Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Dis mos ’n Mitsu-bussie!

Dit klink of Mitsubishi die doodsklok gelui het vir sy groot Pajero.

In sy plek wil dié sukkelende Japanse vervaardiger eerder op kleiner sportnutse fokus en meer platforms met sy vennote Renault en Nissan deel in ’n poging om koste af te bring.

Mitsubishi het pas sy syfers vir die tweede kwartaal bekend gemaak en die boeke is deurtrek van die rooi ink.

Hoewel die wêreldwye impak van die Covid-19-pandemie sekerlik as rede vir die swakker verkope aangevoer kan word, sukkel die groep ook met ’n verouderde reeks produkte wat nie meer 100% die smaak van die mark verteenwoordig nie.

Die Pajero is ’n puik voorbeeld. Die bestaande model se ontwerp is al ouer as ’n dekade en word met ’n drup aan die lewe gehou.

Die dilemma vir Mitsubishi is dat die uitermate hoë koste verwant daaraan om só ’n produk nuut te ontwerp hom nog altyd laat afsien het daarvan om dit te doen. Dit maak dat die mark al hoe meer na sy mededingers kyk wanneer daar ’n nuwe sportnuts gekoop word – soos die Toyota Land Cruiser en die Nissan Patrol.

Mitsubishi se Xpander, wat vanjaar nog sy opwagting in Suid-Afrika maak. Hy herinner aan die Toyota Avanza en Rush as ’n langlyf-bussie vir die intreemark. Wat sê ’n mens van daardie hoë neus?

Sy kleiner sportnuts, die Outlander, het ook aan die agterste speen gesuig wat ontwikkelingskoste betref. In die verlede het Mitsubishi die Peugeot 4007 gebruik en hom met ’n paar kosmetiese veranderings as die Outlander aangebied.

Die nuwe plan vir die volgende paar jaar is om die bronne in die Renault-Nissan-alliansie vir dié takie te benut. Dus, die volgende Outlander gaan ’n opgewarmde Nissan X-Trail wees. Dit help Mitsubishi om in ’n sterker segment deel te neem as waarin die Pajero meeding, terwyl hy nie self al die ontwikkelingskoste hoef te dra nie. Die nuwe Outlander behoort volgende jaar reeds op die mark te wees.

Vir 2022 beplan Mitsubishi ’n nuwe Triton-bakkie, met sy sportnuts-weergawe, die Pajero Sport, wat in 2023 sal volg.

Maar ook dáár sal Mitsubi-shi die bure se hulp inroep in die gedaante van die Nissan Navara as skenkersplatform.

Die laaste groot naam in sy portefeulje is die klein ASX, wat veral in Suid-Afrika ’n sterk verkoper is. Die groep het met sy jaarresultate se aankondiging geen melding gemaak van wanneer die volgende ASX kom nie, maar ons verwag dit sal ook binne die volgende twee of drie jaar gebeur. Die leen van platforms by Nissan beteken Mitsubishi kan sy geld aan die bou van die nuwe ASX bestee.

Intussen kan Suid-Afrikaners na nóg ’n nuwe sportnuts op die markplein uitsien wanneer Mitsubishi sy Xpander later die jaar hierheen bring. Die Xpander (nie te verwar met jou traliehek nie) is ’n kompakte gesinsbussie.

Die groep is wel nog botstil oor wat die toekoms vir die klein Mirage, Mitsubishi se sakpas gesinsbuks, inhou.

Daar was groot hoop dat hy plaaslik diep spore vir die groep kan trap, maar die verkope kon nog nie vlamvat nie.

Mitsubishi het ietwat die bus verpas, aangesien Renault, Datsun en Suzuki die gaping met albei hande aangegryp het met onderskeidelik die Kwid, Go en Celerio.

Meer oor:  Mitsubishi  |  Xpander  |  Sportnuts
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.