Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Motors
E-voertuie maak stem dik
BMW se nuwe Z4 – tegnies hier slegs in konsepmodel-formaat – het ook sy Europese buiging gemaak. Hy is vroeër reeds by die Pebble Beach Concourse in Amerika gewys.

Oor ’n dekade of vier sal ons sekerlik na vandag terugkyk en besef dit was ’n oorgangsfase.

’n Punt tussen twee duidelike haltes in die motorgeskiedenis: Motorvervoer soos ons dit nog altyd geken het, en ’n nuwe paradigma waar die mens al minder in die voertuig betrokke is en blikbreine en algoritmes jou rit bepaal.

Dit was in hierdie luim wat die Frankfurtse Motorskou homself bevind het. Met elke groot doek-oplig-oomblik, te midde van flitsende ligte en kamma-rook, was die boodskap van die aangewese baadjiedraer dieselfde.

Ons is reg vir die tegno-toekoms. Hier is ons nuwe elektriese voertuig.

Maar kyk daar links. Daar staan ons 14 gewone voertuie, steeds.

Die bewustheid van ’n e-toekoms was dus daar. Maar alle smake is tevrede gestel.

Honda se ougat-stadsmotortjie, die suiwer elektriese Urban EV, was een van die gewildste voertuie op vanjaar se skou. Foto’s: Marnus Hattingh

Hoogtepunt

Ons gunstelingvoertuig by vanjaar se uitstalling was Honda se ougat Urban EV, ’n elektriese ryding vir die stad, soos sy naam sê.

Vervaardigers sukkel om te besluit hoe ’n e-voertuig moet lyk: tradisioneel, ’n moderne interpretasie, of iets eksoties. Die Urban EV volg eersgenoemde roete.

Hy herinner aan die Golf I en lyk dus dadelik bekend.

Dit is ook ’n kopknik vir die besef dat elektriese voertuie nog ’n geruime tyd suiwer stadsvoertuie gaan wees.

Daarom die wipstert, kompakte afmetings waarvan die jong latte sal hou.

BMW se nuwe 6-Reeks GT is die opvolger vir die ou 5-Reeks GT. Die profiel is nou veel beter danksy ’n laer dak en langer stert.
Hyundai het ’n Golf GTI-mededinger op Europa losgelaat. Sy nuwe i30 N (vir die Koreaanse stad Nandan, waar sy afdeling vir hoëverrigtingsmotors voortaan gesetel sal wees) het nes die GTI ook ’n 2.0-liter-turbo onder die neus.

BMW

Die Duitse vervaardiger het ’n sterk aanbod gehad. Sy nuwe 6 GT is die tweedegeslag-5 GT, nou net met ’n slanker profiel. Die nuweling met sy mooier, sportiewer voorkoms behoort heelwat beter op die verkoopsvloer te vaar.

Die groep het ook sy nuwe X3 gewys, asook ’n ekstragroot sportnuts, die X7 (in konsepmodel-formaat, maar die nuwe sewesitplek-sportnuts is basies markgereed soos hy daar staan).

Hyundai

Die Koreaanse groep se Kona, ’n kompakte sportnuts, het heelwat belangstelling gelok. Die knaap is mooi, het die regte proporsies en sal ’n treffer wees in dié gewilde segment.

Langs die Kona was twee stalgenote van die i30-luikrug: die i30 N en ’n i30-“fastback”. Laasgenoemde gaan gelukkig nie na Suid-Afrika kom nie.

Hyundai het gesien hoe min aftrek die Chev Cruize-luikrug hier gekry het, en het dus wyslik hierteen besluit.

Die i30 N is wel op pad na ons. Dit is die groep se mededinger vir die Golf GTI en ry met ’n 2.0-liter-turbo.

Die voorkoms is matig aangepas van die gewone i30, wat vir sommige ’n teleurstelling kan wees.

Suzuki

Die Japanse vervaardiger het vandag ’n falanks mini-voertuie en by die skou is nog een gewys.

Die nuwegeslag-Swift Sport het by Frankfurt sy buiging gemaak en hy volg basies die resep van sy voorganger.

Daar is klein visuele aanpassings teenoor die gewone model, en onder die enjinkap is ’n nuwe turbogedrewe 1.4-liter-enjin.

Vanjaar is Opel se oorgangsjaar nadat hy vroeër aan Peugeot verkoop is. Dit was te verstane dat sy uitstalruimte redelik bedruk en leër as ander groepe s’n was.

Opel

Vanjaar is Opel se oorgangsjaar nadat hy vroeër aan Peugeot verkoop is. Dit was te verstane dat sy uitstalruimte redelik bedruk en leër as ander groepe s’n was.

Twee nuwe modelle (reeds vroeër al ontwikkel) het wel hul buiging gemaak: die Crossland X en Grandland X.

Eersgenoemde is ’n kompakte sportnuts wat die ou Mokka vervang, terwyl die tweede model ’n groter stalmaat is, soos die naam suggereer.

Basies dieselfde roete as wat Nissan met sy Qashqai en ietwat groter X-Trail deesdae volg.

Die voertuie lyk goed – bekwaam vir grondpad ry en sypaadjies klim, maar sonder om te oordadige stilering te hê soos ’n Nissan Juke of Toyota CH-R.

Die Fiesta ST is glad nie so stemmig soos byvoorbeeld die i30N nie.

Ford

Die Amerikaanse reus het benewens ’n paar GT40’s ook die jongste Fiesta ST uitgestal.

Daar skuil ’n 1.6-liter-turbo onder die neus vir die nodige woema, maar ons is veral tevrede met Ford se goeie balans van ’n warm enjin onder die enjinkap en ’n warm voorkoms buitelangs.

Die Fiesta ST is glad nie so stemmig soos byvoorbeeld die i30N nie.

Audi se grootbaas, Rupert Stadler, verduidelik watter selfrytegnologie als in sy Aicon-konsepmodel vervat is. Selfrymotors, en elektriese aandrywing, was die kerntemas by vanjaar se motorskou in Duitsland. Foto: Reuters

Audi

Uit Ingolstadt was daar weer ’n luikrug-konsepmodel van ’n toekomstige e-voertuig, die Elaine. Maar dit wil voorkom of Audi nie kan besluit presies hoe sy toekomstige produk moet lyk nie.

By elke skou wys hy ’n nuwe weergawe van hom.

Daar was wel ’n ander gawe konsepmodel op die Audi-uitstalruimte, die Aicon.

Die voorkoms is suiwer dagdromery, ’n plat sportmotor met elektriese aandrywing.

Maar wat wel van belang is, is sy selfrytegnologie onder die vel vervat.

Dieter Zetsche, grootbaas van Mercedes, was duidelik trots op sy nuwe supermotor, die Project One. Foto: Reuters

Mercedes

Een van die grootste gesprekspunte by vanjaar se skou was Mercedes se nuwe supermotor, die Project One.

Die groep beskryf dit as ’n padvriendelike Formule 1-motor. Die enjin is afgelei uit wat Lewis Hamilton ry, met daarby gevoeg nog vier elektriese motors (drie vir aandrywing, een om die enjin se turbo gouer aan te jaag).

Straks meer van toepassing was Merc se nuwe EQA, sy kompakte e-voertuig. Onthou, Mercedes gaan al sy nuwe elektriese voertuie onder die naam EQ laat resorteer.

Die A-agtervoegsel dui daarop dat dit ’n klein stadsmotor sal wees.

Daar gaan later ook ’n kompakte sportnuts bykom.

Die T-Roc, VW se jongste mini-sportnuts, is markgereed en eersdaags ook by jou plaaslike handelaar. Foto: Reuters

Volkswagen

I.D. gaan die Wolfsburgse vervaardiger se handelsmerk vir sy nuwe e-voertuie wees. Die groep se voetwerk is flink: by die skou het hy ’n luikrug (I.D.), ’n bussie (I.D. Buzz) en sportnuts gewys (I.D. Crozz).

Dit is ’n slim aanslag en ons reken hy dek hiermee al sy opsies in die onmiddellike toekoms.

Vir tradisionele smaak sal sy nuwe Polo beslis die mond laat water. Die luikrug lyk selfs treffender as die bestaande, gewilde model.

Hierdie keer is die binneruim ook baie beter.

Ons verwag hy gaan die mark hard tref vroeg volgende jaar.

Meer oor:  Ford  |  Audi  |  Opel  |  Mercedes Benz  |  Volkswagen  |  Hyundai  |  Bmw  |  Suzuki  |  Bekendstelling  |  Motors
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.