Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Dit voel mos na Krismis met dié Santa (Fe)

Dit voel eintlik vreemd om Hyundai se jongste Santa Fe as ’n sportnuts te beskryf. Dié segment het al so omvorm dat hierdie bussies vandag eerder as, wel, ’n gesinsbus getipeer kan word.

Maar dis waar die Santa Fe sy lewe in 2001 begin het: As ’n redelik hardebaard-4x4 wat kon jaag en klouter van Kili tot Kunene.

Die nuwe Santa Fe is nou in sy vierde gedaante, en vandag se ryding is ’n netjiese gesinsbus met sitplek vir sewe mense plus nog ’n lywige laairuim agter. Prysgewys het die Hyundai-troepedraer ook al voortgemarsjeer. Maar ons voel as jy vir die intree-Premium (net onder R600 000) of die middel-Execu­tive-modelle (R659 900) gaan, jy heelwat motor vir jou rand kry.

Ons het sommer gou gewoond geraak aan Hyundai se jongste Santa Fe. Dis ’n lekker groot sportnuts, maar sy sagte kajuit en lae verbruik bied ’n permanente glimlag. Foto:Marnus Hattingh

Lig op die ’kap

Ons toetsmodel was die Execu­tive, wat basies die Jacques Kallis van die reeks is behalwe dat die topweergawe-Elite 4x4-vastrap en ’n sondak ekstra bied (plus nog ’n paar luukses). Maar as ’n iets van als, is die Executive die middel van die kolf.

Almal is met die Koreane se staatmaker-dieselenijn van 2.2-liter toegerus, en die 142 kW en 440 Nm wringkrag wat dit losdraai was heel genoegsaam vir die take wat ek die Santa Fe mee opgesaal het. Nuttig veral is dat die Santa Fe nou Hyundai se selfontwerpte agtgang- outomatiese ratkas benut, wat ’n lekker gladde en onopvallende ratskakeling gee.

Klein slukke

Op die pad val twee goed dadelik op. Eerstens is die klankdemping absoluut puik. Die kajuit is doodstil, selfs as jy luier by die verkeerslig of hard wegtrek. G’n dieselgedreun is hoorbaar nie, en op die oop pad kan jy maklik ’n gesprek in die kajuit voer.

Die tweede ding wat opgeval het, is die dieselenjin se lae brandstofverbruik. Ek het oor tien dae maklik ’n syfer van 6,2 liter gehandhaaf op die oop pad. Vir ’n groot bus is dit goed.

Ek het die Santa Fe geniet. Dis glad nie meer ’n winskoop-sportnuts nie, en ook net die topmodel is deesdae ’n 4x4. Maar ek vermoed dié ryding gaan in 2019 meestal net vir rondryery in die stad en ’n langnaweek na die platteland gebruik word.

Lang lys toerusting

Die res van die passasiers sal die Hyundai-bus net so gerieflik vind, vermoed ek. ’n Effe langer asafstand in dié jongste model beteken daar is 4 cm meer beenruimte agter. Die sitplekke is ook ’n aks hoër gemaak, wat gerief en gemak op die langpad sal aanhelp. Die voorste sitplekke is albei elektries verstelbaar.

My model was toegerus met ’n trukamera (’n moet-hê vir so ’n groot sportnuts as jy in parkeergarages tussen pilare moet inwurm) en gonsers. Daar was ook ’n blindekol-flikkerlig wat waarsku sou jy van baan wou verwissel en iemand is in jou blindekol.

Die inligtingskerm (’n raakskerm-eenheid wat jy met die vingerpunt beheer) sit nou bo-op die instrumentpaneel, en lyk vir my beter as met die vorige model.

Groot ikone beteken jy kan in ’n kits tussen skerms navigeer, en belangrik, daar is ook ’n aparte radio- en media-skakelaar om blitsig tussen jou musiekstokkie en die draadloos te verwissel.

Die bekleedsel is als swart leer wat deftig voel (saam met die sagte oppervlakke van die instrumentpaneel en by die deure), maar raak straks ’n bietjie somber ná ’n wyle.

Slotsom

Ek het die Santa Fe geniet. Dis glad nie meer ’n winskoop-sportnuts nie, en ook net die topmodel is deesdae ’n 4x4. Maar ek vermoed dié ryding gaan in 2019 meestal net vir rondryery in die stad en ’n langnaweek na die platteland gebruik word.

Sy lae verbruik, lekker kragtige dieselenjin en stil kajuit het opgeval, en die afwerkings en oppervlakke voel als heel deftig. Jip, ’n mens kan hom aanbeveel.

  • Prys: Hyundai Santa Fe Executive – R659 900.
Meer oor:  Hyundai  |  Nuwe Model  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.