsmotors ook kan gebeur. sal die motor se blikbrein dan die voertuig in ’n beskermingsmodus sit waar slegs ’n fraksie van sy enjinkrag beskikbaar is en jy net teen ’n slakkepas kan ry. Dit nou om die enjin en battery verder te beskerm.

Porsche se ander uitdaging is wat gemaak om die voertuig gemaklik op die snelweg te laat jaag sonder dat sy battery se reikafstand eksponensieel getap word. Matige rywerk bied jou daardie billike 450 km reikafstand, maar sodra jy haastig gaan ry op die oop pad, gaan jou reikafstand skerp afneem.

Porsche se voorlopige antwoord is om aan ’n nuwe motor te werk wat met spesiale magnete toegerus is. Die magnete help glo om ’n ligter, gemakliker
roteeraksie te bied wat minder batterykrag verg om draaimomentum te behou. Op ’n lang, oop snelweg is dit ideaal.

Voorlopig word daar beplan om die nuwe Mission E tussen die Panamera en Cayenne in die portefeulje te pas – in die gesinsmandjie, dus. Die vierdeur-Panamera en sy stasiewa stalmaat, die Sport Turismo, is saam met die Cayenne-sportnuts die gesinsvriendelike Porsches. Verwag dus om enigiets van R900 000 vir ’n intreemodel op te dok, sou jy solank ’n deposito by die handelaar wil gaan plaas.

Meer oor:  Porsche  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.