Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Dié sege-lag kom met trane

’n Sjampanjeglas vol gal. ’n Geruite vlag bo-oor ’n doodskis gedrapeer. En trane van verplettering; tragedie eerder as trots.

Nie juis die soort nostalgie waarmee die 21-jarige Charles Leclerc, Ferrari-jaer van Monaco, sy debuutsege vir die Scuderia op Sondag se Belgiese Grand Prix sal wil onthou nie.

Eintlik sal hy dit verkieslik wil vergeet.

Dis wat Lewis Hamilton Sondag die heel middag op Spa gedoen het – om Ferrari se Charles Leclerc te jaag. Leclerc het die naweek sy eerste F1-sege in die Belgiese Grand Prix ingeoes. Foto: Getty Images

Leclerc en sy spanmaat, Sebastian Vettel, kon danksy die Ferrari se kragtige enjin en sleurslu aërodinamika, happe vat uit die sewe kilometer lange Spa-Francorchamps-baan in die Ar­dennes-woud se pylvakke, en sorgvry Saterdag die voorste twee wegspringposisies losjaag om die volgende dag voor die onthutsde paar Mercedesse aan te tree: hul beste kans op ’n opperste podiumposisie vanjaar.

En watter jaer is meer verdienstelik van ’n lekkie van die louere as Leclerc? Sy 2019-rapport getuig van twee voorste wegspringposisies, ongedaan gemaak deurdat versekerde oorwinnings uit sy bord gepik is in Bahrein (weens ’n enjinfout) en Oostenryk (verdagte strategie).

Ferrari het hul laaste sege 15 renne gelede in Oktober 2018 in die Amerikaanse Grand Prix geniet – en dit raak al hoe meer onverskoonbaar dat ’n motor wat vanjaar se voorseisoense toetse in Februarie oorheers het, so kon muteer tot ’n sukses-sku misskapene.

Maar agter die stuur van ’n renmotor was die laaste plek waar Charles Leclerc Sondag hom wou bevind het: 24 uur vantevore het Anthoine Hubert, sy vriend en tydgenoot, in die Formule Twee-resies op dieselfde baan verongeluk – ’n insident wat ’n swart wolk oor die res van die naweek se verrigtinge vasgebout het.

Vernaam vir Leclerc, wat onafwendbaar herinner is aan die heengaan van nog ’n vriend, Jules Bianchi, in F1 se mees onlangse noodlottige ongeluk in 2014 – gevolg deur sy eie pa se afsterwe in 2017.

Le boksombende van Leclerc, Hubert, Esteban Ocon (wat in 2020 vir Renault in F1 sal jaag) en die Toro Rosso-jaer Pierre Gasly, ken mekaar sedert 2005, toe almal hul onderskeie renloopbane begin het met die gedeelde droom om eendag F1 te haal.

Gasly het Sondag onthul dat hy vooraf vir Leclerc gevra het om die Grand Prix ter herinnering aan Hubert te wen.

En met eer, plig, voorreg en verantwoordelikheid – het Leclerc ag geslaan op Gasly se versoek: niks anders sou deug nie.

En niks sou hom kon keer nie.

Met die uitsondering van eerskomende Sondag se Italiaanse Grand Prix op Monza, waar die stuurwiel so te sê skaars gedraai word, lê geen ander baan soos Spa-Francorchamps se uitleg die ontwerpverskille tussen die Ferrari en die Mercedes so duidelik bloot nie. Die SF90 se vertrekpunt is aërodinamiese doeltreffendheid (wat meer spoed op die pylvakke lewer), terwyl die W10 die opwek van maksimale afwaartse druk (meer greep deur die draaie) prioritiseer.

By nadere beskouing hiervan is Ferrari se benadering eintlik bevraagtekenbaar, want uit die 21 bane op die F1-kalender oorheers die pylvakke-tot-draai-verhouding ten beste by slegs ’n kwart van hulle.

Montreal, waar Vettel gewen het (totdat hy gepenaliseer is omdat hy Hamilton geblokkeer het), is nog ’n buiteperdbaan; vergeleke met die spaghettibak van swenkings by Hongarye, waar die Ferrari’s vertoon het asof hulle op drie wiele gery het; en dié kontras die opmerklikste was.

Dus: as Ferrari by Spa kon seë­vier, kan hulle dit nóg makliker by Monza vermag, met die voorbehoud dat dit heel moontlik hul enigste twee oorwinnings van 2019 kan wees.

Danksy beter bandgebruik kon Mercedes egter die tyd wat hulle agter die Ferrari’s in die pylvakke verloor het, tot ’n mate deur Spa se enkele paar draaie inhaal – en was Leclerc se sneller kwalifserende tydsgaping van 0.7 sekonde tot Hamilton nie so oortreffend soos wat dit geblyk het nie. ’n F1-motor se gedrag verskil hemelsbreed tussen een kwalifiserende rondte teenoor dié van ’n volle renafstand, en soos Hamilton vanjaar al telkemale bewys het, beklink hy al hoe minder renne met brute spoed, maar instede met katvoetagtige bandverbruik.

Ten spyte van sy sigbare kragvoordeel op die pylvakke (deur Mercedes as “belaglik” beskryf), het Vettel hard gewerk om Hamilton in sy derde plek te hou – maar sodoende sy Pirelli’s ooreis.

Met ’n oorwinning wat verminder is tot wensdenkery en Leclerc reeds ’n spikkel op die horison, was al wat Vettel daarna kon doen om Hamilton vir so lank moontlik te probeer vertraag totdat sy vodde bande ’n vroeë (en later ’n tweede) kuipestop genoodsaak het, maar terselfdertyd sy spanmaat toegelaat het om ’n veilige voortou (van 6.6 sekondes tot 32 van 44 rondtes) op te bou vir wanneer Hamilton hom begin inkatrol het.

En Vettel hét – met die knaende besef in sy agterkop dat die sand in sy loopbaan se uurglas aan die loop is.

En dat die glans van die traan in Leclerc se oë ná die verloop van die naweek se hartseer gebeure ’n weerkaatsing is van die beeld van Vettel se verskietende ster daarin.

  • Die Italiaanse Grand Prix vind Sondag op Monza plaas.
Meer oor:  Motors  |  Formule 1  |  Motorsport
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.