Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
Drama en euforie – Dakar in Arabië bied als

Vanjaar se Dakar-veldtydren word weer eens – soos dit maar altyd met die Dakar is – deur talle hoogte- en laagtepunte en persoonlike staaltjies van uithouvermoë, terugslae en oorwinnings gekenmerk.

Fernando Alonso het verrassend goed gevaar in sy eerste Dakar deur voortdurend op die hakke van die voorlopers te bly in sy SA geboude Toyota Hilux. Foto’s:Reuters

Die 2020-weergawe van die wêreld se moeilikste motorsport­ren, wat die eerste keer in die Midde-Ooste plaasgevind het nadat dit eers in Afrika en toe in Suid-Amerika aangebied is, het reeds talle verskillende wenners in elk van sy vyf afdelings – motors, motorfietse, vragmotors, vierwielmotorfietse en die sogenaamde motorfietsmotors (side-by-sides) – gehad.

In die afdelings waar Suid-Afrika hoofsaaklik verteenwoordig word, is dit egter veel meer as net die Toyota-renspan wat daagliks in die nuus is. Die dood van die Portugese motorfietsjaer Paulo Gonçalves tydens Sondag se sneltrajek 7, het ’n demper op die ren geplaas – só erg dat die motorfietse en vierwielers se skofte vir Maandag afgelas is.

Vanjaar se Dakar was egter van die eerste dag af in ’n klas van sy eie.

Die Suider-Afrikaanse verbintenis begin by Giniel de Villiers van Stellenbosch in een van die vier Toyota Hilux’e wat vir die Toyota Gazoo-renspan in Suid-Afrika gebou is. Daarbenewens het ’n Century-buisraammotor, wat plaaslik deur Mark Corbett gebou is, ook sy merk gemaak.

’n Groot slag het die motorfietsafdeling getref toe die Portugese jaer Paulo Gonçalves tydens Sondag se skof noodlottig verongeluk het.

Benewens De Villiers verskyn die name van twee Suid-Afrikaanse vrouejaers steeds elke dag bestendig op die lys uitslae.

Kirsten Landman en Taye Perry, die eerste vroue uit Afrika wat aan dié ikoniese ren deelneem, was aan die einde van gister se negende sneltrajek onderskeidelik 58ste en 54de.

Hennie de Klerk en Johann Smalberger van Pretoria, die privaat inskrywing wat in ’n Nissan Navara jaag, het elke dag verbeter en was Maandag nog 31ste algeheel, maar later in die week het hulle begin tyd verloor.

Die hoogtepunt van De Villiers, die wenner van die eerste Dakar-ren in Suid-Amerika in 2009 nadat die ren in 2008 weens terreur en politieke onrus in die noorde van Afrika afgelas is, was sy skofsege verlede Maandag.

De Villiers en sy nuwe navigator, Alex Haro van Spanje, het 14de weggespring, maar korte mette van hul teenstanders gemaak, onder wie die ver- rassende dag 1-wenner Vaidotas Zala in ’n Mini, wat daarna in die stof verdwyn het; die amptelike “Mnr. Dakar”, Stéphane Peterhansel, wat behalwe die ren in 1994 nog aan elke Dakar-ren van 1988 tot nou deelgeneem en 13 keer (eers op ’n motorfiets en toe op vier wiele) gewen het; Carlos Sainz, wat die voortou van sneltrajek 3 af oorgeneem het en tot gister nog die voorloper was; Orlando Terranova (Mini 4x4); Mathieu Serradori in die Suid-Afrikaans geboude Century; en Yazeed Al-Rajhi in ’n ouer Suid-Afrikaans geboude Toyota Hilux.

Daarna het Sainz sneltrajekte 3, 5 en 7 gewen; Peterhansel 4 en 6 en Serradori sneltrajek 8, terwyl Peterhansel weer gister se sneltrajek 9 beklink het.

Sainz was dus teen die middel van die week steeds algeheel voor, met Nasser Al-Attiyah ná gister se tweede plek nou net 24 sekondes agter hom. De Villiers en Bernhard ten Brinke is steeds sesde en sewende algeheel.

Die landskap in vanjaar se Arabiese ren was verstommend, wat tot die visuele skouspel bygedra het. Hier jaag die Argentyn Orlando Terranova in sy Mini deur ’n klein canyon.

Wat die tweewieljaers betref, het die verdedigende kampioen, Toby Price, sy en KTM se stempel in sneltrajek 1 afgedwing, maar Botswana se Ross Branch (wat al verskeie titels in SA veldfietsrenne ingeoes het) het in sneltrajek 2 in De Villiers se spore gevolg en sy KTM verrassend eerste oor die wenstreep gestuur.

Daarna het die Amerikaanse jaer Ricky Brabec sy kop laag gehou en sneltrajek 3 op sy Honda gewen.

Honda se Jose Florimo het dag 4 beklink, waarna KTM met Price se oorwinning in sneltrajek 5 die kollig teruggeëis het.

Brabec en sy Honda-spanmaat Kevin Benavides het egter sneltrajekte 6 en 7 verower voordat die agtste sneltrajek Maandag afgelas is.

Die motorfietse het gister voortgejaag en Pablo Quintanilla (Husqvarna) het sneltrajek 9 gewen.

Vrouejaers

Die twee SA vrouejaers Perry en Landman het van dag 1 af bestendig gevorder. Perry was aan die einde van die dag gister algeheel 56ste, terwyl Landman 62ste was.

Die motorfietsmotors het ook ’n SA verbintenis gehad met die Switsers gesetelde Mike Horn (wat in SA gebore is) in die navigatorsitplek langs die Dakar-veteraan Cyril Despres, wat Maandag onttrek het toe hulle algeheel vierde was. Die Amerika-ners Casey Currie en Sean Berriman is algeheel voor terwyl Conrad Rautenbach van Zimbabwe (seun van Billy Rautenbach, wat destyds Hyundai na die land gebring het, maar toe onder ’n wolk die land verlaat het) nog vierde algeheel is.

Die Russiese Kamaz-vragmotor van Andrey Karginov, Andrey Mokeev en Igor Leonov is voor in die afdeling vir vragmotors.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.